Saturday, February 12, 2011

Openhartigheid (Puriteinse Gebed)


Majesteit van onsterflikheid, voor wie engele buig en aartsengele die aangesig bedek, stel my in staat om U te dien met eerbied en goddelike vrees. U wat Gees is en waarheid vereis in die wese van die mens, help my om U te aanbid in gees en waarheid. U wat regverdig is, laat my nie toe om skuilplek te bied aan sonde in my hart nie, of toegee aan ’n wêreldse geaardheid, of bevrediging soek in dinge wat vergaan.

Ek haas na ’n uur waar aardse strewes en besittings nutteloos sal vertoon, wanneer dit nie sal saak maak of ek ryk of arm was, suksesvol of teleurgesteld, bemind of verwerp. Maar dit sal van ewige betekenis wees dat ek getreur het oor my sonde, honger en dors gehad het na geregtigheid, my redder Yahshua Messiah opreg lief gehad het en roem in die verlossing van Sy kruis. Laat hierdie my voortdurende hart smekinge wees. Skep in my daardie beginsels en gesindheid wat sal meebring dat om U te dien perfekte vryheid sal wees.

Verdryf van my gedagtes alle sondige vrees en angs, sodat ek met fermheid en moed my Verlosser sal bely voor my medemens, geesdriftig sal wees in Sy kennis, gevul sal word met Sy wysheid, die lewenspad sal bewandel met omsigtigheid, Sy raad sal vra in alle dinge, Sy gebooie soos vervat in die Skrif sal navolg, my gedagtes sal vestig op Sy vrede, sal weet dat niks met my sal gebeur sonder Sy toestemming, bevel en toepassing nie.

No comments: