Tuesday, November 30, 2010

Vriende

Thursday, November 25, 2010

Die Twee Klippies


Eendag lank gelede in ’n klein gehuggie was daar ’n boer wat ’n groot som geld geskuld het aan die dorpie se geldskieter.

Die geldskieter was reeds baie oud en nou nie eintlik iets vir die oog nie. Hy het baie gehou van die boer se pragtige dogter en sou enigiets doen om met haar te kon trou. Hy maak toe ’n voorstel aan die boer; hy sou die al die boer se skuld afskryf indien hy met sy dogter mag trou. Beide die boer en sy dogter was gewalg met die geldskieter se voorstel.

Die uitgeslape geldskieter stel toe voor dat hulle die “voorsienigheid” moet toelaat om oor die aangeleentheid te besluit. Hy stel toe voordat hy sal ’n swart klippie en ’n wit klippie in die leë geldsak plaas, dan moet die dogter ’n klippie uit die sak haal.

Indien sy die swart klippie kies, sal sy met hom trou en hy sal haar vader se skuld afskryf.

Indien sy die wit klippie kies, hoe sy nie met hom te trou nie en hy sal steeds haar vader se skuld afskryf.

Indien sy weier om ’n klippie te kies, sal hy haar vader in die tronk laat opsluit vir die skuld.

Die opsies wat die geldskieter voorgestel het laat die boer en sy dogter nie juis met enige keuse nie. Hulle het op ’n klip bestrooide paadjie in die boer se land gestaan en gesels. Terwyl hulle staan en gesels buks die geldskieter af en tel twee klippies op en plaas dit in die leë geldsakkie.

Terwyl hy die klippies optel en in die geldsak plaas het die meisie opgemerk dat hy twee swart klippies opgetel en in die geldsak gegooi het.

Die geldskieter gee toe opdrag aan die boer se dogter om ’n klippie uit die sakkie te kies.

Die meisie het drie moontlikhede gehad om te oorweeg:

Sy kon weier om ’n klippie te kies – maar sy is bewus wat die gevolg daarvan sal wees.

Die meisie moet bewys daar is twee swart klippies in die sak – maar op so ’n wyse dat die geldskieter nie agterkom sy is bewus van sy knoeiery nie.

Sy kies ’n swart klippie uit die sak en offer haarself op terwille van haar vader.

Sy het so ’n wyle gedink en druk toe haar hand in die sakkie en haal ’n klippie uit. Sonder om na die klippie te kyk maak sy of sy baie onhandig is en laat die klippie val in die klippie bestrooide paadjie. Onmiddellik is die klippie verlore tussen al die ander klippies in die paadjie.

“O, hoe onhandig van my,” sê sy. “Maar dit maak nie saak nie, as jy in die sakkie kyk na die klippie wat oor is, sal jy kan bepaal watter klippie ek gekies het.”

Aangesien die oorblywende klippie swart is, moet dit aanvaar word dat die klippie wat sy gekies het wit was.

Die geldskieter kon dit nie waag om sy oneerlikheid te openbaar nie anders sou die landdros hom opsluit vir bedrog.

Op die wyse het die boer ontkom aan sy skuld en sy aan ’n huwelik wat nie gebou is op liefde nie.

Les:
Selfs baie moeilike probleme het ’n oplossing. Die dilemma is deesdae dat mense nie ’n poging aanwend om intens te soek na ’n geskikte oplossing nie. Dis makliker om moed op te gee as om die brein daardie bietjie harder te laat werk.
Ons kan maar gaan kyk na vandag se jongmense, baie van hulle probeer nie eens die probleem oplos nie, hulle hardloop direk na pa en ma en gooi die probleem in hulle skoot. En wonder bo wonder – ons is so stupid – ons probeer dit vir hulle oplos.
Liewe Pa en Ma laat hulle maar bietjie sukkel want jy doen hulle nie so groot guns as wat jy dink nie. Laat die kinders eers kom met hulle oplossing en jy kan help om dit vir hulle te verfyn totdat dit perfek pas vir die probleem.

Tuesday, November 23, 2010

Die Slang en die Paddas


In die dam het daar ’n klompie paddas gewoon. Hulle was baie vriendelik met mekaar asook met al die ander diere in die woud. Omdat hulle geen vyande gehad het nie kon hulle die heeldag rondplas en spring in die dam. Selfs die koning en koningin padda het ’n luilekker lewe gehad en kon die heeldag rondgelê en kwaak.

Eendag kom daar ’n ou en verswakte slang verby die dam geseil. Hy stop toe hy die klomp paddas in die dam sien baljaar en dans. Die slang dink by homself, “Goeiste, watter feesmaal kan ek nie hier geniet nie! Kyk net die groot aantal paddas wat hier is. Ek kan myself knuppeldik vreet aan die klomp. Maar ai, wat sal ek doen, ek is so oud en swak. Ek sal een of ander slim plan moet beraam om hulle te vang.”

Nadat hy sy plannetjie fyn uitgewerk het seil hy stilletjies na die dam en gaan lê doodstil onder een van die bome.

Twee jong prins paddas, wat baie spelerig was, sien die slang onder die boom lê en besluit om nader te gaan en te kyk wat is fout met die slang. Die twee paddas kom baie versigtig nader en raak aan die slang se lyf, sy lyf maak so effense beweginkie. Die twee prins paddas spring dadelik so paar treë weg, maar die slang bly doodstil lê.

Die een padda vra aan die ander, “Hoe is dit dat ons nog nooit die slang vantevore hier gesien het nie?” “Ek weet nie,” antwoord die ander een, “maar ek dink hy is dood, dié dat hy so stil lê.”

Terwyl hulle twee so bespiegel oor die herkoms van die slang en of hy dood is of wat, maak die slang sy oë oop en fluister saggies aan hulle, “Moet nie skrik nie. Ek is te oud om enige kwaad aan julle te doen. Ek is vervloek, daarom is ek onskadelik en is my lot om julle te dien. Spring op my en ek sal julle koninklike vervoer wees. Van vandag af sal ek julle dra waar julle ook al wil wees.”

Aanvanklik was die twee prins paddas maar baie skepties oor die slang se woorde maar hy het so onskadelik en opreg voor gekom dat hulle kort voor lank op die slang se rug spring en hy het hulle vir ’n heerlike rit geneem.

Intussen het die koning padda na hulle geroep, “Kinders, waar is julle? Dis tyd dat julle huis toe kom.”

Die twee prins paddas spring vinnig van die slang se rug af en hardloop huis toe terwyl die ou slang hyg om sy asem terug te kry nadat hy die twee paddas klaar vir hul pret rit geneem het.

Intussen het die twee prins paddas baie opgewonde na hul koningin ma gehardloop om die storie van die slang rit te vertel. Sy was so geskok toe sy die twee se wedervaringe met die slang hoor dat sy hulle onmiddellik beveel het om nie weer naby die slang te kom nie. Sy het die koning padda ingelig oor die kinders se ondervinding en hy het hulle dadelik beveel dat hulle hom die slang moet gaan wys.

Die prins paddas gaan na die slang en pleit by hom dat hy hulle weer vir ’n rit op sy rug sal neem sodat hulle pa kan sien hy is onskadelik. Sommer gou het die slang die koning padda ook vir ’n rit op sy rug geneem.
Terwyl die ander paddas die petalje gadeslaan waarsku hulle die koning padda, “Asseblief koning, moet dit nie doen nie. Die slang kan nooit ons vriend wees nie. Dit sal ons almal nog eendag doodmaak.”

Maar die koningin padda antwoord baie snedig, “Net omdat die slang julle nie op ’n rit wil neem nie en hy slegs bedoel is om die koninklike familie te dien, is julle jaloers.”

Nou het dit ’n daaglikse roetine geword vir die koninklike paddas om vir ’n rit te gaan om die dam op die slang se rug.

Eendag voel die slang baie swak, so swak dat hy nie die koning op sy rit om die dam kon neem nie. Die koning vra aan die slang, “Wat is fout met jou? Jy is vandag baie traag en swak.”

Die slang antwoord, “Ek het u en u gesin reeds die laaste maand gedien, as die koninklike vervoermiddel, maar ek het nog niks geëet nie. Ek voel nou baie swak.”

Die koning vra die slang, “Wat is dit wat jy graag sal wil eet?”

Die slang antwoord, “Daar is so baie paddas in u koninkryk. Ek sal graag een padda ’n dag wou eet om my honger te stil en weer my kragte op te bou.”

Vir ’n oomblik was die koning onkant gevang deur die vreemde versoek van die slang maar hy het besef dat hy so baie onderdane het wat in die dam rondspring dat een ’n dag geen verskil sal maak nie. Met dié, gee hy toe aan die slang se versoek. So het die slang begin om een padda op ’n dag te eet. Baie gou het die slang al sterker begin word en die getalle van die paddas in die dam baie minder.

Die slang het nou so gewoond geraak daaraan om een padda per dag te kry vir ete dat toe daar geen paddas meer in die dam was nie het hy eers die prins paddas geëet en toe die koning en die koningin paddas.

Die dam het geen paddas meer gehad nie en hulle gekwaak en spelery in die water het vir ewig stil geword.

Les:
Dit is so maklik om betrokke te raak in wat verkeerd is en dit begin soms met baie klein dingetjies wat op die oog af onskuldig voorkom maar hulle kan baie gou hand uitruk en jou hele lewe verwoes.

Friday, November 19, 2010

Die stryd van die oorblyfsel


Ek sien die smart van ʼn volk – hulle oë wat so met trane blink.
Ek sien ʼn geknakte riet, moeg aan die beker van gal gedrink.
Ja, ʼn wanhopige volk wat dink dat Ek nie meer aan hul dink.

Ek sien ʼn klein oorblyfsel wat op hul laaste krag nader hink.
Met ʼn strydlied wat uitdagend oor Afrika se vlakte weerklink.
Hulle hou omhoog ʼn gelofte geskryf in bloed in plaas van ink.

Met engele wat ʼn traan wegpink oor hul wat weier om te sink.
Terwyl My eie hand hul nou vriendelik so simpatiek naderwink.

Kyk, Ek stuur hul die profeet Elia om die weg na My te kan vind.
Ja, hy sal terugbring die hart van die vaders, sowel as die kind.
Vir elke verseëlde om die pad na die Vaderhuis nou terug te vind.
Sodat Ek self sorgsaam die wonde van My oorblyfsel kan verbind.

Maar kyk, die goddelose word voor die voet deur die dood verslind.
Sodat die gruwel, vermeteles nou in die ewige afgrond kan ontbind.
Om as waardelose stoppels vir ewig weg te kan waai in die wind.
Ja, die sogenaamde verligtes met soveel selfvertroue- tog so blind.

Judith de Beer
Donderdag 18 November 2010 17:46

Thursday, November 18, 2010

Tuesday, November 16, 2010

Die Jakkalsie en die Slagyster


Die klein jakkalsie was nou gespeen en dit was tyd dat hy moes leer om vir homself te sorg. Ma jakkals moes eers vir klein jakkals al die gevare in die woud gaan uitwys voordat hy vir homself kan begin sorg.

Vroeg die oggend draf ma jakkals en klein jakkals reeds die woud binne opsoek na iets om te eet. Vir klein jakkals het dit gevoel of die nag hopeloos te lank was, want teen dagbreek was hy al dood van die honger. Gister was daar nie veel om te eet nie en ma jakkals het vir hom net twee muise gevang wat hy kon eet.

Ma jakkals gaan staan ’n rukkie stil en snuif met snoet in die lug om die reuk op te tel van enige prooi wat dalk in die omgewing mag wees. Klein jakkalsie druk ook sy neus in die lug en snuif so al wat hy kan.
Wag ’n bietjie, hy ruik iets, yip, dit ruik soos kos, bietjie oud maar dit ruik beslis na iets wat hy nog kan eet.

Voordat ma jakkals nog kan keer spring klein jakkals weg en hardloop na die omgewing van waar die reuk kom. Tussen twee klein struike lê die dooie hasie. Sjoe, hoe gelukkig kan ek wees, dink klein jakkals en dit nogal op my eerste jagtog. Ma jakkals gaan beslis baie trots wees op my dat ek so vinnig kan leer om te jag.

Klein jakkals wou net die hasie gryp toe ma jakkals hom agter die nek gryp en weg sleep van die hasie af. “Maar.... maar.... hoekom kan ek nie die hasie vang en eet nie?” vra klein jakkalsie. “Hmmm ek dink sy is jaloers omdat ek die hasie kon kry voor haar,” dink hy by homself.
Ma jakkals sê vir klein jakkals, “Wanneer jy so ’n maklike prooi sien moet jy eers mooi kyk of dit nie dalk ’n lokval kan wees nie.” “’n Lokval, wat is dit?” vra klein jakkals. “Dit is wanneer iemand iets baie lekkers binne ’n slagyster plaas en sodra jy daaraan gaan proe dan klap die slagyster toe. Die slagyster kan jou baie ernstig beseer en selfs doodmaak.” vertel ma jakkals.
“Kom ons bespied eers die omgewing en probeer eers uitvind of daar nie vreemde reuke en ander tekens in die omgewing is wat dalk vir ons kan wys dit is ’n lokval nie.”

Klein jakkals is nie baie lus om die haas te los nie, sê nou maar net ’n ander jakkals kom steel die haas terwyl hulle besig is om die omgewing te ondersoek, dan is hy hierdie lieflike maaltyd kwyt. Hy sal maar maak of hy die omgewing ondersoek en sodra hy ’n kans kry sal hy die haas gryp, hy is nog jonk en baie rats. Klein jakkals is seker hy sal die haas kan gryp voordat die slagyster toeklap. Terwyl ma jakkals die omgewing fynkam maak klein jakkals of hy ook alles beruik en ondersoek, maar hy bly nie vêr van die hasie af nie. Hy wonder of sy miskien reg kan wees oor die slagyster, maar dan moes die slagyster mos klaar afgegaan het as die hasie daarbinne sit, dink hy by homself.
Miskien moet hy die hasie met sy poot probeer nadersleep, op die manier kan dit dalk veilig wees.

Toe ma jakkals nie vir klein jakkals kyk nie steek hy sy voorpoot suutjies uit en kry die hasie aan sy agterpoot gehaak. Hy begin baie stadig te trek, niks gebeur nie, dit kan dalk werk.
Die volgende oomblik klap die slagyster.

Die slagyster knyp twee van klein jakkals se trone vas. Klein jakkals begin verskriklik te tjank. Die pyn is verskriklik. Ma jakkals kom aangehardloop.
“Hoekom het jy nie vir my geluister toe ek jou gewaarsku het oor die moontlike slagyster nie?” vra sy.
“Ek het gedink dat ek dit saggies kon nadersleep sonder om die slagyster af te sit.” antwoord klein jakkals tussen die getjank deur.

Ek weet dit is baie seer maar jy sal moet probeer om jou tone uit die slagyster uit te trek voordat die een wat die slagyster gestel het hier aankom, want hy sal jou beslis doodmaak.
Klein jakkalsie trek aan sy poot, maar dit is so seer, hy wil dit net vir ’n klein rukkie los dat die kloppende pyn kan bedaar. Ma jakkals draai al in die rondte om klein jakkals, maar daar is net mooi niks wat sy kan doen nie.

In die vêrte hoor ma jakkals die geblaf van honde wat besig is om nader te kom, sy weet presies wat dit beteken. Die slagyster steller is op pad om na sy slagysters te kom kyk. As klein jakkalsie nie nou kan uitkom nie is hy gedoem.
Ma jakkals kerm by klein jakkals dat hy ’n laaste desperate poging sal moet aanwend anders gaan dit te laat wees.

Klein jakkals knyp sy oë styf toe en gee een geweldige ruk aan sy voorpoot. Hy voel hoe die twee toontjies uit skeur uit sy vleis, maar hy is los. Die bloed stroom uit die gapende wond waar die twee toontjies eers was. Maar nou is daar nie tyd om sy wonde te lek nie, hulle sal moet hardloop anders gaan die honde hulle vang.

Ma jakkals en klein jakkals het net-net ontvlug van die honde en die slagyster steller.

Ma jakkals moes vir die volgende klompie dae eers weer vir klein jakkals sorg omdat hy nie kon jag nie. In die tyd het sy baie tyd spandeer om hom te vertel van al die gevare wat daar skuil. Hierdie keer was klein jakkalsie se ore wawyd oop en hy het mooi geluister na alles wat ma jakkals hom vertel het.

Klein jakkals se poot was net amper mooi gesond toe ma jakkals terugkeer van haar jagtog. Sy het baie hartseer gelyk en klein jakkals wou weet wat is verkeerd. Sy sê vir klein jakkals dat hy moes saamkom, daar is iets wat sy hom wil gaan wys. Hulle draf so tien minute die woud in en kom by ’n groot opening in die woud. Daar in die middel van die opening sien klein jakkals iets lê. Wat kan dit wees?, wonder hy.

Hulle stap nader, die ding wat daar lê beweeg nie, maar die ding lyk baie bekend. Dit is ’n ander klein jakkals wat daar lê. Toe hulle by die jakkals kom sien klein jakkals dat die jakkalsie is gevang in ’n slagyster, maar die slagyster het hom aan die kop gevang en sy nek gebreek.

Ma jakkals begin vir klein jakkals te vertel dat die grootste gevaar wat daar bestaan is die natuurlike instink wat hulle het. Hulle weet dat daar gevaar aan verbonde is met so ’n maklike prooi en dat dit ’n lokval kan wees, maar van nature sal hulle neig om die prooi te gaan vat. Indien jy nie leer om die lokvalle te vermy nie sal jy nie lank oorleef in die woud nie.

Niks is maklik nie, as iets te maklik lyk is die kanse baie groot dat dit ’n lokval is en die versoeking van ’n maklike maaltyd is altyd daar om jou te verlei sodat jy in die slagyster trap. Dit is wat die slagyster steller wil hê jy moet doen. Hy maak staat op jou natuurlike geneigdheid. Die enigste uitweg is om daardie natuurlike geneigdheid te laat staan want dit kan jou lewe kos.

Les:
Ons as mense het ook die natuurlike geneigdheid om te sondig en ons val so maklik in die verleier se slagyster. Soms kom ons lig daarvan af en ander kere kan dit ons lewe kos. Die enigste manier is om die geneigdheid tot sonde voor Majesteit YaHWeH te kom plaas sodat Hy ons kan verlos en ons ’n ander weg kan kom leer. Ons moet net bereid wees om te luister en te doen. Dan kan ons ’n ryk en genade vervulde lewe leef.

Monday, November 15, 2010

Geduld en Tyd

Thursday, November 11, 2010

YaHWeH en die Spinnekop


Gedurende die Tweede wêreld oorlog, op ’n eiland in die middellandse see, het ’n Amerikaanse soldaat geskei geraak van sy peloton. Die geveg was baie intens en te midde van die rook en die kruisvuur het hy kontak verloor met sy kamerade.

Alleen in die woud, kon hy die vyandige troepe hoor aankom in sy rigting. Terwyl hy vlug vir behoorlike skuiling en voldoende kamoeflering, is hy teen die randjie op waar daar heelwat klein grotte is. Vinnig kruip hy in een van die grotte in. Alhoewel hy veilig vir die oomblik is, besef hy dat wanneer die vyand eers op die koppie is, sal hulle vinnig al die grotte deursoek en hom maklik in die hande kry. As hulle hom eers het, dan is sy doppie geklink.

Terwyl hy wag, begin hy te bid, “Dierbare Majesteit YaHWeH, indien dit U wil is beskerm my asseblief. Wat ook al U wil is, ek het U lief en vertrou U. Amen.”

Nadat hy gebid het lê hy en luister hoe die vyand naderkom. Hy dink by homself, dit lyk nie of Vader hom gaan help om uit dié een te kom nie. Met dié sien hy ’n spinnekop wat besig is om sy web te spin oor die ingang van die grot.

Terwyl hy die spinnekop dophou, hoe hy die een sydraad bo oor die ander spin in die komplekse web, hoor hy hoe die vyand al nader kom, opsoek na hom.

Hah, dink hy. Wat ek nodig het, is ’n klipmuur voor die grot se ingang en Vader stuur my ’n spinnekop web. YaHWeH moet beslis ’n sin vir humor hê.
Terwyl die vyand al nader kom, kyk hy vanuit die donkerte van sy skuilplek hoe hulle die een grot na die ander deursoek.

Terwyl hulle aangestap kom na die grot waarbinne hy skuil, maak hy gereed om homself tot die bitter einde toe te verdedig. Tot sy verbasing het hulle net so eenmaal in die rigting van die grot geloer waarin hy skuil en aangeloop.

Skielik besef hy, met die spinnekop web voor die ingang van die grot lyk dit of niemand in die grot ingegaan het vir ’n lank tyd nie.

Majesteit YaHWeH vergewe my, bid die jong soldaat, ek het vergeet dat by U is ’n spinnekop web baie sterker as ’n klipmuur.

Wednesday, November 10, 2010

O’ Vader onthou U verbond.


O’ Vader wat woon in die hemel ons kyk om ons rond.
Sien ons trane, ja luister na die klaaglied uit ons mond.
In wrede moorde soveel onskuldiges wat wreed omkom.
Ons staan alleen niemand wat omgee- dit is die slotsom.
Ja, ons kosbare lewe is minder werd as die van ʼn hond.
Om verminkte lyke, heilige bloed in die dood vasgeklont.

O’ Vader wat woon in die hemel so kyk ons om ons rond.
Sien ons trane, ja luister na die klaaglied, uit ons mond.
Kyk ons bloed- soveel bloed roep om wraak uit die grond.
In moord en verkragting, O’ God ons volk lê diep verwond.
Soveel vergruisde lyke lê in grafte nou oral in die land rond.
Onthou O’ Vader- eens het U met ons gesluit ʼn verbond.

Ons Vader wat woon in die hemel, ons kyk om ons rond.
Sien ons trane, ja luister na die klaaglied uit ons mond.
Mans, vroue en kinders lê geslag, meeste van hul blond.
Terwyl Raka onversadigbaar om meer blanke bloed grom.
Roep uit die grond die bloed van ʼn volk: God U moet kom.
Anders kom geheel U volk in die stof van Suid-Afrika om.

Onse Vader wat woon in die hemel ons kyk om ons rond.
Ons erken ons foute, ook sonde, ons was ʼn regte vabond.
Maar ons roep om U genade ons bly U volk van U verbond.
Ons kosbare bloed roep as martelare nou vanuit die grond.
Oor ʼn verwronge regstelsel, staan ons stil, totaal verstom.
Laat daarom U arm van Geregtigheid op die aarde neerkom.

Judith de Beer
Dinsdag 9 November 2010 18.10

Tuesday, November 9, 2010

Die Drie Poppe


Die wyse man het drie poppe aan die prins gegee as ’n geskenk. Die prins was nie beïndruk deur dié geskenk nie.
“Is ek miskien ’n meisie dat jy vir my drie poppe gee?” vra hy.

“Dit is ’n geskenk vir ’n toekomstige koning,” sê die wyse man. “Indien jy die poppe van naderby bekyk sal jy sien dat elke pop ’n gaatjie in hul oor het.”

“En wat daarvan?”

Die wyse man oorhandig aan hom ’n stukkie tou.

“Druk dit in die gaatjie by die oor van elke pop,” sê hy.

Geamuseerd, tel die prins die eerste pop op en druk die toutjie by die pop sê oor in. Dit kom toe by die ander oor uit.

“Dit is een tipe persoon,” sê die wyse man. “Wat jy ook al vir hom vertel of sê kom by die ander oor uit sonder dat hy enigsins ag slaan op dit wat jy hom vertel.”

Die prins tel die tweede pop op en ryg die toutjie by die pop sê oor in. Die toutjie kom toe by die pop se mond uit.
“Dit is die tweede tipe persoon, sê die wyse man. “Wat jy hom ook al vertel, gaan vertel hy net so oor aan ander.”

Die prins tel die derde pop op en herhaal die proses. Die toutjie kom nêrens te voorskyn nie.
“Dit is die derde tipe persoon,” sê die wyse man.” Wat jy hom ook al vertel sluit hy binne homself op. Dit kom nooit weer te voorskyn”

“Wat is die beste tipe persoon?” vra die prins.

In plaas van ’n antwoord oorhandig die wyse man aan die prins ’n vierde pop.
Toe die prins die toutjie by die oor inryg kom dit by die ander oor uit. “Doen dit weer.” beveel die wyse man.
Die prins herhaal die proses. Die keer kom die toutjie by die mond uit.
Toe hy die toutjie die derde keer inryg, kom dit glad nie uit nie.

“Dit is die beste tipe persoon,” sê die wyse man. “Om betroubaar te wees moet ’n man weet wanneer om nie te luister nie, wanneer om stil te bly en wanneer om wel te praat.”

Friday, November 5, 2010

Die Boom en Gewoontes


’n Ryk man het die ou leermeester versoek om sy seun onder sy sorg te neem en hom sovêr te kry om van sy slegte gewoontes ontslae te raak.
Die ou leermeester het die jong man vir ’n wandeling deur die tuin geneem.

Skielik stop hy en vra die seun om ’n klein plantjie wat in die tuin groei uit te trek. Die seun neem die plantjie tussen sy voorvinger en duim en trek dit met gemak uit. Hulle stap vêrder in die tuin en die ou leermeester vra die seun om ’n bietjie groter plantjie uit te trek. Die jongeling trek effens harder en die plant kom uit met wortel en al.

“Trek nou die een uit,” sê die ou leermeester terwyl hy beduie na ’n groterige struik in die tuin. Die seun moes al sy kragte inspan om die struik uit te trek en hy kon die struik ook maar net-net uittrek.

“Neem nou die een,” sê die ou leermeester terwyl hy na ’n koejawel boom beduie. Die seun gryp die koejawel boom aan die stam en probeer dit uittrek. Hoe hy ook al probeer, die koejawel boom gee nie skiet nie.

“Ek,.... Dit is onmoontlik,” sê die seun terwyl hy hyg om sy asem terug te kry na die inspanning.

“So is dit met slegste gewoontes” sê die ou leermeester. “Wanneer hulle jonk is, is dit maklik om hulle uit te trek en van ontslae te raak maar wanneer hulle eers gevestig is en behoorlik wortel geskiet het, kan hulle nie sommer ontwortel word nie.”

Die seun het die les van die ou leermeester verstaan en sy lewe verander om die slegte gewoontes sommer klein-klein uit te trek.

Tuesday, November 2, 2010

“Dapper” Dawie


Die jong klomp het op ’n dag besluit om ’n uitstappie te onderneem in die berge. Dit was ’n pragtige sonskyn dag en almal het besluit dat hulle by Susan se huis bymekaar sal kom en daarvandaan sal vertrek vir die berg uitstappie.
Die berg was nie ’n kleintjie nie en hier en daar was daar baie gevaarlike plekke met steil kranse en mens moet twee plekke deur grotte kruip om aan te gaan met die bergpaadjie na die kruin.

Die groepie het uit vier jongmense bestaan, Susan, Annetjie, Dawie en Wouter. Dawie was die voortvarende een van die groep. Annetjie en Wouter was maklik beïnvloedbaar en het hulle maar laat lei deur die sterkste een in die groep. Susan aan die anderkant was seker van haarself en sy het haar nie maklik laat beïnvloed deur die groep nie.

Voor hul vertrek roep Susan se ma haar en sê dat hulle van die stap-lampe moet saamneem op hul staptog, mens weet nooit wat kan gebeur daar in die berg nie. Die weer kan in ’n ommesientjie verander of iets gebeur en hulle kom dalk nie voor donker van die berg af nie. In die twee grotte is dit ook baie donker en mens kan maklik gly en val.
Susan se ma was nie baie ingenome met die staptog nie maar sy het besef dat Susan al groot is en dat dit tyd is dat sy die leisels so bietjie sal moet skiet gee.
Susan wou eers teëstribbel maar sy het baie gou haar ma se argument ingesien en verstaan dat enige iets op hierdie staptog kan gebeur. Saam met hulle bagasie vir die staptog sou die dra van die stap-lampe ietwat ongemaklik wees maar die voordele indien iets gebeur is verreweg beter as die bietjie ongerief.
Die stap-lampe was darem nie te groot nie en sou net genoeg lig geen vir een persoon om sy pad te sien.

Dawie het volstrek geweier om ’n stap-lamp te neem. Sy argument is dat hulle jonk en sterk is en dat hulle die staptog gou sal afhandel, hulle behoort inteendeel nog voor vier uur die middag by die huis te wees. Annetjie was begeesterd deur Dawie se selfvertroue, sy het heimlik baie van hom gehou. Dit sou dalk haar aansien in Dawie se oë laat daal indien sy nou ’n stap-lamp sou neem, want dit sal lyk of sy geen vertroue in hom het nie. Sy het vas geglo dat Dawie sal toesien dat niks met haar op die staptog sal gebeur nie.

Wouter was twyfelagtig of hy ’n stap-lamp moes neem, dit sou ongerieflik wees en kan hom soos ’n sussie laat lyk in die oë van sy vriend, maar die stap-lamp sou darem gemoedsrus gee indien iets skeefloop met die staptog. Na lang oorweging besluit Wouter om maar tog ’n stap-lamp te neem. Dawie het niks gesê nie maar Wouter kon die spot in sy oë sien en die klein trekkie van ’n spottende glimlag om sy mondhoeke.
Vreemd genoeg het die stap-lamp aan Wouter ’n mate van vertroue gegee en hy het hom nie verder gesteur aan wat sy vriend dink nie.

Almal was nou gereed vir ekspedisie “berg klim” en vrolik vertrek die jong klomp van Susan hulle se huis af. Dit was so vyf kilometer se stap voordat hulle die voet van die berg bereik het. Die stap op die oop vlakte was gemoedelik en almal het uitbundig gelag en gesels.

Die bergpaadjie is vir die eerste kilometer nie te steil nie maar nou moet hulle begin om agter mekaar te stap want die paadjie is maar smal. Dawie stap heel voor want hy het sommer self besluit dat hy die geselskap sal lei en die pas sal aangee. Hy word gevolg deur Annetjie en dan deur Susan en Wouter. Die stap-lampe maak dat hulle twee nie so vinnig kan vorder as Dawie en Annetjie nie.

Dawie is ietwat geïrriteerd met die twee wat agter loop en toe hulle die volgende gedeelte, wat meer steil en moeilik is, vra hy vir Annetjie en Wouter of hulle nie maar die lampe wil los nie. Hy sê hulle kan mos sien dat hulle nou al ’n hele rukkie stap en daar is geen teken van slegte weer nie. Susan weier volstrek en sê dat sy maar sal aankarring met haar lampie. Wouter begin al so effens twyfel, maar nie genoeg om hom te oortuig om van sy lamp afstand te doen nie.

Sowat ’n uur later bereik hulle die eerste van die grotte waardeur hulle moet gaan. Die koeligheid van die grot was ’n baie welkome verligting van die hitte. Hulle besluit om eers so rukkie te vertoef en asem te skep. Dawie begin weer met sy relaas oor die onnodigheid van die lampe. Sy argument is dat dit nog sowat 3 ure se stap na die kruin is, hulle kan dus so ongeveer 12 uur op die kruin wees en weer 3 uur terug by die grot. Indien hulle nou hul stap-lampe hier los dan kan hulle dit weer kom kry wanneer hulle terugkom. Sonder die stap-lampe sal hulle miskien ook bietjie vinniger kan stap. In elk geval met die mooi weer wat hulle ervaar is die grotte nie so donker nie en kan mens met min moeite die paadjie nog sien.

Dawie se argument is baie oortuigend en Wouter besluit dat hy sy stap-lamp hier sal los en weer sal kry met die terugkom slag. Susan daarenteen weier om haar stap-lamp te los. Die weer mag miskien nou mooi en pragtig lyk maar dit kan na die tweede grot sommer gou verander na die mees grusame stormweer. Sy is nie bereid om die kans te waag nie. Die ander drie is glad nie gelukkig met haar besluit nie en besluit dat hulle sal stap teen die pas wat vir hulle gerieflik is en as sy nie kan bybly nie dan is dit maar haar saak.
Susan is baie hartseer oor die houding wat haar vriende nou skielik openbaar, dit was veronderstel om ’n heerlike uitstappie te wees en mekaar se geselskap en kameraadskap te geniet. Noudat sy nie bereid is om afstand te doen van haar
stap-lamp nie, is sy die een wat hulle terughou en hul pret bederf.

Die groepie vertrek na die kortstondige rus in die grot. Dawie heel voor gevolg deur Annetjie en Wouter. Susan was heel laaste. Baie gou het Susan begin agter raak by die voorste drie en sy kon met die beste wil onder die son nie byhou met hulle pas nie. Sy kon ’n effense moedswilligheid by hulle bespeur met die pas wat hulle stap. Hulle wou haar wys net hoe stadig raak sy omdat sy nie haar stap-lamp wil los nie.
Susan kon voel hoe die trane opwel in haar oë en die hartseer haar oorweldig oor die moedswilligheid van haar vriende, maar steeds was sy nie bereid om afstand te doen van haar stap-lamp nie.

Binne ’n uur het die voorste drie reeds die volgende grot bereik en kon hulle eers bietjie uitrus in die koeligheid. Na tien minute kom Susan eers by die grot aan. Dawie en sy maats is reeds besig om op te pak en die res van die roete aan te durf na die piek van die berg. Hulle ignoreer haar terwyl sy uitasem haar rugsak en stap-lamp eenkant neersit om bietjie te rus van die vermoeiende stap. Hulle loer net so vlugtig in Susan se rigting begin die laaste gedeelte van die staptog aan te pak.

Dawie, Annetjie en Wouter was skaars vyftien minute se stap van die laaste grot toe die onweerswolke oor die berg se piek begin val. Die weer het baie skielik opgekom en die wind was yskoud. Annetjie was baie beangs en het Dawie se hand gegryp.
Annetjie het by Dawie begin pleit dat hulle moet omdraai en teruggaan maar Dawie was vasbeslote om die piek te bereik. Indien hulle nou sou terugdraai sal dit beteken dat Dawie sal moet erken dat hy dalk verkeerd was oor die weer.
Daardie plesier sal hy Susan nie gun nie.
In elk geval was die piek nog sowat vyftien minute se stap vêr gewees. Na ’n verdere vyf minute se stap het die onweerswolke reeds dig saamgepak en was dit baie moeilik om die bergpaadjie te sien.

Die stormwind het klein klippies en sand van die steil hange laat neerreën op hulle, Wouter en Annetjie was baie benoud, Dawie ook, maar hy sou dit nooit erken nie. Die wind het nou met geweldige krag oor die berg gekom en elke dan en wan het die rukwinde gedreig om hulle oor die afgrond van die steil bergpaadjie te ruk. Hulle moes vasklou aan die rotswande vir hul lewens.
Dawie het voortgebeur teen die wind in, hy kon nie meer die paadjie voor hom sien nie en het met sy voete gevoel vir enige obstruksies in die pad. Elkeen was nou aangewese op homself en moes met albei hande vasklou aan die rotswande.

Wouter en Annetjie het besluit dat hulle gaan omdraai, miskien kan hulle dalk nog die grot haal. Dawie het gesê dat hy nie sal omdraai nie, hulle kan maar as hulle wil, maar hy laat hom die onderkry deur ’n ou stormpie nie. Wouter en Annetjie het skaars omgedraai of hulle hoor die angswekkende gil van Dawie. Hy kon nie die paadjie sien nie en het gestruikel en oor die afgrond gestort.
Wouter en Annetjie het met skuifel treetjies hul weg gevoel terug na die grot toe, krampagtig het hul vingers geklou aan al wat ’n skeurtjie en gaatjie in die rotswand is.

Susan was reg vir die laaste gedeelte van die staptog, toe sy by die anderkant van die grot uitkom, merk sy die onweer wat skielik opgesteek het. Sy het gou besef dat hierdie nie net ’n paar wolkies is wat vinnig gaan oorwaai nie, sy bly al lank genoeg in die omgewing om te weet dat die weer swaar reën, hale en sneeu kan bring. Sy het vinnig haar stap-lampie afgehaal en aan die brand gesteek. en terug gestap in die grot. Mens kan nie glo hoe vinnig dit donker geword het nie, skaars vyf minute gelede kon jy nog redelik goed sien wat aangaan in die grot en nou is dit stikdonker, jy kan skaars jou hand voor jou oë sien.
Susan is nou baie dankbaar vir haar stap-lampie en dat sy hardkoppig bly vasklou het aan haar beginsel om nie die stap-lampie agter te laat nie. Sy het dieper die grot in gegaan om weg te kom van die snerpende koue en reën.

Intussen is Wouter al baie spyt dat hy hom laat ompraat het om sy stap-lampie agter te laat by die eerste grot. Hy sal enige iets doen om daardie besluit van hom ongedaan te maak. As hulle net die grot kan bereik, dan kan hulle daar skuil totdat iemand hulle kom red. Hy en Annetjie was sowat vyf minute weg van die grot en hulle was reeds deurnat van die ysige reën wat in vlae oor hul uitsak. Nou en dan kon hy voel hoe stukke hael hom kasty teen sy rug en nek. Annetjie was in trane van benoudheid en hartseer oor Dawie wat oor die afgrond gestort het. Sy was in skok en al haar handelinge was soos die van ’n robot, net so nou en dan kon sy Wouter se bemoedigende woorde hoor, “Klou vas en kom agter my aan, ons kan dit maak, dis nie meer te vêr nie!

Dit was nog net ’n paar treë na die ingang van die grot, Wouter kon sien dat Annetjie reeds doodmoeg is en dat sy nie meer kan vashou aan die rotswande nie. Hy het sy hand uitgesteek om haar aan die arm beet te kry. Hy het skaars aan haar arm gevat toe hy voel hoe sy struikel en val. Wouter val op sy knieë en gryp haar met albei hande, hy kon haar aan haar rugsak beetkry. Sy vinger pyn van die vashou aan die rotswande en die koue maar hy klou aan die rugsak. Haar tenger lyfie hang oor die afgrond en dis net die bande van die rugsak wat haar teëhou dat sy nie na benede stort nie.
Sy is moeg, moeg van die baklei teen die storm, moeg van baklei om by veiligheid te kom, moeg gehuil oor haar vriend Dawie. Sal sy nie maar net los en hoop daar is ’n vinnige einde aan alles nie?
Wouter hou vas en begin Annetjie baie stadig op te trek. Dis ’n moeilike taak met die rugsak wat nat is want dit is effe glad. Na ’n paar minute se inspanning kry Wouter vir Annetjie opgetrek sodat sy langs hom sit op die bergpaadjie.
Hande-viervoet kruip hulle na die grot terwyl die rotse en klippe hulle bene en hande stukkend sny.

Na ’n paar minute bereik hulle die beskerming van die grot. Albei sit en huil van dankbaarheid dat hulle die veiligheid van die grot bereik het.
Susan hoor bokant die geloei van die wind die geroep van Wouter. So vinnig as wat die lig van haar stap-lampie haar toelaat om te loop stap sy na die grot ingang. Daar tref sy Wouter en Annetjie aan, albei yskoud en bebloed van die kruipery na die grot.
Die twee is te dankbaar vir die liggie van Susan se stap-lampie en dis asof hulle weer nuwe moed skep deur die lig en warmte van Susan se stap-lampie.

Gou verbind Susan hul wonde en probeer hulle twee toemaak met die handdoek wat sy saamgebring het in haar rugsak. Wouter en Annetjie vertel van die tragedie wat gebeur het met Dawie en hoe spyt is hulle dat hulle maar nie na haar geluister het nie.
Wouter en Annetjie wil net weet hoe hulle nou gaan maak om af te kom van die berg af, maar Susan sê dat hulle net rustig moet wag. Haar vader sal binnekort na hulle kom soek, want hy sal haar nooit alleen los nie.
Hulle is baie bekommerd oor wat hulle gaan doen wanneer die stap-lampie se liggie doodgaan maar weereens verseker Susan hulle dat die stap-lampie se liggie nie sommer sal doodgaan nie, want haar vader maak doodseker dat daar genoeg krag in die lampie is vir die hele tog wat hulle moes stap en nog meer.

Les:
Ons elkeen gaan deur die lewe op hierdie staptog, soms is die pad maklik en ander kere moeilik. Soms is dit mooiweer en sonskyn en ander kere is dit onweer en gevaar. Maar aan ons elkeen word die stap-lampie van Vader YHWH aangebied. Dit is ons keuse of ons die stap-lampie (waaragtige geloof in ons Majesteit YHWH) wil neem of nie. Op die lewenspad wat ons wandel lyk dit soms of die “stap-lampie” ons baie stadig maak en ons vriende hou nie daarvan dat die lampie ons terughou nie. Soms wil ons vriende hê dat ons die lampie langs die pad moet los en ander kere vertrou ons hulle blindelings want hulle woorde van oortuiging klink so opreg en logies.
Maar dit gebeur ook dat wanneer die storms kom en ons het nie Vader se stap-lampie geneem nie, dat ons, ons lewe kan verloor, dan is dit ewiglik te laat. Soms kom ons met ons lewe daarvan af en kry ons ’n tweede kans.
Ons kan nie die lewenspad aanpak sonder ons “stap-lampie” nie. Wanneer die lewens storme ons oorweldig en ons moet skuiling soek moet ons geduldig wag op ons Majesteit YHWH, Hy sal ons kom soek en kry en ons moet glo dat Hy ons lamp genoegsaam opgevul het met olie vir die hele staptog en nog meer.


Psalm 18:28 Want U laat My Lamp skyn; JaHWeH My Elohey verlig My Duisternis.

Psalm 119:105 U Woord is ’n lamp vir My voet en die Lig van My pad.

Spreuke 6:23 Want die Gebod is ’n lamp en die Wet is ’n Lig en die Teregwysing van die Tug ’n Weg tot die lewe,

Spreuke 13: 9 Die Lig in die regverdige brand vrolik, maar die lamp in die besoedelde gaan dood.