Tuesday, November 16, 2010

Die Jakkalsie en die Slagyster


Die klein jakkalsie was nou gespeen en dit was tyd dat hy moes leer om vir homself te sorg. Ma jakkals moes eers vir klein jakkals al die gevare in die woud gaan uitwys voordat hy vir homself kan begin sorg.

Vroeg die oggend draf ma jakkals en klein jakkals reeds die woud binne opsoek na iets om te eet. Vir klein jakkals het dit gevoel of die nag hopeloos te lank was, want teen dagbreek was hy al dood van die honger. Gister was daar nie veel om te eet nie en ma jakkals het vir hom net twee muise gevang wat hy kon eet.

Ma jakkals gaan staan ’n rukkie stil en snuif met snoet in die lug om die reuk op te tel van enige prooi wat dalk in die omgewing mag wees. Klein jakkalsie druk ook sy neus in die lug en snuif so al wat hy kan.
Wag ’n bietjie, hy ruik iets, yip, dit ruik soos kos, bietjie oud maar dit ruik beslis na iets wat hy nog kan eet.

Voordat ma jakkals nog kan keer spring klein jakkals weg en hardloop na die omgewing van waar die reuk kom. Tussen twee klein struike lê die dooie hasie. Sjoe, hoe gelukkig kan ek wees, dink klein jakkals en dit nogal op my eerste jagtog. Ma jakkals gaan beslis baie trots wees op my dat ek so vinnig kan leer om te jag.

Klein jakkals wou net die hasie gryp toe ma jakkals hom agter die nek gryp en weg sleep van die hasie af. “Maar.... maar.... hoekom kan ek nie die hasie vang en eet nie?” vra klein jakkalsie. “Hmmm ek dink sy is jaloers omdat ek die hasie kon kry voor haar,” dink hy by homself.
Ma jakkals sê vir klein jakkals, “Wanneer jy so ’n maklike prooi sien moet jy eers mooi kyk of dit nie dalk ’n lokval kan wees nie.” “’n Lokval, wat is dit?” vra klein jakkals. “Dit is wanneer iemand iets baie lekkers binne ’n slagyster plaas en sodra jy daaraan gaan proe dan klap die slagyster toe. Die slagyster kan jou baie ernstig beseer en selfs doodmaak.” vertel ma jakkals.
“Kom ons bespied eers die omgewing en probeer eers uitvind of daar nie vreemde reuke en ander tekens in die omgewing is wat dalk vir ons kan wys dit is ’n lokval nie.”

Klein jakkals is nie baie lus om die haas te los nie, sê nou maar net ’n ander jakkals kom steel die haas terwyl hulle besig is om die omgewing te ondersoek, dan is hy hierdie lieflike maaltyd kwyt. Hy sal maar maak of hy die omgewing ondersoek en sodra hy ’n kans kry sal hy die haas gryp, hy is nog jonk en baie rats. Klein jakkals is seker hy sal die haas kan gryp voordat die slagyster toeklap. Terwyl ma jakkals die omgewing fynkam maak klein jakkals of hy ook alles beruik en ondersoek, maar hy bly nie vêr van die hasie af nie. Hy wonder of sy miskien reg kan wees oor die slagyster, maar dan moes die slagyster mos klaar afgegaan het as die hasie daarbinne sit, dink hy by homself.
Miskien moet hy die hasie met sy poot probeer nadersleep, op die manier kan dit dalk veilig wees.

Toe ma jakkals nie vir klein jakkals kyk nie steek hy sy voorpoot suutjies uit en kry die hasie aan sy agterpoot gehaak. Hy begin baie stadig te trek, niks gebeur nie, dit kan dalk werk.
Die volgende oomblik klap die slagyster.

Die slagyster knyp twee van klein jakkals se trone vas. Klein jakkals begin verskriklik te tjank. Die pyn is verskriklik. Ma jakkals kom aangehardloop.
“Hoekom het jy nie vir my geluister toe ek jou gewaarsku het oor die moontlike slagyster nie?” vra sy.
“Ek het gedink dat ek dit saggies kon nadersleep sonder om die slagyster af te sit.” antwoord klein jakkals tussen die getjank deur.

Ek weet dit is baie seer maar jy sal moet probeer om jou tone uit die slagyster uit te trek voordat die een wat die slagyster gestel het hier aankom, want hy sal jou beslis doodmaak.
Klein jakkalsie trek aan sy poot, maar dit is so seer, hy wil dit net vir ’n klein rukkie los dat die kloppende pyn kan bedaar. Ma jakkals draai al in die rondte om klein jakkals, maar daar is net mooi niks wat sy kan doen nie.

In die vêrte hoor ma jakkals die geblaf van honde wat besig is om nader te kom, sy weet presies wat dit beteken. Die slagyster steller is op pad om na sy slagysters te kom kyk. As klein jakkalsie nie nou kan uitkom nie is hy gedoem.
Ma jakkals kerm by klein jakkals dat hy ’n laaste desperate poging sal moet aanwend anders gaan dit te laat wees.

Klein jakkals knyp sy oë styf toe en gee een geweldige ruk aan sy voorpoot. Hy voel hoe die twee toontjies uit skeur uit sy vleis, maar hy is los. Die bloed stroom uit die gapende wond waar die twee toontjies eers was. Maar nou is daar nie tyd om sy wonde te lek nie, hulle sal moet hardloop anders gaan die honde hulle vang.

Ma jakkals en klein jakkals het net-net ontvlug van die honde en die slagyster steller.

Ma jakkals moes vir die volgende klompie dae eers weer vir klein jakkals sorg omdat hy nie kon jag nie. In die tyd het sy baie tyd spandeer om hom te vertel van al die gevare wat daar skuil. Hierdie keer was klein jakkalsie se ore wawyd oop en hy het mooi geluister na alles wat ma jakkals hom vertel het.

Klein jakkals se poot was net amper mooi gesond toe ma jakkals terugkeer van haar jagtog. Sy het baie hartseer gelyk en klein jakkals wou weet wat is verkeerd. Sy sê vir klein jakkals dat hy moes saamkom, daar is iets wat sy hom wil gaan wys. Hulle draf so tien minute die woud in en kom by ’n groot opening in die woud. Daar in die middel van die opening sien klein jakkals iets lê. Wat kan dit wees?, wonder hy.

Hulle stap nader, die ding wat daar lê beweeg nie, maar die ding lyk baie bekend. Dit is ’n ander klein jakkals wat daar lê. Toe hulle by die jakkals kom sien klein jakkals dat die jakkalsie is gevang in ’n slagyster, maar die slagyster het hom aan die kop gevang en sy nek gebreek.

Ma jakkals begin vir klein jakkals te vertel dat die grootste gevaar wat daar bestaan is die natuurlike instink wat hulle het. Hulle weet dat daar gevaar aan verbonde is met so ’n maklike prooi en dat dit ’n lokval kan wees, maar van nature sal hulle neig om die prooi te gaan vat. Indien jy nie leer om die lokvalle te vermy nie sal jy nie lank oorleef in die woud nie.

Niks is maklik nie, as iets te maklik lyk is die kanse baie groot dat dit ’n lokval is en die versoeking van ’n maklike maaltyd is altyd daar om jou te verlei sodat jy in die slagyster trap. Dit is wat die slagyster steller wil hê jy moet doen. Hy maak staat op jou natuurlike geneigdheid. Die enigste uitweg is om daardie natuurlike geneigdheid te laat staan want dit kan jou lewe kos.

Les:
Ons as mense het ook die natuurlike geneigdheid om te sondig en ons val so maklik in die verleier se slagyster. Soms kom ons lig daarvan af en ander kere kan dit ons lewe kos. Die enigste manier is om die geneigdheid tot sonde voor Majesteit YaHWeH te kom plaas sodat Hy ons kan verlos en ons ’n ander weg kan kom leer. Ons moet net bereid wees om te luister en te doen. Dan kan ons ’n ryk en genade vervulde lewe leef.

No comments: