Wednesday, January 30, 2008

Gebed van die Siel

O my Hemelse Vader, hoor my opregte gebed.
Ek weet dat leë lippetaal vir U niks beteken nie, maar net die opregte emosies en gevoel in die hart van my siel.
Ek dra nou die volgende gevoelens in my hart aan u oor terwyl ek dit met my verstand verwoord.
Dankie vir lewe.
Dankie vir liefde.
Uit my diepste sielwese eer ek U en erken ek U as die enigste Skepper van die Hemel en die Aarde.
Dankie vir U geduld met my.
Ek was verlore, en U het My gered.
U het nooit ingemeng met My wil nie, want U het ‘n vrye wil vir my geskenk saam met die geskenk van lewe.
U laat toe dat ek my eie foute maak, en deur praktiese ervaring geskool word tot die regte insig volgens U orde, wat apart gestel is en heilig is, en nie van die wêreld is nie.
U laat toe dat ek self, deur my eie fisiese en emosionele ervarings, leer van sagmoedigheid, nederigheid, geduld, respek, regverdigheid, opregtheid, geduld, hoop, geloof, en liefde - al die elemente wat ek moet leer om my siel van die gedoemde wêreld te bevry.
Ek dank U vir elke les. Hoe swaar dit ookal soms is, is dit niks in vergelyking met die waarde van die ewige lewe vir my siel nie.
Skenk my asseblief die insig om nie bekommerd te wees oor die oorlewing van my vleeslike liggaam nie, maar skenk my asseblief ook die krag, wysheid en geduld om met verdraagsaamheid
regdeur elke probleem of krisis te gaan, en daaruit vir my siel die lewegewende lesse te haal wat nodig is vir ware lewe.
Dankie dat U die regte leer vir ons hier op aarde gebring het, en dat U ons reeds vrygekoop het van die juk van oordeel en straf.
Lei ook vir ons om diegene wat U leer nog nie aangeneem het nie, behulpsaam te wees wanneer hulle met woorde of ook sonder woorde daarvoor vra.
Ek is my lewe, my alles, aan U alleen verskuldig.
Help my asseblief om waardig U kind te wees volgens U orde.
Die liefde teenoor U wat ek nou in my hart voel, verkwik my soos ‘n klein kind wat sagkens deur sy ouer se arms vasgehou en toegevou word en veilig en geborge en gelukkig is.
Dit verkwik my soos ‘n plant wat eens in ‘n lang droogte was, en nou U sagte reën op hom voel, en wat met lewenskragtigheid na bo uitspruit.
Deurdring asseblief my siel met U kosbare Liefdeslig.
Laat U gees in my opgewek word volgens U wil, en steeds meer my siel deurskyn met U liefde en waarheid en wysheid.
U is my alfa en my omega, my begin en my einde.
Ek rig my volle aandag op U hier in my hart, hier diep binne-in my diepste gevoel.
Ek eer U.
Leer my, o Vader.
Laat die gedagtes wat in my ontspring, volgens U wil wees.
Laat ek dit herken as U wil, en skenk my wysheid en insig en lewenskrag volgens U wil en U
ewige orde.
As dit U wil is, laat my toe om U dienaar te wees.
Lei my om U liefde en boodskap met woord en daad te bring aan my naaste, sodat ek hulle kan help volgens U wil.
Vergewe asseblief my swakhede, en help my om dit te oorkom.
Laat my groei om ‘n volwaardige kind van U te wees, sodat ek sterk en standvastig ook my wil, gelyk aan U wil, kan aanwend in U skeppingsplan.
Liewe Vader, dankie vir alles.
Laat U wil geskied.

Amen

(Met dank aan my vriend Ernst)

No comments: