Tuesday, November 2, 2010

“Dapper” Dawie


Die jong klomp het op ’n dag besluit om ’n uitstappie te onderneem in die berge. Dit was ’n pragtige sonskyn dag en almal het besluit dat hulle by Susan se huis bymekaar sal kom en daarvandaan sal vertrek vir die berg uitstappie.
Die berg was nie ’n kleintjie nie en hier en daar was daar baie gevaarlike plekke met steil kranse en mens moet twee plekke deur grotte kruip om aan te gaan met die bergpaadjie na die kruin.

Die groepie het uit vier jongmense bestaan, Susan, Annetjie, Dawie en Wouter. Dawie was die voortvarende een van die groep. Annetjie en Wouter was maklik beïnvloedbaar en het hulle maar laat lei deur die sterkste een in die groep. Susan aan die anderkant was seker van haarself en sy het haar nie maklik laat beïnvloed deur die groep nie.

Voor hul vertrek roep Susan se ma haar en sê dat hulle van die stap-lampe moet saamneem op hul staptog, mens weet nooit wat kan gebeur daar in die berg nie. Die weer kan in ’n ommesientjie verander of iets gebeur en hulle kom dalk nie voor donker van die berg af nie. In die twee grotte is dit ook baie donker en mens kan maklik gly en val.
Susan se ma was nie baie ingenome met die staptog nie maar sy het besef dat Susan al groot is en dat dit tyd is dat sy die leisels so bietjie sal moet skiet gee.
Susan wou eers teëstribbel maar sy het baie gou haar ma se argument ingesien en verstaan dat enige iets op hierdie staptog kan gebeur. Saam met hulle bagasie vir die staptog sou die dra van die stap-lampe ietwat ongemaklik wees maar die voordele indien iets gebeur is verreweg beter as die bietjie ongerief.
Die stap-lampe was darem nie te groot nie en sou net genoeg lig geen vir een persoon om sy pad te sien.

Dawie het volstrek geweier om ’n stap-lamp te neem. Sy argument is dat hulle jonk en sterk is en dat hulle die staptog gou sal afhandel, hulle behoort inteendeel nog voor vier uur die middag by die huis te wees. Annetjie was begeesterd deur Dawie se selfvertroue, sy het heimlik baie van hom gehou. Dit sou dalk haar aansien in Dawie se oë laat daal indien sy nou ’n stap-lamp sou neem, want dit sal lyk of sy geen vertroue in hom het nie. Sy het vas geglo dat Dawie sal toesien dat niks met haar op die staptog sal gebeur nie.

Wouter was twyfelagtig of hy ’n stap-lamp moes neem, dit sou ongerieflik wees en kan hom soos ’n sussie laat lyk in die oë van sy vriend, maar die stap-lamp sou darem gemoedsrus gee indien iets skeefloop met die staptog. Na lang oorweging besluit Wouter om maar tog ’n stap-lamp te neem. Dawie het niks gesê nie maar Wouter kon die spot in sy oë sien en die klein trekkie van ’n spottende glimlag om sy mondhoeke.
Vreemd genoeg het die stap-lamp aan Wouter ’n mate van vertroue gegee en hy het hom nie verder gesteur aan wat sy vriend dink nie.

Almal was nou gereed vir ekspedisie “berg klim” en vrolik vertrek die jong klomp van Susan hulle se huis af. Dit was so vyf kilometer se stap voordat hulle die voet van die berg bereik het. Die stap op die oop vlakte was gemoedelik en almal het uitbundig gelag en gesels.

Die bergpaadjie is vir die eerste kilometer nie te steil nie maar nou moet hulle begin om agter mekaar te stap want die paadjie is maar smal. Dawie stap heel voor want hy het sommer self besluit dat hy die geselskap sal lei en die pas sal aangee. Hy word gevolg deur Annetjie en dan deur Susan en Wouter. Die stap-lampe maak dat hulle twee nie so vinnig kan vorder as Dawie en Annetjie nie.

Dawie is ietwat geïrriteerd met die twee wat agter loop en toe hulle die volgende gedeelte, wat meer steil en moeilik is, vra hy vir Annetjie en Wouter of hulle nie maar die lampe wil los nie. Hy sê hulle kan mos sien dat hulle nou al ’n hele rukkie stap en daar is geen teken van slegte weer nie. Susan weier volstrek en sê dat sy maar sal aankarring met haar lampie. Wouter begin al so effens twyfel, maar nie genoeg om hom te oortuig om van sy lamp afstand te doen nie.

Sowat ’n uur later bereik hulle die eerste van die grotte waardeur hulle moet gaan. Die koeligheid van die grot was ’n baie welkome verligting van die hitte. Hulle besluit om eers so rukkie te vertoef en asem te skep. Dawie begin weer met sy relaas oor die onnodigheid van die lampe. Sy argument is dat dit nog sowat 3 ure se stap na die kruin is, hulle kan dus so ongeveer 12 uur op die kruin wees en weer 3 uur terug by die grot. Indien hulle nou hul stap-lampe hier los dan kan hulle dit weer kom kry wanneer hulle terugkom. Sonder die stap-lampe sal hulle miskien ook bietjie vinniger kan stap. In elk geval met die mooi weer wat hulle ervaar is die grotte nie so donker nie en kan mens met min moeite die paadjie nog sien.

Dawie se argument is baie oortuigend en Wouter besluit dat hy sy stap-lamp hier sal los en weer sal kry met die terugkom slag. Susan daarenteen weier om haar stap-lamp te los. Die weer mag miskien nou mooi en pragtig lyk maar dit kan na die tweede grot sommer gou verander na die mees grusame stormweer. Sy is nie bereid om die kans te waag nie. Die ander drie is glad nie gelukkig met haar besluit nie en besluit dat hulle sal stap teen die pas wat vir hulle gerieflik is en as sy nie kan bybly nie dan is dit maar haar saak.
Susan is baie hartseer oor die houding wat haar vriende nou skielik openbaar, dit was veronderstel om ’n heerlike uitstappie te wees en mekaar se geselskap en kameraadskap te geniet. Noudat sy nie bereid is om afstand te doen van haar
stap-lamp nie, is sy die een wat hulle terughou en hul pret bederf.

Die groepie vertrek na die kortstondige rus in die grot. Dawie heel voor gevolg deur Annetjie en Wouter. Susan was heel laaste. Baie gou het Susan begin agter raak by die voorste drie en sy kon met die beste wil onder die son nie byhou met hulle pas nie. Sy kon ’n effense moedswilligheid by hulle bespeur met die pas wat hulle stap. Hulle wou haar wys net hoe stadig raak sy omdat sy nie haar stap-lamp wil los nie.
Susan kon voel hoe die trane opwel in haar oë en die hartseer haar oorweldig oor die moedswilligheid van haar vriende, maar steeds was sy nie bereid om afstand te doen van haar stap-lamp nie.

Binne ’n uur het die voorste drie reeds die volgende grot bereik en kon hulle eers bietjie uitrus in die koeligheid. Na tien minute kom Susan eers by die grot aan. Dawie en sy maats is reeds besig om op te pak en die res van die roete aan te durf na die piek van die berg. Hulle ignoreer haar terwyl sy uitasem haar rugsak en stap-lamp eenkant neersit om bietjie te rus van die vermoeiende stap. Hulle loer net so vlugtig in Susan se rigting begin die laaste gedeelte van die staptog aan te pak.

Dawie, Annetjie en Wouter was skaars vyftien minute se stap van die laaste grot toe die onweerswolke oor die berg se piek begin val. Die weer het baie skielik opgekom en die wind was yskoud. Annetjie was baie beangs en het Dawie se hand gegryp.
Annetjie het by Dawie begin pleit dat hulle moet omdraai en teruggaan maar Dawie was vasbeslote om die piek te bereik. Indien hulle nou sou terugdraai sal dit beteken dat Dawie sal moet erken dat hy dalk verkeerd was oor die weer.
Daardie plesier sal hy Susan nie gun nie.
In elk geval was die piek nog sowat vyftien minute se stap vêr gewees. Na ’n verdere vyf minute se stap het die onweerswolke reeds dig saamgepak en was dit baie moeilik om die bergpaadjie te sien.

Die stormwind het klein klippies en sand van die steil hange laat neerreën op hulle, Wouter en Annetjie was baie benoud, Dawie ook, maar hy sou dit nooit erken nie. Die wind het nou met geweldige krag oor die berg gekom en elke dan en wan het die rukwinde gedreig om hulle oor die afgrond van die steil bergpaadjie te ruk. Hulle moes vasklou aan die rotswande vir hul lewens.
Dawie het voortgebeur teen die wind in, hy kon nie meer die paadjie voor hom sien nie en het met sy voete gevoel vir enige obstruksies in die pad. Elkeen was nou aangewese op homself en moes met albei hande vasklou aan die rotswande.

Wouter en Annetjie het besluit dat hulle gaan omdraai, miskien kan hulle dalk nog die grot haal. Dawie het gesê dat hy nie sal omdraai nie, hulle kan maar as hulle wil, maar hy laat hom die onderkry deur ’n ou stormpie nie. Wouter en Annetjie het skaars omgedraai of hulle hoor die angswekkende gil van Dawie. Hy kon nie die paadjie sien nie en het gestruikel en oor die afgrond gestort.
Wouter en Annetjie het met skuifel treetjies hul weg gevoel terug na die grot toe, krampagtig het hul vingers geklou aan al wat ’n skeurtjie en gaatjie in die rotswand is.

Susan was reg vir die laaste gedeelte van die staptog, toe sy by die anderkant van die grot uitkom, merk sy die onweer wat skielik opgesteek het. Sy het gou besef dat hierdie nie net ’n paar wolkies is wat vinnig gaan oorwaai nie, sy bly al lank genoeg in die omgewing om te weet dat die weer swaar reën, hale en sneeu kan bring. Sy het vinnig haar stap-lampie afgehaal en aan die brand gesteek. en terug gestap in die grot. Mens kan nie glo hoe vinnig dit donker geword het nie, skaars vyf minute gelede kon jy nog redelik goed sien wat aangaan in die grot en nou is dit stikdonker, jy kan skaars jou hand voor jou oë sien.
Susan is nou baie dankbaar vir haar stap-lampie en dat sy hardkoppig bly vasklou het aan haar beginsel om nie die stap-lampie agter te laat nie. Sy het dieper die grot in gegaan om weg te kom van die snerpende koue en reën.

Intussen is Wouter al baie spyt dat hy hom laat ompraat het om sy stap-lampie agter te laat by die eerste grot. Hy sal enige iets doen om daardie besluit van hom ongedaan te maak. As hulle net die grot kan bereik, dan kan hulle daar skuil totdat iemand hulle kom red. Hy en Annetjie was sowat vyf minute weg van die grot en hulle was reeds deurnat van die ysige reën wat in vlae oor hul uitsak. Nou en dan kon hy voel hoe stukke hael hom kasty teen sy rug en nek. Annetjie was in trane van benoudheid en hartseer oor Dawie wat oor die afgrond gestort het. Sy was in skok en al haar handelinge was soos die van ’n robot, net so nou en dan kon sy Wouter se bemoedigende woorde hoor, “Klou vas en kom agter my aan, ons kan dit maak, dis nie meer te vêr nie!

Dit was nog net ’n paar treë na die ingang van die grot, Wouter kon sien dat Annetjie reeds doodmoeg is en dat sy nie meer kan vashou aan die rotswande nie. Hy het sy hand uitgesteek om haar aan die arm beet te kry. Hy het skaars aan haar arm gevat toe hy voel hoe sy struikel en val. Wouter val op sy knieë en gryp haar met albei hande, hy kon haar aan haar rugsak beetkry. Sy vinger pyn van die vashou aan die rotswande en die koue maar hy klou aan die rugsak. Haar tenger lyfie hang oor die afgrond en dis net die bande van die rugsak wat haar teëhou dat sy nie na benede stort nie.
Sy is moeg, moeg van die baklei teen die storm, moeg van baklei om by veiligheid te kom, moeg gehuil oor haar vriend Dawie. Sal sy nie maar net los en hoop daar is ’n vinnige einde aan alles nie?
Wouter hou vas en begin Annetjie baie stadig op te trek. Dis ’n moeilike taak met die rugsak wat nat is want dit is effe glad. Na ’n paar minute se inspanning kry Wouter vir Annetjie opgetrek sodat sy langs hom sit op die bergpaadjie.
Hande-viervoet kruip hulle na die grot terwyl die rotse en klippe hulle bene en hande stukkend sny.

Na ’n paar minute bereik hulle die beskerming van die grot. Albei sit en huil van dankbaarheid dat hulle die veiligheid van die grot bereik het.
Susan hoor bokant die geloei van die wind die geroep van Wouter. So vinnig as wat die lig van haar stap-lampie haar toelaat om te loop stap sy na die grot ingang. Daar tref sy Wouter en Annetjie aan, albei yskoud en bebloed van die kruipery na die grot.
Die twee is te dankbaar vir die liggie van Susan se stap-lampie en dis asof hulle weer nuwe moed skep deur die lig en warmte van Susan se stap-lampie.

Gou verbind Susan hul wonde en probeer hulle twee toemaak met die handdoek wat sy saamgebring het in haar rugsak. Wouter en Annetjie vertel van die tragedie wat gebeur het met Dawie en hoe spyt is hulle dat hulle maar nie na haar geluister het nie.
Wouter en Annetjie wil net weet hoe hulle nou gaan maak om af te kom van die berg af, maar Susan sê dat hulle net rustig moet wag. Haar vader sal binnekort na hulle kom soek, want hy sal haar nooit alleen los nie.
Hulle is baie bekommerd oor wat hulle gaan doen wanneer die stap-lampie se liggie doodgaan maar weereens verseker Susan hulle dat die stap-lampie se liggie nie sommer sal doodgaan nie, want haar vader maak doodseker dat daar genoeg krag in die lampie is vir die hele tog wat hulle moes stap en nog meer.

Les:
Ons elkeen gaan deur die lewe op hierdie staptog, soms is die pad maklik en ander kere moeilik. Soms is dit mooiweer en sonskyn en ander kere is dit onweer en gevaar. Maar aan ons elkeen word die stap-lampie van Vader YHWH aangebied. Dit is ons keuse of ons die stap-lampie (waaragtige geloof in ons Majesteit YHWH) wil neem of nie. Op die lewenspad wat ons wandel lyk dit soms of die “stap-lampie” ons baie stadig maak en ons vriende hou nie daarvan dat die lampie ons terughou nie. Soms wil ons vriende hê dat ons die lampie langs die pad moet los en ander kere vertrou ons hulle blindelings want hulle woorde van oortuiging klink so opreg en logies.
Maar dit gebeur ook dat wanneer die storms kom en ons het nie Vader se stap-lampie geneem nie, dat ons, ons lewe kan verloor, dan is dit ewiglik te laat. Soms kom ons met ons lewe daarvan af en kry ons ’n tweede kans.
Ons kan nie die lewenspad aanpak sonder ons “stap-lampie” nie. Wanneer die lewens storme ons oorweldig en ons moet skuiling soek moet ons geduldig wag op ons Majesteit YHWH, Hy sal ons kom soek en kry en ons moet glo dat Hy ons lamp genoegsaam opgevul het met olie vir die hele staptog en nog meer.


Psalm 18:28 Want U laat My Lamp skyn; JaHWeH My Elohey verlig My Duisternis.

Psalm 119:105 U Woord is ’n lamp vir My voet en die Lig van My pad.

Spreuke 6:23 Want die Gebod is ’n lamp en die Wet is ’n Lig en die Teregwysing van die Tug ’n Weg tot die lewe,

Spreuke 13: 9 Die Lig in die regverdige brand vrolik, maar die lamp in die besoedelde gaan dood.

No comments: