Wednesday, March 31, 2010

Pos Omskrywing van 'n Ma


Posbenaming:

Ma, Mammie, Moeder, Moekie, Moeksie, Ag Maaaaaa!

Pos Beskrywing:

Hierdie langtermyn posisie is slegs vir persone met uitnemende, dinamiese persoonlikhede. Die pos is permanent en om die minste te sê, uiters uitdagend en ook is die pos van lewenslange aard. Werksomgewing is stimulerend en gewoonlik meer as net ‘n bietjie chaoties.

Suksesvolle kandidate moet gemaklik in 'n span omgewing kan werk en moet beskik oor uitmuntende kommunikasie en organiserings vaardighede. Moet bereid wees om fleksie ure te werk en sal ook op kort kennisgewing oortyd moet kan werk.
Die posisie kan ook vereis dat jy aande, naweke en selfs 24 uur beskikbaar moet wees.

Somtyds kan van jou verwag word om ritte te onderneem na primitiewe kampterreine, en ook om eindelose sportbyeenkomste by te woon. Daar kan ook van jou verwag word om op te tree as 'n koerierdiens. Vir bogenoemde pligte en ander wat nie hier genoem word maar vereis dat u u voertuig moet gebruik word geen vervoer of brandstof toelaag ingesluit nie.

Verantwoordelikhede:

Vir die res van jou lewe moet jy gewillig wees om soms gehaat te word, ten minste tydelik, of slegs totdat iemand 'n R50 nodig het of miskien die motor moet leen. Moet geoefen wees in die kuns om op jou tande te kan byt. Hare op jou tande kan tel as 'n ekstra bonus!

Die suksesvolle kandidaat moet ook beskik oor die fisieke stamina van 'n pakdonkie en moet ook van 0 tot 60 kilometer per uur kan versnel in onder 3 sekondes, net vir ingeval die geskree in die agterplaas hierdie keer 'n ware noodkreet is.

Moet ook verkieslik tegniese aangelê wees, maar is nie 'n voorvereiste nie, om allerlei klein elektroniese speelgoed reg te maak en nie werkende elektroniese apparate te ondersoek.
Indien u reeds vertroud is met risiko bestuur sal dit tot u voordeel wees.
Die suksesvolle kandidaat sal eventueel oproepe moet kan sif, kalenders in stand kan hou, tuiswerk projekte kan behartig, en halfvoltooide skoolprojekte kan voltooi.

Moet ook die vermoë beskik om sosiale byeenkomste te kan beplan, organiseer en reguleer vir kliënte van alle ouderdomsgroepe. Moet gewillig wees om onmisbaar te wees een oomblik en 'n totale verleentheid die volgende.

Moet altyd hoop vir die beste maar voorbereid wees op die ergste. Moet algehele verantwoordelikheid kan aanvaar vir die kwaliteit van die eindproduk. Verantwoordelikhede sluit ook in vloerbestuurder, skoonmaker, drywer, loodgieter, dokter, sielkundige, kok, bottelwasser,ens.

Moontlikhede vir Bevordering:

Geen !!!
Daar word van jou verwag om in dieselfde posisie te bly vir die res van jou lewe, vir altyd en sonder om te kla! Jy sal deurlopend jou vaardighede moet verskerp en aanpas, sodat die wat in jou sorg is jou uiteindelik kan ontgroei!

Vorige Ondervinding:

Geen !!!
In diens opleiding op 'n gereelde, nimmereindigende, emosioneel uitputtende basis word gratis verskaf.

Toelaes en Vergoeding:

Watse toelae?!

Jy betaal hulle!

Die aanbied van gereelde verhogings (sakgeld), bonusse, belonings en lenings is 'n vereiste. 'n Laaste Ballon paaiement vir wanneer jou kliënt 18 of 21 word, is veronderstel om die laaste bonus te wees - want die idee is dat 'n voertuig hulle sal help om finansiëel onafhanklik te raak.

Wanneer jy afsterf gee jy hulle alles wat miskien nog oor mag wees. Die interresantste gedeelte van die agterstevoor betaalopsie is dat jy die hele proses gaan geniet en soms gaan wens dat jy nog soveel meer kan gee. Glo dit of nie, maar jy gaan ook nog wens jy kan meer doen!

Voordele:

Alhoewel die pos geen mediese skema, geen pensioen en geen terugbetalings van enige aard insluit nie voorsien dit jou van onbeperkte geleenthede vir persoonlike groei. Die posisie verseker jou van die geleentheid om onvoorwaardelik lief te hê, so ook onvoorwaarlike liefde terug te ontvang.

As 'n bonus word gratis drukkies en soentjies vir die res van jou lewe ingesluit (as jy jou kaarte mooi speel).

Monday, March 29, 2010

Pasga Seën en Skuld


Gisteraand het ons weer die Pasga gevier soos Vader vir ons bepaal het in
Levitikus 23 met die ongesuurde brood en wyn.
Watter wonderlike ervaring is dit nie elke keer om te deel in die verlossings gawe wat Yahshua ons bied deur Sy bloed wat Hy vir ons gestort het aan die folterpaal nie. Die ongesuurde brood wat Sy gebreekte liggaam verteenwoordig wat vir ons geoffer is tot versoening van ons sondes.
Die verhaal van die verlossing vanuit Egipte en die beloofde seëninge wat wag vir die volk. (mits hulle gehoorsaam sou wees)

Maar helaas is dit die suurdeeg (sonde) wat ons ontneem om te deel in die heerlike beloftes van Vader. Die Pasga en die Week van Ongesuurde Brode word gekenmerk deur die onthouding van enige produk wat suurdeeg bevat.

Tydens die Pasga moet ons onsself ondersoek, ons moet soek na die suurdeeg in ons huis (ons moet soek na die sonde in ons lewe) en ons moet daarvan ontslae raak, ons moet dit bely en laat staan.

Maar wat doen die suurdeeg dan aan ons? Laat ons so vinnig kyk wat gebeur met suurdeeg wanneer dit in die deeg is. Dit laat die deeg rys vanweë die gas wat die suurdeeg vorm en die gas word as lug borrels in die deeg vasgevang.
So het die suurdeeg (sonde) dieselfde effek in ons lewens, dit maak ons opgeblase van eie waan, eie liefde en hoogmoedigheid.

Dit maak van ons iets wat nie bruikbaar is vir die Koninkryk van die Almagtige nie en omdat ons gevul is met die sonde is daar nie plek vir Vader in ons hart nie.

Suurdeeg kan nie uit die deeg verwyder word nie, die enigste oplossing is ’n nuwe deegmengsel en so moet ons vir Vader vra om ons nuut te maak. Ons is skoon gewas deur die bloed van die Lam wat vir ons geslag is.
Maar leef ons in die verlossing wat ons gebied is of is ons steeds vasgevang in die suurdeeg wat in ons lewens teenwoordig is?

By nadere en intense self ondersoek moet ek erken dat daar nog steeds heelwat suurdeeg teenwoordig is en dit lei tot ’n gevoel van enorme skuldigheid en hartseer oor dit wat ek Vader aandoen.

Hoe lank nog sal ons die stryd voer?

Hoe verlang ek tog nie na die volmaaktheid van my Verlosser nie.

Sommige dae is die wedloop wat ons hardloop baie moeiliker as ander dae maar tog wanneer ek my oë opslaan na die hemele dan weet ek dat Hy my die krag en genade gee om te oorwin.
Die soeke en die wegwerp van die suurdeeg is ’n lewenslange taak wat slegs voltooi sal wees die dag wanneer my gees terugkeer na my Vader. Dan sal dit voltooi wees.

Tot dan bid ek U Vader om aan my en my mede gelowiges die krag en genade te skenk om die stryd blymoedig te stry, nooit moed op te gee nie en vas te hou aan U beloftes.

Friday, March 19, 2010

Die Skrynwerker se Gereedskap


Broer Hamer het opgetree as die voorsitter. Die ander lede van die gereedskap gordel het hom in kennis gestel dat hy moet gaan, want hy raas te veel. Maar broer Hamer sê toe, “As ek die skrynwerkers werkswinkel moet verlaat dan moet broer Handboor ook gaan. Hy is so klein en verpiep en maak maar slegs ’n klein indruk op die houtwerk.”

Klein broer Handboor staan op en sê, “Dis reg so, maar broer Skroewedraaier moet dan ook gaan. Vir hom moet jy om en om draai om enige iets met hom uitgerig te kry.”

Broer Skroewedraaier draai na die ander gereedskap in die skrynwerkers gordel en sê, “As dit julle wens is, sal ek gaan, maar broer Skaaf moet dan ook gaan. Al sy werk is maar oppervlakkig en daar is geen diepte aan dit wat hy doen nie.”

Met die aanmerking maak broer Skaaf sy rug styf en sê, “Wel, dan moet broer Saag ook maar die pad vat. Die veranderinge wat hy altyd voorstel sny hopeloos te diep.”

Broer Saag begin kla en sê, “Broer Maatband sal moet onttrek as ek moet gaan, want hy meet altyd almal asof hy die enigste een is wat reg is.”

Broer Maatband staar na die groep en sê, “Broer Skuurpapier hoort dan ook nie hier nie. Hy is growwer as wat hy behoort te wees en vryf ander altyd verkeerd op.”

Te midde van die bespreking stap die Skrynwerker van Nasaret in. Hy het gekom om sy daaglikse werk te verrig. Hy sit die skrynwerkers gordel aan, gespe dit vas en stap na die werkbank om ’n stoel te maak. Hy gebruik maatband, die skaaf, die hamer, die handboor, die skroewedraaier, die skuurpapier en al die ander gereedskap in die skrynwerkers gordel.
Toe die dag einde se kant toe staan is die stoel ook klaar en die skrynwerker het huiswaarts gekeer.
Al die beskuldiginge wat die gereedskap teen mekaar geopper het, was waar maar steeds het die skrynwerker elke een van hulle gebruik. Maak nie saak watter gereedskap stuk Hy gebruik het nie, maar slegs daardie spesifieke gereedskap stuk kon die werk doen wat nodig was op daardie stadium van die stoel bou proses en geen ander gereedskap stuk nie. Vir elke een was daar ’n taak in die bou proses.

Ons is almal “gereedskap stukke” in die skrynwerkers gordel van Yahshua. Elke een het ’n doel, ’n spesifieke vaardigheid en taak om te volvoer.

1 Kor. 3:9
Want ons is medewerkers van Yahweh; die akker van Yahweh, die gebou van Yahweh is julle.

Wednesday, March 17, 2010

Monday, March 15, 2010

Gelowige versus Ongelowige


Lank gelede was daar ’n man wat graag die verskil wou weet tussen die gelowiges en die ongelowiges want dit wat hy in die alledaagse lewe kon sien het vir hom geen aanduiding gee van die verskil nie.
Albei groepe het baie seëninge ontvang soos gereelde reëns, suksesvolle oeste, geen groot teëspoed nie.

Hy het ernstig gebid dat hy die verskil tussen die twee groepe kon verstaan.

Eendag terwyl hy in die veld wandel kom daar ’n engel na hom en deel hom mee dat hy gestuur is om aan hom te toon die verskil tussen die gelowiges en die ongelowiges.

Die engel het hom weggevoer en aan hom gesê dat hy hom eers gaan wys hoe is dit gesteld met die ongelowiges.
Hulle het in ’n groot vertrek gekom waar daar baie mense rondom ’n groot pot met bredie gesit het. Elkeen was uitgehonger en desperaat om van die bredie te eet.

Elkeen het ’n lepel gehad wat tot in die pot kon bykom maar die lepel se steel was langer as hul eie arm gewees en hulle kon die kos skep maar hulle kon nie die kos in hul mond kry nie..

Die leiding was verskriklik gewees.

Die engel neem die man en sê, “Kom, nou sal ek jou die gelowiges gaan wys.”

Hulle het ’n ander vertrek binnegegaan, soortgelyk aan die eerste vertrek, die mense om die pot bredie, die lang steel lepels. Maar almal was gelukkig en goed gevoed.

“Ek verstaan dit nie” sê die man. “Hoekom is die klomp hier so gelukkig en opgeruimd terwyl die ander in die eerste vertrek verhongerd en misrabel is terwyl alles dieselfde is?”

Die engel glimlag. “Ah, dis baie maklik,” sê hy. “Hier het hulle geleer om mekaar te voed met die lang steel lepels.”

Friday, March 12, 2010

Blare en Vye.


Dis vir my altyd te wonderlik hoe dit so dikwels gebeur dat ons die Skrif lees en soms lees ons ‘n stuk oor en oor sonder om die werklike betekenis daarvan te verstaan of ons verstaan dit net gedeeltelik en dan die volgende oomblik is dit asof ‘n lig aangaan en die hele stuk so duidelik soos daglig vir ons ontvou. Ek bly verstom oor die genade wat Vader ons skenk deurdat Hy sy glansryke lig laat skyn op dit wat soms vir my verstand hoe lank verborge was.
Hoe dikwels gebeur dit ook nie dat Vader vir ons elkeen iets ander gee uit dieselfde stuk om ons mee te voed nie.

Dit is soos om in jou Bybel ‘n lang verborge briefie te ontdek met jou naam daarop.
In die briefie begin die aanhef:
My liewe kind, ................
Ek wil jou vandag vertel van die stuk van My woord wat jy gelees het. Ek wil aan jou die diepere betekenis daarvan verduidelik sodat jy gevoed word met die Brood van die Skrif en mag drink van die Lewende Water sodat jou honger en dors versadig kan word.
Die betekenis ................

Hierdie is presies wat die week weer gebeur het toe ek Markus 11 lees, veral vanaf vers 12 toe Yahshua by die vye boom kom en geen vye aan die boom vind nie. Dit wat my die meeste gepla het was die gedeelte in vers 13 ..... “want dit was nie die tyd van vye nie.”

MARK 11:12 : EN die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;
MARK 11:13 : en toe Hy op 'n afstand 'n Vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets aan haar te vind; en toe Hy by haar kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.
MARK 11:14 : En JaHWèshua spreek en sê vir haar: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En Sy studente het dit gehoor.
........................

MARK 11:20 : En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die Vyeboom, verdroog van die wortels af.
MARK 11:21 : En Petrus het onthou en vir Hom gesê: My Meester, kyk, die Vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.
MARK 11:22 : JaHWèshua antwoord en sê vir hulle: Julle moet Geloof in die Elohim hê.

Wat was daar vir my geskrywe in Sy briefie wat ek ontdek het?

Daar is baie wat die beeld van ’n gelowige voorhou as jy hulle op ’n opstand sien. Die vyeboom moes pragtige blare gehad het want dit was dadelik uitgeken as ’n vyeboom reeds van ’n afstand af en dis die dat Yahshua na die boom stap met die verwagting van wat Hy daar sou moes aantref..... Vye.
As mens mooi na ’n vyeboom op ’n afstand kyk dan sal mens nie kan sê of daar vye aan is nie, want die vrug is gewoonlik versteek tussen die blare en jy moet nader gaan om te sien of daar vrugte aan is.

... “Hy daarheen gegaan in die hoop om iets aan haar te vind;....” Yahshua het gehoop om vrugte aan die boom aan te tref.
Hoe baie is daar nie wat die beeld van geloof voorhou maar daar is geen vrugte nie. Hulle lyk soos ’n vyeboom, hulle groei soos ’n vyeboom maar hulle dra geen vye nie.
Hoe maklik het dit nie in die wêreld geword om die beeld van gelowige voor te hou nie, ons sien dit elke dag, dit hang net af wat mense wil hê. Hulle is “gelowiges” wanneer dit hulle pas, .... wanneer hulle ’n werk soek, wanneer hulle wil bedel, volksleiers wat die gelowige se ondersteuning soek vir stemme, noem maar op.

...... “want dit was nie die tyd van vye nie.”
Hoekom sou Yahshua na die vyeboom gaan as Hy geweet het dis nie nou die seisoen vir vye nie? Hy moes mos geweet het dat dit buite seisoen was.
Maar as ons kyk na die laaste vers, vers 22 ..... “Yahshua antwoord en sê vir hulle: Julle moet Geloof in die Elohim hê.” dan sien ons die antwoord. Die soek na die vye was Sy honger om vrugte by Sy kinders te vind en wat het Hy by hulle gevind? Geen vrugte. Geen geloof in Elohim.

Hoe baie is daar wat nooit vrugte dra nie, hulle kom nooit in die seisoen nie en let ons na die woorde dan kon die boom by ‘n vorige geleentheid vrugte gedra het en dat dit net nou nie die regte tyd was vir vrugte nie.

Hoeveel keer gebeur dit in ons lewens dat dit die dag nie baie goed gaan nie. Ons het befoeterd opgestaan. Ons dag verloop nie soos ons dit graag wil hê nie. Of ons is so vasgevang in wêreldse dinge dat dit nie nou die tyd vir geloof is nie.
En dan .........
Kom Vader en Hy kom soek die vrugte aan ons.

Ons het op daardie stadium niks om Hom te bied nie want ons is nie in die tyd nie. Ons het soos die dwase maagde geword wie se lampe doodgegaan het met die koms van die Bruid.

Wie van ons sal dan weet wanneer die Almagtige ons besoek om te kom kyk of daar vrugte aan ons is?

Die vrugte van bekering moet ons te alle tye dra sodat, maak nie saak wie kom vrugte aan ons soek nie, dit sal vind en daarmee versadig kan word.

Kom ons verseker vandag dat alhoewel ons vruggies nie volmaak en nog nie mooi uitgeswel en reg nie is nie, daar ten minste vrugte aan ons is wanneer die Allerhoogste ons besoek en Hy honger het.

Die uiteinde van ‘n vrugtelose bestaan word vir ons baie duidelik gemaak in vers 20 en 21.
Uitgedroog en reg om in die brandende vuur gewerp te word.

Laat ons altyd in die regte tyd wees vir ’n oes.

Wednesday, March 10, 2010

Verhaal van die Onnosel Swaap


Nannie het besluit dat hy hom in die klein pragtige dorpie in die woud wou vestig. Daar aangekom, vra hy die inwoners, wie kan hom help om die dorpie se gewoontes en moets en moenies te wete te kom. Almal het hom verwys na die mees belangrike persoon in die dorp wat naby aan die dorps plein woon.
Nannie het haastig vertrek na die belangrike persoon en daar aangekom vra hy hom:

“Agbare meneer, ek pleit ’n paar minute van u kosbare tyd om my in te lig. Ek het sopas na die dorpie verhuis en dit is my begeerte om die dorpie se gewoontes en reëls te leer sodat ek ’n goeie burger van die dorpie kan wees.”

Die belangrike persoon maak geïrriteerd sy keel skoon en sê, “Ek het baie belangrike werk om nou te doen! Ek het nie nou tyd vir jou nie! Maar ek gaan so twee uur vanmiddag daar by jou woonstelletjie verby. Ontmoet my dan daar.”

“Weet u waar ek bly?” vra hy oorbluf.

“Ek is die eienaar van die gebou.” sê hy ongeërg.

“Twee uur, dan!” antwoord Nannie en vertrek na die mark om groete te koop. Hy het van die varsste groete gekry vir aandete: wortels, uie, aartappels en sy gunsteling... boontjies. Nadat hy al sy groete gekoop het sien hy ’n groot eike boom met heerlike gras daaronder op die dorpsplein. Hy besluit om so rukkie daar te sit en die mense dop te hou in die markplein.

Na so wyle begin Nannie baie lomerig te word maar stry teen die slaap wat hom wil oorval. Kort voor lank is hy vas aan die slaap. Nannie skrik wakker en sien dat die skaduwees al lank raak en die son is besig om te sak. Vinnig spring hy op en hardloop na sy woonstelletjie wat hy huur in die hoop dat hy die belangrike man dalk nog daar sal kry. By sy woonstel aangekom vind hy iemand het op sy deur met wit kryt geskryf,
“ONNOSEL SWAAP.”

Hy hardloop vinnig na die vername man se woon plek en baie nederig vertel hy vir hom,

“Ag, meneer, ek is so jammer ek het ons afspraak vergeet. Maar ek het dit onthou die oomblik toe ek sien u het u naam op my deur geskryf!”

- - - - -

Wanneer jy ’n ander persoon oordeel, definieer
jy nie die persoon nie, maar jy definieer JOUSELF.

Monday, March 8, 2010

Die Toets vir Skinder


Sokrates was berig daarvoor dat hy kennis baie hoog geag het en dat hy ook sy hele lewe spandeer het om kennis en wysheid na te volg en te bestudeer.
Eendag loop ’n kennis die groot filosoof raak en sê, “Weet jy wat ek sopas gehoor het van jou vriend?”

“Wag net so minuut,” sê Sokrates. “Voordat jy my enigiets vertel wil ek hê jy moet eers ’n klein toets slaag. Dit word genoem die Drievoudige Filter Toets.”

“Drievoudige filter?”

“Dis reg,” antwoord Sokrates. “Voordat jy met my praat oor my vriend is dit ’n goeie idee om ’n oomblik te neem en te filtreer wat jy gaan sê. Dis hoekom ek dit die drievoudige filter toets noem.
Die eerste is Waar.
Het jy doodseker gemaak dat dit wat jy my nou gaan vertel die absolute waarheid is?”

“Nee,” sê die man, “Ek het dit ook sopas van ’n ander persoon verneem en ......”

“Reg so,” sê Sokrates. “Dus weet jy nie verseker of dit die waarheid is nie. Kom laat ons nou die tweede filter probeer.
Die filter is Goed.
Dit wat jy my nou wil vertel oor my vriend, is dit iets goeds?”

“Nee,. inteendeel ......”

“Dus,” gaan Sokrates voort, “jy wil my iets sleg vertel van my vriend, maar jy is nie seker of dit die waarheid is nie. Miskien mag jy dalk nog die filter toets slaag want daar is nog een filter oor.
Die laaste filter is Nuttig.
Wat jy my wil vertel oor my vriend gaan dit vir my van enige nut wees?”

“Nee, nie regtig nie ......”

“Wel,” sluit Sokrates af, “indien jy my iets wil vertel wat nie waar of goed of selfs nuttig is nie, hoekom wil jy dit enigsins vertel?”

Voordat ons enige skinder storie oordra laat ons ook die storie eers onderwerp aan die drievoudige filter toets, dan sal ons seker geen skinder stories meer vertel nie.

Friday, March 5, 2010

Geloof en Gevoel.


Nou die aand terwyl ek sit en televisie kyk, eintlik moet ek eerder sê, terwyl ek na iets soek om te kyk wat aanvaarbaar is, kom ek by die God Channel uit. As ’n reël kyk ek nie na die program nie, want die predikers wat daar verskyn is wolwe in skaapsklere. In elk geval, ek vang toe so stukkie wat die een prediker sê, naamlik dat ‘gevoel die grootste gevaar vir die Christen is.’
Onmiddellik het dit my laat dink aan wat al die predikers vir ons vertel het pas nadat ons Yahshua aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, naamlik dat bekering niks met gevoel te doen het nie.

Op daardie stadium kon ek dit nie verstaan nie, want ek het die heerlikste gevoel van geluksaligheid gehad nadat ek bekeer is en die bedoeling van hul woorde was seker dat ons nie moet dink dat ons bekering nou ongedaan is wanneer ons nie meer so geluksalig voel nie. Die mense het nooit verder uitgebrei op hul stelling nie en dit het die gevoel geskep dat almal aangesê is om die waarskuwing oor te dra alhoewel geeneen van hulle dit werklik verstaan nie. Dis soos mense wat sê dat ons water moet bespaar terwyl dit reën en niemand vertel vir ons hoekom ons die water moet bespaar nie.

Daar is ’n besliste onderskeid waar gevoel inpas by geloof en vir my is dit ’n uitgemaakte saak dat daar wel plek is vir gevoel in die geloof en dat dit so hoort.

Ten eerste behoort geloof nie gebou te word op gevoel nie.
Laat my toe om te verduidelik: Daar is deesdae hoeveel gemeentes wat eers die gemeentelede opgesweep moet kry voordat die boodskap aan hulle gebring word. Dit sien ons gereeld waar daar orkeste in die kerke is wat optree en die mense word deur sang, dans en hande klap opgesweep totdat hulle op ’n “geestelike high” is, dan is die prediker eers reg om sy boodskap te bring. Die predikers het hulle hande vol om die “high” te handhaaf want die oomblik wat daar ’n effense “low” intree dan verloor hy sy gehoor. Daarom sal mens ook sien dat die boodskap kort-kort onderbreek word vir sang en ander opswepende aktiwiteite. Die sogenaamde “geloofs genesings” vind ook net plaas wanneer die gemeentelede reeds opgesweep en op ’n absolute “high” is. Die kollekte (eintlik is dit eerder ’n fonds insameling vir die prediker) word dan ook gehou wanneer die gemeente op die piek is van hulle “high”.
Ek wil dit duidelik stel dat ek wel glo aan geloofs genesing maar nie soos dit in sommige van die kerke toegepas word nie.
Hierdie geloof wat baseer is op gevoel is soos die saad wat die saaier gesaai het en wat geval het tussen die klippe en vlak grond. Terwyl dit effe nat en klam is dan begin hulle uitspruit maar daar is nie plek vir wortels om te groei en vas te heg nie en vinnig verwelk hulle en gaan dood.
Die mense het ook baie lief geword vir die kerke in die huidige tye waarin ons leef want die predikers laat hulle goed voel oor hulself. Dis soos ’n verslaafde wat sy “fix” kry en netnou wanneer dit uitgewerk is dan is hy “down” en moet hy weer ’n “fix” kry. Die mense het verslaafdes geraak van die geestelike fix en dis hoekom die kerke so floreer. Daar is nie die werklike geloofskrag sodat hulle in Yahweh kan groei nie, want hulle het Hom nog nie ontmoet nie maar slegs die prediker wat hulle “aanhou” sodat sy lekker lewenstyl in stand gehou kan word.

Dit is wel so dat gevoel die gevolg is van geloof.
Nadat ek my hart aan Yahshua gegee het, was ek bly, ek was opgewonde, ek was dankbaar want die dood het my verby gegaan en ek het die lewe ontvang. Elke oggend het ek hierdie gevoel van blydskap wanneer ek op my knieë gaan want dit is deur Vader se wonderlike genade dat ek Hom kan dien en liefhê. Ek voel tuis op my knieë, dis waar ek hoort. Daar is ’n gevoel van genoegdoening want ek weet, maak nie saak wat vandag gebeur nie ek is veilig in Sy arms.
Hierdie gevoelens is daar al het ek nie ’n baie goeie dag nie of al druk die lewens smarte swaar op my gemoed.

Maar gevoelens strek verder, ja, baie verder as net die gevoel van dankbaarheid en liefde.
Wanneer ons gesondig het teen Vader of teen ons naaste dan voel ons sleg, ons voel skuldig. Wanneer ek in woede lelik gepraat het voel ek baie skuldig daaroor. Wanneer ek lelik was met my vrou of kinders dan voel ek sleg daaroor.

Maar wat is hierdie gevoel van skuld, skaam, verleë en sleg voel – is dit nie die stem van die Heilige Gees wat met ons spreek en ons vermaan oor ons sondigheid nie ?
Ek sien dit as die stem van Vader wat my vermaan want Hy spreek voortdurend met ons, as ons net bereid is om ons ore oop te maak en te luister. Soms spreek Hy deur iemand anders, soms spreek Hy deur die natuur en heel dikwels spreek hy deur ons gewete met ons wanneer ons Sy gebooie oortree, die gevoel van skuld wat ons ervaar.

Ek sing nie om op ’n high te kom nie, ek sing uit dankbaarheid omdat ek reeds deur sy liefde en genade op ’n permanente “high” geplaas is.

Ja, die lewens drukte maak ons soms swaarmoedig en ons is nie elke dag in so goeie bui nie, maar ons moet ’n slag om ons gaan rondkyk dan sal ons hulle sien wat te midde van groot swaarkry steeds blymoedig is, want hulle het reeds Vader in hulle harte. So ken ek vriende wat reeds vir ’n lang tyd baie swaar kry omdat die man nie meer kan werk nie en hulle in ’n groot stryd gewikkel is om die geld (pensioen) van die versekering te kry. Dan moet hulle nog twee seuns ook grootmaak. Maar praat jy met hulle, skyn die geloofs blymoedigheid steeds deur te midde van die swaarkry en al die probleme. Dit is werklike geloof wat lei tot die gevoel en wete dat Vader se opregte liefde en genade altyd teenwoordig is te midde van swaarkry.

Ons is nou maar eenmaal gevoels wesens, of ons dit wil weet of nie ons moet net daarteen waak dat die emosies ons nie verlei in ’n valse hoop wat nie bestaan nie.


Ons kan nie glo deur hoe ons voel nie maar ons kan voel omdat ons glo.

Wednesday, March 3, 2010

Ware Talent


Nadat die jongman verskeie boogskut kompetisies gewen het, was hy baie vol van homself en besluit om die bejaarde man in die dorp, wat berig was vir sy vaardigheid as ’n boogskutter, uit te daag.
Die jongman het sy tegniese vaardigheid bewys toe hy die teiken met die eerste pyl sekuur in die middel tref en met die daaropvolgende pyl sy eerste pyl raakskiet.

“Hoe is daardie vir skiet?” sê hy vir die ou man, “Kyk of jy dieselfde kan doen!” Onverstoord, sonder om sy boog te span, beduie die ou man vir die jonge om hom te volg, die berg op.
Nuuskierig oor die ou man se bedoelings, het die jong kampioen die ou man die berg in gevolg tot hulle by ’n baie diep kloof kom wat oorspan is met ’n baie swak en wankelrige boomstomp.

Baie kalm loop die ou man tot in die middel van die wankelrige en erg verswakte boom brug. Die ou man kies ’n vêrafgeleë boom as ’n teiken, span sy boog en skiet ’n perfekte kolhou.
“Nou is dit jou beurt.” sê hy terwyl hy versigtig terug tree tot op die veiligheid van moeder aarde.

Terwyl hy met afgryse af staar in die skynbare bodemlose kloof, kon die jong man homself nie sovêr kry om uit te stap op die boomstomp nie, wat nog te sê van ’n pyl skiet.

“Jy is baie bedrewe met jou boog,” sê die ou man, terwyl hy die jong man wat hom uitgedaag het se verleentheid agterkom, “maar jy het min ervaring om te midde van groot gevaar dieselfde talent te openbaar.”

“Ware talent is die vermoë om jou vaardighede aan te wend selfs in die mees ongunstige omstandighede – sonder angs, twyfel of versuim.”

Monday, March 1, 2010

Wat is Jy? Wortel, Eier of Koffie.


Die dogter kla by haar vader oor die lewe en hoe moeilik dinge vir haar is. Sy weet nie hoe sy al die probleme die hoof gaan bied nie en sy wil net moed opgee. Sy was moeg gestry. Dit wou voorkom sodra die een probleem opgelos is dan is die volgende een daar wat weer aandag verg.

Haar pa, ’n kok, neem haar saam na die kombuis. Hy vul drie kastrolle met water en plaas hulle op die stoofplate wat almal op hoë hitte gestel is. Kort voor lank het die water in die kastrolle begin kook. In die een plaas hy wortels, in die tweede plaas hy eiers en in die laaste plaas hy gemaalde koffie bone. Hy los hulle vêrder om te kook sonder om ’n woord te sê.

Die dogter speel met een van haar haarlokke terwyl sy ongeduldig wag en wonder wat presies is haar pa besig om te doen. Na ongeveer twintig minute skakel hy die stoof plate af. Hy vis die wortels uit en plaas hulle in ’n bordjie. Hy skep die eiers uit die kokende water en plaas die in ’n aparte bordjie. Toe skep hy van die koffie af en gooi in ’n beker terwyl hy seker maak dat daar nie koffie moer saam in die beker beland nie.
Hy draai na sy dogter en vra aan haar, “Wat sien jy?” “Wortels, eiers en koffie.” antwoord sy.

Hy bring haar nader aan die bakkies en vra haar om die wortels te voel. Sy doen dit en merk op dat hulle sag is. Hy vra haar toe om ’n eier te neem en oop te breek. Nadat sy die eier klaar gedop het merk sy op dat die eiers darem baie hard is.

Uiteindelik vra hy haar om van die koffie te proe. Sy glimlag terwyl sy die ryk aroma van die koffie proe. “Nou wat is die punt daarvan alles?” vra sy.

Hy verduidelik dat elkeen van die items dieselfde teenspoed ervaar het – naamlik die kokende water – maar elkeen het verskillend reageer op die “teenspoed.”

Die wortel het sterk en hard in die kastrol gegaan, maar nadat hulle blootgestel was aan die kokende water het hulle sag en week geword. Die eier was baie breekbaar. Sy dun dop het die waterige binnekant beskerm. Maar nadat dit in die kookwater was, het dit binnekant hard geword en nie meer so breekbaar nie.
Maar die koffie bone was anders.
Nadat hulle ’n wyle in die water was, het hulle die water verander.

“Wat is jy?” vra hy sy dogter. “Wanneer teenspoed aan jou deur klop, hoe reageer jy? Is jy ’n wortel, ’n eier of ’n koffie boontjie?”