Thursday, February 24, 2011

Ons Kinders


Die van julle wat kinders het wat al so bietjie groter is, hoërskool en universiteit / kollege en dalk bietjie ouer sal miskien meer verstaan wat ek vandag wil sê.

Toe ons jonger was, was die lyne duidelik getrek en dinge was nie heeltemal so gekompliseerd soos vandag nie. Die wat deurmekaar was met demoniese magte was welbekend aan ons en ons het hulle op ’n groot afstand van ons af weggehou. Ons het weggevlug van hulle want ons wou nie vasgevang word in die web van vernietiging nie.

Maar wat gebeur vandag, die demoniese magte het sulke pragtige baadjies aangetrek dat hulle nie meer te onderskei is van die lig en die waarheid nie. Die grootste probleem is dat baie mense dink dat die bose ’n totale teenstelling is met die waarheid maar dit is beslis nie die geval nie.

Die waarheid word geneem en net so effens verdraai, altyd net +1 of -1. Die gif van die verleiding is maar slegs ’n klein druppeltjie in die hele glas water, maar die effek is steeds dodelik.

Ek wil julle vandag verseker dat julle wat hierdie stryd voer om die behoud van julle kinders se siele nie alleen is nie. Ons as mense hou die stryd net baie dig toe en niemand daar buite weet van die stryd nie. Maar as jy met ander mense praat en hulle maak oop dan besef jy dat jy nie alleen in die stryd is nie.

Omtrent elke huis is besig met die stryd en dit is asof Satan soos ’n brullende leeu daar buite rondloop op soek na ons kinders om hulle te verskeur.
Die stryd daar buite is verwoed en ouers word oud oor die stryd wat hulle voer ter wille van hulle kinders.

Ek het ’n punt daarvan gemaak om al met ’n paar mense te praat oor die stryd wat daar heers en die stryd wat hulle voer om die behoud van hul kinders. Ek wil julle verseker, die stryd is baie groter as wat ons dink en jy is nie alleen in jou stryd nie. Ten minste 80% van ouers voer die stryd oor hul kinders se verlossing.

Ma’s en pa’s droog in die stilte van hul binnekamer trane van verdriet af oor hul kinders. Ons is voortdurend op ons knieë om die Almagtige YaHWeH te pleit vir verlossing van ons kinders.

Moet asb. nie ophou bid vir hulle en die stryd gewonne gee nie – die uitkoms is miskien nie vandag of môre nie maar Majesteit YaHWeH is getrou aan Sy Woord en Hy sal verlossing skenk, bly net getrou.
Onthou voorts dat die stryd nie net gaan om die siel van jou kind nie maar ook in die beproewing van jou waaragtige geloof in die verlossing van ons Koning.

Vandag kan ek julle verseker dat die stryd wel gewen kan word want daaroor kan ek en my vrou getuig. YaHWeH het ons gebede verhoor. Dit was nie ’n kort stryd nie, sowat twee jaar. Maar Hy het ons seun aan ons teruggegee, gehawend en vol kneus plekke van die lewe, maar ons is dankbaar vir die verlossing en Sy groot genade.
Die wonde en kneusplekke is vandag gesond, die letsels sal daar bly vir die res van sy lewe, maar hopelik sal dit hom voortdurend herinner hoe naby dit was. Vandag is hy reg om die volgende hoofstuk in sy lewe te betree en ons vertrou dat Vader hom sal lei en sy lewe sal vul met die volheid van Sy Gees.

Maak julle dus reg vir ’n lang en harde stryd en gebede met trane sonder tal.

Hou goeie moed want YaHWeH sal voorsien.

Vir elkeen van julle wat vandag in die stryd gewikkel is rig ek ’n gebed tot die Lewende Elohim – Vader YaHWeH gee aan elkeen van die ouers die krag om staande te bly te midde van die stryd. Help hulle om getrou te bly in gebed en hul oë gevestig te hou op die hande van ons Meester. Vader red ons kinders van die bose wat soek om hul te vernietig en hul te sleep oor die afgrond van verderf. Dankie, dat U aan ons en ons kinders die verlossing sal skenk. Amein

No comments: