Friday, October 15, 2010

Ons eie Keuse


So baie keer gebeur dit in ons lewens dat ons die gevolge van ons dade moet dra en dan is dit baie maklik om die skuld te verplaas na iemand anders of te sê maar dis YHWH se wil dat die of daardie oor my gekom het.
Dit is baie moeilik om te erken dat die fout by ons lê en dat ons nou die gevolge moet dra van ons optrede.

Sirah verwoord hierdie scenario pragtig veral in vers 16 – voor jou is uitgegiet vuur en water, maak self jou keuse. Die vuur gaan jou beslis brand indien dit jou keuse is en die water kan jou dors les en bied aan jou lafenis vir jou siel.

Die WYSHEID van JeHôWshua ben Sirah
Hst 15
Eie verantwoordelikheid.

11 MOENIE sê: “Van JaHWeH is my oortreding” nie, want wat Hy haat, het Hy nie gemaak nie. [Wysheid van Salomo 11:24; Maleagi 1:3]
12 Moenie sê: “Dit is Hy wat my verlei het” nie, want daar is geen noodsaak vir manne van geweld nie.
13 Besoedeling en gruwelikheid word deur JaHWeH gehaat, en Hy laat nie toe dat dit hulle teëkom wat Hom vrees nie.
14 Elohim het van die begin af die adamiet geskape en Hy het hom in die mag van sy vrye wil gestel.
15 As jy behae [in Hom] het, kan jy die Gebod hou, en dit is verstandig om Sy Welbehae te doen. As jy op Hom vertrou, sal jy inderdaad lewe.
16 Uitgegiet voor jou is vuur en water, strek jou hand uit na wat jy begeer,
17 Voor die adamiet is lewe en dood, wat hy begeer, sal aan hom gegee word.
18 Oorvloedig is die Wysheid van JaHWeH, magtig in Krag en Een wat alles sien.
19 Die Oë van Elohim sien SY werke, en HY ken elke daad van ‘n man.
20 Hy het die adamiet nie beveel om te oortree nie en Hy het nie sterkte gegee aan leuenaars nie, en Hy ontferm Hom nie oor diegene wat ydele dinge doen, of oor hom wat geheime openbaar maak nie.

Ons elkeen het ‘n keuse om te maak – die vuur of die water – ons kan nie besluitloos bly nie want die hand moet ons uitstrek na een van die twee.

Waarna reik jy vandag ? en kan jy die gevolge dra van jou keuse ?

No comments: