Monday, October 25, 2010

Wat jy saai....


Koning Kratas het gevoel dat hy alles het wat enige mens maar kan begeer, nie net vanweë sy rykdom en sy lojale koninklike wag nie maar oor sy pragtige koningin, Martina. Sy was die volmaaktheid in sy ryk gewees, beeldskoon en baie wys.

Aan die regterhand van die koning het sy gesit en hom gehelp met die uitoefening van die regspraak in die koninkryk. Jy kon nie die kyk in haar deurdringende oë ontglip indien jy ’n misdaad begaan het nie. Sy het altyd geweet wie is die oortreder en wie die slagoffer.
Maar buiten vir haar groot wysheid en kennis van mense was sy baie berig vir haar vrygewigheid aan die armes. Haar hand was altyd oop om te gee aan hulle wat nie het nie. Koningin Martina was baie hoog geag in die hele koninkryk omdat sy soveel empaties gehad het met die siekes en die armes.

Vêr van die koninklike paleis was daar ’n man wat vasgevang was in groot armoede en geen manier om dit te ontsnap nie. Serta het alles verloor, selfs die grond waarop hy en sy gesin gewoon het. Vanweë sy hoë ouderdom kon hy nie werk nie en was hy daarop aangewese om te bedel vir oorlewing om sy vrou en kinders te onderhou. Elke oggend het hy van deur na deur gegaan opsoek na werk, kos of geld. Die goedheid van die mense het altyd gesorg dat hy genoeg gehad het om huis toe te neem vir die versorging van sy gesin.
Maar Serta was bietjie self gesentreerd. Sy wêreld het eerste by hom begin gevolg deur sy gesin en dan die res.

Van wat hy gekry het deur sy bedelary het hy eers geëet en gedrink na hartelus en van dit wat oorgebly het, het hy huis toe geneem. Die roetine van eie versorging eerste het hy baie goed weggesteek deurdat hy ’n baie jammerlike gesig opgesit het sodra hy by die huis aankom.

Eendag terwyl hy heerlik smul aan ’n bord rys wat hy gekry het by ’n nederige woning hoor hy dat koningin Martina binnekort hier verby sal gaan. Haar groothartigheid was ook welbekend aan Serta en hy het geweet as hy sy jammerlike gesig kan opsit en aan haar wys hoe arm hy is en hoe swaar hy kry sal sy miskien vir hom ’n sak met goue munte gee. Genoeg sodat hy vir die res van sy lewe nie meer hoef te bedel nie en genoeg sal hê om kos en voorrade vir sy hele gesin te koop.
Hy het gedink dat hy van die munte wat hy sou kry vir hom sou kon versteek en die res aan sy vrou kon gaan wys. Op die manier kon hy steeds aangaan om sy eie selfsugtige behoeftes te bevredig.

Hy hardloop na koningin Martina se koets en smeek die soldate om hom toe te laat om met die koningin te praat. Terwyl Martina die argumente buite die koets hoor trek sy die gordyntjie van die koets venster weg en vra aan Serta wat soek hy.

Serta gaan op sy knieë en loof die koningin vir haar goedheid en haar wysheid. Hy sê aan Martina dat hy gehoor het van haar groot medelye met die armes en of sy tog nie simpatie kan betoon met ’n arm bedelaar nie.
Martina se oë vernou effens en sy vra aan Serta wat sal hy in ruil aan haar gee. Verras deur so ’n vraag van die koningin, kyk hy af na die bord rys in sy hand. Met ’n baie swaar gemoed skraap hy ’n paar korrels rys uit sy bord en gee dit aan die koningin.

Koningin Martina tel die ryskorrels, vyf ryskorrels in totaal en sy kyk na die vol bord rys in Serta se hande. Sy antwoord, “Daar sal aan jou gegee word wat jou toekom.”
Met dié gee sy die koetsier opdrag om te vertrek.

Serta verwens die koningin hier diep in sy binneste. Hy het nooit gedink dat die gebeure hulle so sal afspeel nie. Hoe kon sy vir hom iets in ruil vra terwyl sy niks vir hom gegee het nie ?
Stomend van woede stap hy huis toe en gee die bord rys aan sy vrou. By die voorstoep van hul klein huisie sien hy ’n sak staan. Sy vrou sê dat mans van die koninklike wag die sak hier aangebring het.
Hy maak die sak oop en vind dat dit vol rys is. Hy druk sy hand dieper in die sak tussen die rys korrels en voel ’n harde metaal voorwerp. Dit was ’n goue munt. Serta was nou vreeslik opgewonde.
Gou keer Serta die sak rys daar op die stoep uit en vind vyf goue munte in die sak. Een vir elke korrel rys wat hy aan koningin Martina gegee het.

As hy maar net sy hele bord rys aan die koningin gegee het, kon sake soveel ander gewees het. Hy kon nou ’n hele sak vol goue munte gehad het.

2 Kor 9:6
Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.

Gal 6:7
Moenie dwaal nie; YHWH laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

No comments: