Tuesday, March 1, 2011

Grendels van die Siel


Vir die gelowige kind van YaHWeH is elke dag ’n stryd wat ons voer. Sommige meer intens as ander.
Dan kom die dae wat mens voel, maar nou is jy werklik op moedverloor se vlakte, want jy het in hierdie dag totaal die stryd verloor. Die sonde waarteen ons elke dag so stry het vandag weer die oorhand oor my gekry.

Ons elkeen is bewus van daardie sondes waarteen ons so verwoed moet stry om te voorkom dat hulle die oorhand oor ons siel verkry en so ons hele lewe ruïneer. Dit mag wees ’n stryd teen dobbel, teen die begeerlikhede van die vlees, teen onwelvoeglike taalgebruik, om te skinder, noem maar op, jy weet presies wat dit is. Want jy is die heeltyd bewus van hierdie doring in jou vlees wat jou sal oorweldig as jy nie voortdurend daarteen waak nie.

Wanneer daar ’n oomblik is wat jy nie waaksaam genoeg was nie en die sonde jou oorweldig het dan voel dit soos ’n rower wat ingebreek het en ’n stuk van jou siel gesteel het. Jy probeer bid maar dit voel of jy ‘leeg’ is, daar is geen kontak met die Almagtige Vader nie. Jy voel afgesny van Sy genade en barmhartigheid.

Die satan het die sleutel van die grendels van jou siel in die hande gekry, dit oopgesluit en jou beroof van die heerlikheid wat daar in jou aanwesig is.

Die probleem met die sleutels is dat Vader dit so beskik het dat die sleutels in ons hand is. Ons is die eienaar daarvan en die besluit berus alleenlik by onsself wie ons wil toelaat. Dus, toe die satan die sleutel in die hande gekry het om die grendels van die siel oop te sluit, is dit óf ons wat die sleutels aan hom gegee het óf ons was nalatig en het nie die sleutels genoegsaam opgepas nie.

Ons het ook die keuse of ons die grendels van ons siel wil oopsluit om die Almagtige daarin toe te laat sodat Hy die siel kan vul met die Heerlikheid van Sy genade en Liefde. Ons moet die skatkamer van ons siel aan Hom gee en Hy sal dit vul.
Die verleier is ’n rower, hy stel nie belang om iets in die skatkamer van die siel te plaas nie, hy wil net inkom om ons te beroof van die Heerlikheid van YaHWeH en om die skatkamer van ons siel te kom verwoes.

Bewaak die sleutel van die grendels van jou siel met jou lewe sodat die rowers jou nie beroof daarvan wat Heerlik is nie.

No comments: