Monday, February 7, 2011

Hart’s Verdorwenheid (Puriteinse Gebed)


O YaHWeH, mag U Gees in my spreek sodat ek tot U mag spreek. Ek beskik oor geen meriete nie, laat die meriete van Yahshua Messiah vir my instaan. Ek verdien niks nie, maar kyk op na U sagmoedige genade. Ek is vol swakhede, tekortkominge en sonde; U is vol genade en lankmoedigheid.

Ek bely my sondes; my gereelde sondes, my moedswillige sondes; al die kragte van my liggaam en siel is besoedel: ’n fontein van besoedeling is diep ingewortel in my natuur. Daar is kamers met besoedelde afbeeldinge binne my wese; Ek het van die een verfoeilike kamer na die ander gegaan, gewandel in ’n niemandsland van gevaarlike verbeeldingsvlugte, geloer in die geheime van my gevalle natuur.

Ek is geheel beskaamd dat ek is wat ek is in myself; ek het geen groen uitloopsel in my of vrugte, maar slegs dorings en dissel; ek is ’n verdroogde blaar wat deur die wind weg gewaai word; ek leef naak en vrugteloos soos ’n winters boom,
nie-winsgewend, slegs geskik om af gekap en verbrand te word. Majesteit YaHWeH, is daar vir my genade by U ?

U het my trots geslaan met ’n sware staf, my valse god van self-wees en ek lê in stukke voor U. Maar u het aan my ’n ander Heer en Meester gegee, U Seun Yahshua, en nou is my hart omgekeer na heiligheid, my lewe spoed soos ’n pyl uit ’n boog na totale gehoorsaamheid aan U. Help my in alles wat ek doen om die sonde te oorwin en my trots te verbreek. Red my van die liefde vir die wêreld en die trots van die lewe, van alles wat deel is van die gevalle adamiet en laat Messiah se beeld in my skyn dag na dag. Skenk aan my genade om U wil te volbring sonder murmurering en laat my vreugde vind nie net in my vorming deur u beitel en hamer nie maar ook in die uitbreek uit die ou rots waarin ek so lank ingesluit was. Lig my uit die gruisgroef van die lewe sodat ek in Yahshua gebou kan word vir ewig.

No comments: