Thursday, February 24, 2011

Ons Kinders


Die van julle wat kinders het wat al so bietjie groter is, hoërskool en universiteit / kollege en dalk bietjie ouer sal miskien meer verstaan wat ek vandag wil sê.

Toe ons jonger was, was die lyne duidelik getrek en dinge was nie heeltemal so gekompliseerd soos vandag nie. Die wat deurmekaar was met demoniese magte was welbekend aan ons en ons het hulle op ’n groot afstand van ons af weggehou. Ons het weggevlug van hulle want ons wou nie vasgevang word in die web van vernietiging nie.

Maar wat gebeur vandag, die demoniese magte het sulke pragtige baadjies aangetrek dat hulle nie meer te onderskei is van die lig en die waarheid nie. Die grootste probleem is dat baie mense dink dat die bose ’n totale teenstelling is met die waarheid maar dit is beslis nie die geval nie.

Die waarheid word geneem en net so effens verdraai, altyd net +1 of -1. Die gif van die verleiding is maar slegs ’n klein druppeltjie in die hele glas water, maar die effek is steeds dodelik.

Ek wil julle vandag verseker dat julle wat hierdie stryd voer om die behoud van julle kinders se siele nie alleen is nie. Ons as mense hou die stryd net baie dig toe en niemand daar buite weet van die stryd nie. Maar as jy met ander mense praat en hulle maak oop dan besef jy dat jy nie alleen in die stryd is nie.

Omtrent elke huis is besig met die stryd en dit is asof Satan soos ’n brullende leeu daar buite rondloop op soek na ons kinders om hulle te verskeur.
Die stryd daar buite is verwoed en ouers word oud oor die stryd wat hulle voer ter wille van hulle kinders.

Ek het ’n punt daarvan gemaak om al met ’n paar mense te praat oor die stryd wat daar heers en die stryd wat hulle voer om die behoud van hul kinders. Ek wil julle verseker, die stryd is baie groter as wat ons dink en jy is nie alleen in jou stryd nie. Ten minste 80% van ouers voer die stryd oor hul kinders se verlossing.

Ma’s en pa’s droog in die stilte van hul binnekamer trane van verdriet af oor hul kinders. Ons is voortdurend op ons knieë om die Almagtige YaHWeH te pleit vir verlossing van ons kinders.

Moet asb. nie ophou bid vir hulle en die stryd gewonne gee nie – die uitkoms is miskien nie vandag of môre nie maar Majesteit YaHWeH is getrou aan Sy Woord en Hy sal verlossing skenk, bly net getrou.
Onthou voorts dat die stryd nie net gaan om die siel van jou kind nie maar ook in die beproewing van jou waaragtige geloof in die verlossing van ons Koning.

Vandag kan ek julle verseker dat die stryd wel gewen kan word want daaroor kan ek en my vrou getuig. YaHWeH het ons gebede verhoor. Dit was nie ’n kort stryd nie, sowat twee jaar. Maar Hy het ons seun aan ons teruggegee, gehawend en vol kneus plekke van die lewe, maar ons is dankbaar vir die verlossing en Sy groot genade.
Die wonde en kneusplekke is vandag gesond, die letsels sal daar bly vir die res van sy lewe, maar hopelik sal dit hom voortdurend herinner hoe naby dit was. Vandag is hy reg om die volgende hoofstuk in sy lewe te betree en ons vertrou dat Vader hom sal lei en sy lewe sal vul met die volheid van Sy Gees.

Maak julle dus reg vir ’n lang en harde stryd en gebede met trane sonder tal.

Hou goeie moed want YaHWeH sal voorsien.

Vir elkeen van julle wat vandag in die stryd gewikkel is rig ek ’n gebed tot die Lewende Elohim – Vader YaHWeH gee aan elkeen van die ouers die krag om staande te bly te midde van die stryd. Help hulle om getrou te bly in gebed en hul oë gevestig te hou op die hande van ons Meester. Vader red ons kinders van die bose wat soek om hul te vernietig en hul te sleep oor die afgrond van verderf. Dankie, dat U aan ons en ons kinders die verlossing sal skenk. Amein

Tuesday, February 22, 2011

Heers ons Werklik ?


Vanoggend gedurende my stilte tyd het ek vir ’n wyle net gesit en luister na al die geluide wat ek daar buite kon hoor. Daar was die gekwetter van voëls in die bome, die gekoer van duiwe, die buurman se hoenderhaan wat kraai en in die vêrte het ek ’n paar honde hoor blaf.

Ons as mens is geskape as die kroon van Elohim se skepping en is veronderstel om oor al die diere te heers.
Die woorde van Genesis 1 vers 28 verklaar vir ons:
“En Elohim het hulle geseën, en Elohim het gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die Aarde, onderwerp haar en heers oor die visse van die see en die voëls van die Hemele en oor alle lewende wesens wat op die Aarde beweeg.”

Daar is sekerlik nie een wilde dier wat die mens nog nie getem het nie, ons het werklik al die diere onderwerp aan ons heerskappy.
Inteendeel het ons die hele aarde onderwerp en daar is min gedeeltes oor wat nog nie ondersoek of verken is nie, die hoogste bergpieke het ons oorwin, die diepetes van die oseaan het ons verken.

Ja, ons het heersers van formaat geword, die adamiet heers oor alles of altans so dink ons.

Maar tog is daar n paar dinge wat ons nie kon tem nie en dit is juis die dinge wat ons kan doodmaak.

Nie die fisiese doodmaak van die liggaam nie maar die vernietiging van die siel.

Die mens kon dit nog nie regkry om die tong van ‘n adamiet te tem nie – dit is een van die wapens wat meer kan breek en beskadig as slegs bene en vlees. Dit dien wonde toe wat nie maklik verbind en genees kan word nie.
Dit het die vermoë om volke aan die brand te steek sodat hulle mekaar totaal kan uitwis net omdat hulle bedrieg is deur een wat hulle verlei het met die tong.

Dit kan vriendskappe wat al jare lank bestaan in ‘n kwessie van sekondes vernietig.

Die besoedeling wat oor ons heers of wat ons toelaat om oor ons te heers, die kon ons ook nie oorwin nie. Die eie keuse wat aan ons oorgelaat is, die kan ons nie eens bemeester nie.

Dan moet mens seker noodwendig die vraag vrae – is ons werklike sulke heerser en oorwinnaars as wat ons dink of hou ons onsself voor vir iets wat ons nie is nie ?

Van nature is ons korrup en neig ons na die sonde en besoedeling, die enigste wat hierdie proses van selfvernietiging gestop kan word is wanneer ons werklik ons hart aan Yahshua Messiah gee. Sodat Hy ons kan nuut maak en Sy gees in ons heers. Solank as wat ons eie ‘ek’ binne ons regeer sal daar geen verlossing of redding vir ons kan wees nie.

Mag Majesteit Yahshua jou vandag nuut maak en die leegheid binne jou vul met Sy heerlikheid.

Thursday, February 17, 2011

Oggend Smekinge (Puriteinse Gebed)


O Elohim, die Skepper van alle goeie, ek nader U om genade vir nog ’n dag wat sy werk sal vereis en gebeure oplewer. Ek stap uit in ’n bose wêreld; ek dra saam met my ’n bose hart. Ek weet dat sonder U kan ek niks doen nie, dat alles waarmee ek te doen kry, hoe onskuldig dit ook al mag wees, ’n geleentheid bied om te sondig of af te wyk van U wee, tensy ek deur U krag onderskraag word. Hou U my regop, dan sal ek veilig wees.

Behou my bewustheid van die subtiele foute wat vastrap plek soek in my lewe, my geneigdheid om die afgode lief te hê, my karakter om besmet te raak met oortredinge, my lewenswandel van enige vorm van kwaad. Mag ek slegs besig wees met dit waarin ek U seëninge kan sien en U enige tyd kan nooi om daarna te kyk. Maak my geseënd in al my regverdige ondernemings of berei my voor vir teleurstelling. Skenk aan my nie rykdom of armoede nie. Voed my met voedsel wat geskik is vir my sodat wanneer ek oorversadig is ek U nie sal verwerp en sê, “Wie is YaHWeH ?” nie of wanneer ek arm is, sal steel en so die naam van my Skepper sal verydel nie.

Maak alle voedsel vir my geskik om te gebruik deur U wil en gebed. Leer my hoe om die wêreld te gebruik en nie te misbruik nie, om my talente te verbeter, om my tyd wys deur te bring, om die lewenspad in groot wysheid te bewandel, om guns te bewys aan my medemens en goed te doen aan hulle.

Aan U kom toe die heerlikheid.

Saturday, February 12, 2011

Openhartigheid (Puriteinse Gebed)


Majesteit van onsterflikheid, voor wie engele buig en aartsengele die aangesig bedek, stel my in staat om U te dien met eerbied en goddelike vrees. U wat Gees is en waarheid vereis in die wese van die mens, help my om U te aanbid in gees en waarheid. U wat regverdig is, laat my nie toe om skuilplek te bied aan sonde in my hart nie, of toegee aan ’n wêreldse geaardheid, of bevrediging soek in dinge wat vergaan.

Ek haas na ’n uur waar aardse strewes en besittings nutteloos sal vertoon, wanneer dit nie sal saak maak of ek ryk of arm was, suksesvol of teleurgesteld, bemind of verwerp. Maar dit sal van ewige betekenis wees dat ek getreur het oor my sonde, honger en dors gehad het na geregtigheid, my redder Yahshua Messiah opreg lief gehad het en roem in die verlossing van Sy kruis. Laat hierdie my voortdurende hart smekinge wees. Skep in my daardie beginsels en gesindheid wat sal meebring dat om U te dien perfekte vryheid sal wees.

Verdryf van my gedagtes alle sondige vrees en angs, sodat ek met fermheid en moed my Verlosser sal bely voor my medemens, geesdriftig sal wees in Sy kennis, gevul sal word met Sy wysheid, die lewenspad sal bewandel met omsigtigheid, Sy raad sal vra in alle dinge, Sy gebooie soos vervat in die Skrif sal navolg, my gedagtes sal vestig op Sy vrede, sal weet dat niks met my sal gebeur sonder Sy toestemming, bevel en toepassing nie.

Monday, February 7, 2011

Hart’s Verdorwenheid (Puriteinse Gebed)


O YaHWeH, mag U Gees in my spreek sodat ek tot U mag spreek. Ek beskik oor geen meriete nie, laat die meriete van Yahshua Messiah vir my instaan. Ek verdien niks nie, maar kyk op na U sagmoedige genade. Ek is vol swakhede, tekortkominge en sonde; U is vol genade en lankmoedigheid.

Ek bely my sondes; my gereelde sondes, my moedswillige sondes; al die kragte van my liggaam en siel is besoedel: ’n fontein van besoedeling is diep ingewortel in my natuur. Daar is kamers met besoedelde afbeeldinge binne my wese; Ek het van die een verfoeilike kamer na die ander gegaan, gewandel in ’n niemandsland van gevaarlike verbeeldingsvlugte, geloer in die geheime van my gevalle natuur.

Ek is geheel beskaamd dat ek is wat ek is in myself; ek het geen groen uitloopsel in my of vrugte, maar slegs dorings en dissel; ek is ’n verdroogde blaar wat deur die wind weg gewaai word; ek leef naak en vrugteloos soos ’n winters boom,
nie-winsgewend, slegs geskik om af gekap en verbrand te word. Majesteit YaHWeH, is daar vir my genade by U ?

U het my trots geslaan met ’n sware staf, my valse god van self-wees en ek lê in stukke voor U. Maar u het aan my ’n ander Heer en Meester gegee, U Seun Yahshua, en nou is my hart omgekeer na heiligheid, my lewe spoed soos ’n pyl uit ’n boog na totale gehoorsaamheid aan U. Help my in alles wat ek doen om die sonde te oorwin en my trots te verbreek. Red my van die liefde vir die wêreld en die trots van die lewe, van alles wat deel is van die gevalle adamiet en laat Messiah se beeld in my skyn dag na dag. Skenk aan my genade om U wil te volbring sonder murmurering en laat my vreugde vind nie net in my vorming deur u beitel en hamer nie maar ook in die uitbreek uit die ou rots waarin ek so lank ingesluit was. Lig my uit die gruisgroef van die lewe sodat ek in Yahshua gebou kan word vir ewig.

Wednesday, February 2, 2011

Aand Lofprysing (Puritein Gebed)


Voorsiener van alles, nog ’n dag loop ten einde en ek neem my plek op onder my groot Verlosser se folterpaal, vanwaar helende strome voortdurend vloei, waar salf uit gegiet word in elke wond, waar ek my opnuut was in die alles-reinigende bloed van U en ek die versekering verkry dat U geen sonde in my bemerk.
Maar ’n klein rukkie en ek sal gaan na die woning van my Vader en nie meer gesien word nie; help my om my gedagtes suiwer te hou, om my voetstap te verhaas, om te wandel asof elke oomblik my laaste is, dat my lewe vreugde mag wees en my dood oorwinning.

Ek dank U vir die aardse seëninge wat ek hier ontvang – die verfrissende luggie, die lig van die son, die voedsel wat die kragte hernu, die klere wat die liggaam oordek, die woning wat beskerm, die slaap wat rus gee, die sterreryke hemelruim van die nag, die somers windjie wat afkoel, die soete reuk van ’n blomme prag, die musiek van vloeiende strome, die blye gehegtheid van ’n gesin, familie en vriende.

Leer my tot my heil.
My beker loop oor.
Lei my om nie ondankbaar te wees oor die daaglikse genadegawes nie.
U hand giet seëninge uit oor ons.
U krag weer die kwade af.

Ek bring aan U die dank vir die geestelike genades, die warmte van geloof, die heerlike teenwoordigheid van U gees, die krag van U terughoudende wil en U verlossing van die bose.

Geseënd is my soewereine Majesteit YaHWeH.