Wednesday, October 20, 2010

Die Weerkaatsing


Daar was ’n koning wat vir sy dogter die mooiste diamant halssnoer laat maak het vir haar een en twintigste verjaarsdag. Dit was ’n baie besonderse halssnoer waarvan die gelyke nie te vinde was in die hele land nie. Voordat die prinses die halssnoer kon ontvang is dit gesteel. Die koning het sy hele paleis wag en al sy onderdane opdrag gegee om na die halssnoer te soek, maar die soektog het niks opgelewer nie. Die koning besluit om ’n beloning van R 50 000.00 uit te loof vir die een wat die halssnoer opspoor. Dit het al die onderdane aangespoor om onverpoos te soek na die halssnoer want die beloning sal die ontvanger daarvan in staat stel om gemaklik te leef vir die res van sy lewe.

Eendag stap ’n klerk langs die riviertjie huis toe. Die rivier was agter ’n klompie vervaardigings werkswinkels en was erg besoedel van al die afloopsels vanaf die werkswinkels en was vreeslik vuil en stinkend. Terwyl die klerk langs die rivier loop sien hy ’n glinstering in die water. Terwyl hy naderstaan om te sien wat dit is sien hy dis die halssnoer waarna die koning so soek. Hy kan sy geluk nie glo nie, want die R 50 000.00 sal so baie vir hom en sy gesin beteken.

Hy gaan sit op sy hurke langs die water en probeer met ’n stok in die water krap om die halssnoer op te tel maar hy kry allerhande gemors aan die stok behalwe die halssnoer.
Hy besluit om sy arm in die water te druk om die halssnoer by te kom, maar steeds kry hy niks nie. Later is hy met klere en al in die water. Hy sien die halssnoer in die water maar hy kan net nie die halssnoer in die hande kry nie.

Baie moedeloos klim hy later uit die stinkende water uit en trek sy skoen uit om die modder water uit te kry. Terwyl hy sy vuil modder skoene probeer skoonmaak sien hy weer die glinstering van die halssnoer in die water. Hierdie keer is hy vasbeslote om die halssnoer in die hande te kry en duik in die water in. Kop onder die water voel hy deur die modderslyk op die bodem van die rivier vir die halssnoer. Na ’n halfuur se soektog besluit hy om maar moed op te gee. Baie mismoedig sleep hy homself uit die water en gaan sit op die rivier wal.
Hy kon soveel dinge doen met die geld, want dit gaan moeilik in die huis en hulle oorleef skaars dag na dag.

Op daardie stadium kom daar ’n man verby gestap, hy gaan staan langs die klerk en vra waarna soek hy so dringend in die vuil, stinkende rivier. Dit moet werklik baie kosbaar of hoë nood wees wat maak dat iemand in die rivier sal klim. Die klerk wil nie vir die man vertel van die halssnoer nie, want netnou is hy in die rivier in en kry dalk die halssnoer. Nee, die geheim sal hy vir homself hou.

Die man kon sien dat die klerk glad nie gelukkig is nie en in ’n baie kalm en rustig stem sê die man vir die klerk dat hy maar sy bekommernis met hom kan deel, hy sal sy geheim aan geen ander oordra nie. Die sagtheid in die man se stem en die kyk van deernis in sy oë maak dat die klerk nie anders kan as om die man te vertrou nie. Die klerk skraap al sy moed bymekaar en vertel die van die halssnoer en die beloning wat die koning daarvoor uitloof. Verder vertel hy hoe hy die halssnoer in die water sien maar hy kan dit op geen manier in die hande kry nie, met elke poging van hom misluk hy.

Die man gaan sit toe langs die klerk en plaas sy hand op sy skouer. “Vriend, miskien moet jy eers bietjie opkyk na bo, in die takke van die bome, voordat jy kyk in die vuil water van die rivier.” Sê die man bemoedigend aan die klerk. Die klerk kyk op en sowaar, daar hang die halssnoer in die takke van die boom. Hy het die hele tyd probeer om die refleksie van die ware halssnoer in die water te vang.

So probeer die mens ook soms die heerlikheid van YHWH te soek in die aardse instellings soos die kerke, die predikant, die wyksbyeenkoms en al wat hy daar sien is die refleksie van die werklike maar om die werklike te vind moet hy sy oog na bo rig.

Psalm 121
1 EK slaan My oë op na die berge: waar sal My Hulp vandaan kom?
2 My Hulp is van JaHWeH wat Hemele en Aarde gemaak het.
3 Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.
4 Kyk, die Bewaarder van JisraEl sluimer of slaap nie.
5 JaHWeH is jou Bewaarder; JaHWeH is jou Skaduwee aan jou regterhand.
6 Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie.
7 JaHWeH sal jou bewaar van alle besoedeling; jou siel sal Hy bewaar.
8 JaHWeH sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.

No comments: