Thursday, October 28, 2010

Die Siklus van Boosheid


Eendag was daar ’n koning wat geweldig wreed en onregverdig was, tot so mate dat sy onderdane daarna verlang het dat hy moet sterf of onttroon word. Hy was vol boosheid.
Maar, op ’n dag, tot al sy onderdane se verbasing kondig die koning aan dat hy ’n nuwe blaadjie omgeslaan het.
“Geen wreedheid en onregverdigheid in my koninkryk meer nie.” Was sy belofte aan al die onderdane en hy het sy woord gestand gedoen.

Hy het sodanig verander dat al die onderdane hom die “Sagmoedige Koning” later genoem het.

Maande na sy dramatiese ommekeer het een van sy raadgewers genoeg moed bymekaargeskraap om die koning te vra wat het die verandering teweeggebring.

Die koning antwoord, “Terwyl ek op my perd deur die koninklike woud gery het sien ek ’n jakkals wat deur ’n hond gejaag word. Die jakkals het die hond net-net ontglip maar nie voordat die hond hom aan die been gebyt het nie en hom vir die res van die jakkals se lewe mank sal laat nie. Later terwyl ek in die dorpie inry sien ek dieselfde hond daar. Hy was besig om vir ’n man te blaf. Terwyl ek die petalje gadeslaan sien ek hoe die man ’n groot klip optel en na die hond gooi en sy been breek.
Die man het nie vêr gevorder in die straat toe ’n perd hom skop nie. Sy knie was vergruis en hy het in die pad geval en krul van die pyn. Hy sou vir die res van sy lewe nie die been kan gebruik nie.
Die perd het weg begin hardloop maar val toe in ’n gat en breek sy been. Sy eienaar moes die perd kom uitsit.

“Terwyl ek alles oordink wat ek die dag gesien het, het ek besef dat ‘boosheid bring nog meer boosheid voort’ en as ek aangaan in my bose weë dan sal die boosheid my self later inhaal. Dis hoekom ek besluit het om te verander.”

Die raadgewer is daar weg, oortuig daarvan dat die tyd nou ryp was om die koning te onttroon en die heerskappy vir homself te gryp. Hy was so verdiep in die beplanning dat hy nie die trappe voor hom opgemerk het nie. Hy het by die trappe afgestort en sy nek gebreek.

No comments: