Friday, November 5, 2010

Die Boom en Gewoontes


’n Ryk man het die ou leermeester versoek om sy seun onder sy sorg te neem en hom sovêr te kry om van sy slegte gewoontes ontslae te raak.
Die ou leermeester het die jong man vir ’n wandeling deur die tuin geneem.

Skielik stop hy en vra die seun om ’n klein plantjie wat in die tuin groei uit te trek. Die seun neem die plantjie tussen sy voorvinger en duim en trek dit met gemak uit. Hulle stap vêrder in die tuin en die ou leermeester vra die seun om ’n bietjie groter plantjie uit te trek. Die jongeling trek effens harder en die plant kom uit met wortel en al.

“Trek nou die een uit,” sê die ou leermeester terwyl hy beduie na ’n groterige struik in die tuin. Die seun moes al sy kragte inspan om die struik uit te trek en hy kon die struik ook maar net-net uittrek.

“Neem nou die een,” sê die ou leermeester terwyl hy na ’n koejawel boom beduie. Die seun gryp die koejawel boom aan die stam en probeer dit uittrek. Hoe hy ook al probeer, die koejawel boom gee nie skiet nie.

“Ek,.... Dit is onmoontlik,” sê die seun terwyl hy hyg om sy asem terug te kry na die inspanning.

“So is dit met slegste gewoontes” sê die ou leermeester. “Wanneer hulle jonk is, is dit maklik om hulle uit te trek en van ontslae te raak maar wanneer hulle eers gevestig is en behoorlik wortel geskiet het, kan hulle nie sommer ontwortel word nie.”

Die seun het die les van die ou leermeester verstaan en sy lewe verander om die slegte gewoontes sommer klein-klein uit te trek.

No comments: