Thursday, November 11, 2010

YaHWeH en die Spinnekop


Gedurende die Tweede wêreld oorlog, op ’n eiland in die middellandse see, het ’n Amerikaanse soldaat geskei geraak van sy peloton. Die geveg was baie intens en te midde van die rook en die kruisvuur het hy kontak verloor met sy kamerade.

Alleen in die woud, kon hy die vyandige troepe hoor aankom in sy rigting. Terwyl hy vlug vir behoorlike skuiling en voldoende kamoeflering, is hy teen die randjie op waar daar heelwat klein grotte is. Vinnig kruip hy in een van die grotte in. Alhoewel hy veilig vir die oomblik is, besef hy dat wanneer die vyand eers op die koppie is, sal hulle vinnig al die grotte deursoek en hom maklik in die hande kry. As hulle hom eers het, dan is sy doppie geklink.

Terwyl hy wag, begin hy te bid, “Dierbare Majesteit YaHWeH, indien dit U wil is beskerm my asseblief. Wat ook al U wil is, ek het U lief en vertrou U. Amen.”

Nadat hy gebid het lê hy en luister hoe die vyand naderkom. Hy dink by homself, dit lyk nie of Vader hom gaan help om uit dié een te kom nie. Met dié sien hy ’n spinnekop wat besig is om sy web te spin oor die ingang van die grot.

Terwyl hy die spinnekop dophou, hoe hy die een sydraad bo oor die ander spin in die komplekse web, hoor hy hoe die vyand al nader kom, opsoek na hom.

Hah, dink hy. Wat ek nodig het, is ’n klipmuur voor die grot se ingang en Vader stuur my ’n spinnekop web. YaHWeH moet beslis ’n sin vir humor hê.
Terwyl die vyand al nader kom, kyk hy vanuit die donkerte van sy skuilplek hoe hulle die een grot na die ander deursoek.

Terwyl hulle aangestap kom na die grot waarbinne hy skuil, maak hy gereed om homself tot die bitter einde toe te verdedig. Tot sy verbasing het hulle net so eenmaal in die rigting van die grot geloer waarin hy skuil en aangeloop.

Skielik besef hy, met die spinnekop web voor die ingang van die grot lyk dit of niemand in die grot ingegaan het vir ’n lank tyd nie.

Majesteit YaHWeH vergewe my, bid die jong soldaat, ek het vergeet dat by U is ’n spinnekop web baie sterker as ’n klipmuur.

No comments: