Friday, February 1, 2008

Boodskap uit die hart:

“Mensekind. Ek ken jou al baie lank, en ek ken jou baie goed. Ek
is die Liefde wat binne jou woon. Wanneer jy Liefde voel, dan is
ek in jou en by jou. Ek is Liefde en bestaan vir ewig, en ek het
jou al geken lank voordat jy op die aarde gebore is. Uit Liefde
wat volmaak is, en veel groter is as wat jy nou kan begryp, is jy
geskape. Liefde bring altyd meer liefde voort, daarom is jy
geskape as ‘n kosbare kind waarin Liefde kan leef, meer kan
word, en waarvandaan meer liefde uitgestraal kan word. Liefde is
skeppend, en skep met volmaakte wysheid. Liefde kan net goed
voortbring, daarom is jou uiteindelike doel goed. Jy is geskape
met ‘n hoër doel, jy het ‘n belangrike roeping om te vervul vanuit
die perspektief van die ewigheid.
Jy het al baie dinge hier in die leerskool van die aarde ondervind.
Baie dinge wat jou soms gelukkig en soms baie ongelukkig
gemaak het. Ek weet van alles, van elke gevoel, elke gedagte en
elke optrede. Ek weet van die swaar, ek weet van jou pyn en
hartseer. Om Liefde waarlik te leer ken, moes jy tydelik ook die
teenoorgestelde van liefde ervaar. Om waarlik ‘n vrye kind van
die Liefde te word, kry jy die kans om self te kies. Op die aarde
laat ek twee pole toe, Lig en liefde, en my teenoorgestelde, wat
duisternis, oordeel, haat en vrees is. Hier kry jy kans om alles te
ervaar en self te kies. Ek vra jou om na my te kom. Kies liefde,
en jy kies lewe. Jy kan my nie sien nie, maar jy kan my in jou
hart, in jou emosies voel wanneer jy sagmoedig is. Jy kan my in
jou hart hoor wanneer jy baie stil is en met jou hart luister.
Jy kan liefde ervaar en vergroot in jou hart wanneer jy jou naaste
help. ‘n Liefdevolle gebaar van hulp of ondersteuning aan
diegene wat om jou is en oor jou pad kom, is die beste manier
om liefde binne jouself op te wek.
Daar is ‘n eevoudige gebod gegee wat jou sal lei op die pad na
jou saligwording. Ek is die enigste Vader van alles wat bestaan,
en vir My moet jy liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou
hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Jy moet niemand of niks anders aanbid en aanroep nie, maar
slegs vir My. Tog is daar baie wat ander gode aanbid,
selfgemaakte wêreldse gode in hul soeke na eie mag.
Wanneer daar hoogmoed, selfsug, oneerlikheid, onreg,
verknogtheid aan die aardse besittings en aan aardse genot in
jou is, kan Ek nie in My volmaaktheid en volheid by jou wees nie.
Wanneer sagmoedigheid, nederigheid, verdraagsaamheid,
geduld, opregtheid, mededeelsaamheid en regverdigheid in jou
is, dan kan Ek in My volmaaktheid en volheid in jou en by jou
wees. Hoe meer liefde jy dan in jou hart het en gee, hoe meer sal
jy ontvang.
Maak jou hart en gemoed skoon van dit wat jou weghou van
liefde af. Jou ingebore kompas, jou gewete, sal vir jou aandui
wat jy moet regstel, oorweeg net alle aspekte van jou lewe baie
mooi, en meet dit aan My gebod. Jy het ‘n baie groot geskenk
ontvang, groter as wat jy nou kan besef. Jy het die geleentheid
om volwaardig My kind te wees, om te deel in alles wat Ek het.
Ek is die liefde wat elke sel in jou liggaam aan die lewe hou, Ek
is die Liefde waaruit jou kosbare siel voortgespruit het, en Ek gee
hierdie geskenk van lewe aan jou. Neem dit in liefde aan, soos
wat ek dit in Liefde gee.
Ek deurdring alles.
Ek is baie naby aan jou. Ek is die Een wat in jou hart, jou diepe
emosionele wese is. Ek is die Een wat nou deur jou oë na die
wêreld kyk. Ek is oneindig lief vir jou met My volmaakte liefde, en
niks sal dit ooit verander nie.”
Amen

Met dank aan my vriend Ernst

2 comments:

Anonymous said...

Dankie vir die inspirerende boodskap... ek was gelei om dit juis vandag te lees.
Groete

Anonymous said...

Baie dankie, die boodskap het regtig baie beteken vir my, Die Here het my op die manier benader en ek sal dit uit leef..
Groete