Monday, May 27, 2013

Die Olifant en die Vlieg






Die leermeester en sy leerling het deur die woud gewandel. Die leerling was onsteld weens die feit dat sy gedagtes in voortdurende konflik was.

Hy vra sy leermeester, “Hoekom is dit dat die meeste mense se gedagtes rusteloos is en nie  reik  na dit wat  goed en suiwer is nie? Slegs ‘n paar besit ‘n gedagte gang wat kalm en suiwer is. Wat kan mens doen om die gedagtes te kalmeer en te laat stil word in suiwer oordenkinge?”

Die leermeester kyk na sy leerling, glimlag vir hom en sê, “Ek sal jou ‘n storie vertel. ‘n Olifant het by die boom gestaan en van die heerlike blare gepluk om aan te smul. ‘n Klein vliegie kom daar aangevlieg en vlieg en buzzz hier in die olifant se oor. Die olifant waai die vlieg weg met sy groot flap ore. Na ‘n paar oomblikke is die vlieg weer terug en die olifant verdryf die vlieg weereens.”

Die gebeure het ‘n hele paar keer plaasgevind. Toe vra die olifant vir die vlieg, “Waarom is jy so rusteloos en raserig? Hoekom kan jy nie vir ‘n wyle op een plek stil sit nie?”

Die vlieg antwoord: “Ek word aangetrek na alles wat ek sien, ruik, proe, voel of hoor. My vyf sintuie trek my voortdurende in verskillende rigtings en ek kan hulle nie weerstaan nie. Wat is jou geheim? Hoe kan jy so lank kalm en stil wees?”

Die olifant hou op om te eet en sê: “My vyf sintuie regeer nie my aandagspan nie. Wat ek ookal doen, ek wei my volle aandag daaraan. Nou dat ek eet, is ek totaal toegewei aan my etery. Op die manier kan ek my kos geniet en is dit lekker om te eet. Ek regeer en beheer my aandagspan en nie andersom nie.”

By die aanhoor van die woorde van die wyse ou leermeester verhelder die leerling se oë en ‘n glimlag verskyn op sy gesig. Hy kyk na sy leermeester en sê, “Ek verstaan! Indien my vyf sintuie in beheer is van my verstand en aandag, dan is my gedagtes in voortdurende konflik en rusteloosheid gedompel. Wanneer ek in beheer is van my vyf sintuie en aandag, dan word my verstand en gedagtes kalm."


“Ja, dit is korrek.” antwoord die leermeester, “Die verstand en gedagtes is rusteloos en gaan waarookal die aandag is. Beheer jou aandag en jy beheer jou verstand en gedagtes.”