Friday, March 5, 2010

Geloof en Gevoel.


Nou die aand terwyl ek sit en televisie kyk, eintlik moet ek eerder sê, terwyl ek na iets soek om te kyk wat aanvaarbaar is, kom ek by die God Channel uit. As ’n reël kyk ek nie na die program nie, want die predikers wat daar verskyn is wolwe in skaapsklere. In elk geval, ek vang toe so stukkie wat die een prediker sê, naamlik dat ‘gevoel die grootste gevaar vir die Christen is.’
Onmiddellik het dit my laat dink aan wat al die predikers vir ons vertel het pas nadat ons Yahshua aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, naamlik dat bekering niks met gevoel te doen het nie.

Op daardie stadium kon ek dit nie verstaan nie, want ek het die heerlikste gevoel van geluksaligheid gehad nadat ek bekeer is en die bedoeling van hul woorde was seker dat ons nie moet dink dat ons bekering nou ongedaan is wanneer ons nie meer so geluksalig voel nie. Die mense het nooit verder uitgebrei op hul stelling nie en dit het die gevoel geskep dat almal aangesê is om die waarskuwing oor te dra alhoewel geeneen van hulle dit werklik verstaan nie. Dis soos mense wat sê dat ons water moet bespaar terwyl dit reën en niemand vertel vir ons hoekom ons die water moet bespaar nie.

Daar is ’n besliste onderskeid waar gevoel inpas by geloof en vir my is dit ’n uitgemaakte saak dat daar wel plek is vir gevoel in die geloof en dat dit so hoort.

Ten eerste behoort geloof nie gebou te word op gevoel nie.
Laat my toe om te verduidelik: Daar is deesdae hoeveel gemeentes wat eers die gemeentelede opgesweep moet kry voordat die boodskap aan hulle gebring word. Dit sien ons gereeld waar daar orkeste in die kerke is wat optree en die mense word deur sang, dans en hande klap opgesweep totdat hulle op ’n “geestelike high” is, dan is die prediker eers reg om sy boodskap te bring. Die predikers het hulle hande vol om die “high” te handhaaf want die oomblik wat daar ’n effense “low” intree dan verloor hy sy gehoor. Daarom sal mens ook sien dat die boodskap kort-kort onderbreek word vir sang en ander opswepende aktiwiteite. Die sogenaamde “geloofs genesings” vind ook net plaas wanneer die gemeentelede reeds opgesweep en op ’n absolute “high” is. Die kollekte (eintlik is dit eerder ’n fonds insameling vir die prediker) word dan ook gehou wanneer die gemeente op die piek is van hulle “high”.
Ek wil dit duidelik stel dat ek wel glo aan geloofs genesing maar nie soos dit in sommige van die kerke toegepas word nie.
Hierdie geloof wat baseer is op gevoel is soos die saad wat die saaier gesaai het en wat geval het tussen die klippe en vlak grond. Terwyl dit effe nat en klam is dan begin hulle uitspruit maar daar is nie plek vir wortels om te groei en vas te heg nie en vinnig verwelk hulle en gaan dood.
Die mense het ook baie lief geword vir die kerke in die huidige tye waarin ons leef want die predikers laat hulle goed voel oor hulself. Dis soos ’n verslaafde wat sy “fix” kry en netnou wanneer dit uitgewerk is dan is hy “down” en moet hy weer ’n “fix” kry. Die mense het verslaafdes geraak van die geestelike fix en dis hoekom die kerke so floreer. Daar is nie die werklike geloofskrag sodat hulle in Yahweh kan groei nie, want hulle het Hom nog nie ontmoet nie maar slegs die prediker wat hulle “aanhou” sodat sy lekker lewenstyl in stand gehou kan word.

Dit is wel so dat gevoel die gevolg is van geloof.
Nadat ek my hart aan Yahshua gegee het, was ek bly, ek was opgewonde, ek was dankbaar want die dood het my verby gegaan en ek het die lewe ontvang. Elke oggend het ek hierdie gevoel van blydskap wanneer ek op my knieë gaan want dit is deur Vader se wonderlike genade dat ek Hom kan dien en liefhê. Ek voel tuis op my knieë, dis waar ek hoort. Daar is ’n gevoel van genoegdoening want ek weet, maak nie saak wat vandag gebeur nie ek is veilig in Sy arms.
Hierdie gevoelens is daar al het ek nie ’n baie goeie dag nie of al druk die lewens smarte swaar op my gemoed.

Maar gevoelens strek verder, ja, baie verder as net die gevoel van dankbaarheid en liefde.
Wanneer ons gesondig het teen Vader of teen ons naaste dan voel ons sleg, ons voel skuldig. Wanneer ek in woede lelik gepraat het voel ek baie skuldig daaroor. Wanneer ek lelik was met my vrou of kinders dan voel ek sleg daaroor.

Maar wat is hierdie gevoel van skuld, skaam, verleë en sleg voel – is dit nie die stem van die Heilige Gees wat met ons spreek en ons vermaan oor ons sondigheid nie ?
Ek sien dit as die stem van Vader wat my vermaan want Hy spreek voortdurend met ons, as ons net bereid is om ons ore oop te maak en te luister. Soms spreek Hy deur iemand anders, soms spreek Hy deur die natuur en heel dikwels spreek hy deur ons gewete met ons wanneer ons Sy gebooie oortree, die gevoel van skuld wat ons ervaar.

Ek sing nie om op ’n high te kom nie, ek sing uit dankbaarheid omdat ek reeds deur sy liefde en genade op ’n permanente “high” geplaas is.

Ja, die lewens drukte maak ons soms swaarmoedig en ons is nie elke dag in so goeie bui nie, maar ons moet ’n slag om ons gaan rondkyk dan sal ons hulle sien wat te midde van groot swaarkry steeds blymoedig is, want hulle het reeds Vader in hulle harte. So ken ek vriende wat reeds vir ’n lang tyd baie swaar kry omdat die man nie meer kan werk nie en hulle in ’n groot stryd gewikkel is om die geld (pensioen) van die versekering te kry. Dan moet hulle nog twee seuns ook grootmaak. Maar praat jy met hulle, skyn die geloofs blymoedigheid steeds deur te midde van die swaarkry en al die probleme. Dit is werklike geloof wat lei tot die gevoel en wete dat Vader se opregte liefde en genade altyd teenwoordig is te midde van swaarkry.

Ons is nou maar eenmaal gevoels wesens, of ons dit wil weet of nie ons moet net daarteen waak dat die emosies ons nie verlei in ’n valse hoop wat nie bestaan nie.


Ons kan nie glo deur hoe ons voel nie maar ons kan voel omdat ons glo.

1 comment:

Anonymous said...

Hallo Andre. Kan jy glo ek kom sowaar op jou blog uit- sommer so per ongeluk! ek skryf nooit maar dit was nou so n verrassing dat ek gou wil groet. ek hoop dit gaan nog goed met julle almal en dalk sien ons mekaar gou weer in die toekoms.
Andre ek het regtig nie van jou vergeet nie - vergewe tog maar dat ek so laks is asseblief?
Marietjie en klein Cassie stuur ook groete.