Thursday, October 29, 2015

Hoe Sterk is jou Toue ?



Die man stap verby ‘n trop olifante wat vasgebind staan. Hy stop skielik en is verbaas dat hierdie enorme diere deur so ‘n dun tou aan die voorpoot vasgehou kan word. Geen kettings, geen hokke, behalwe die dun tou aan die voorpoot en ‘n pen in die grond.
Dit was duidelik dat die olifante, indien hulle wou, maklik kon losbreek van die tou wat hul vashou, maar vir een of ander duistere rede, het hulle nie losgebreek nie.

Hy sien daar naby een van die afrigters van die olifante staan en vra hom hoekom die olifante net daar staan en nie ‘n poging aanwend om los te breek van die toue nie.
“Wel” sê die afrigter, “ terwyl hulle nog baie jonk en heelwat kleiner was het ons presies dieselfde dikte tou gebruik as nou, dit was voldoende om hulle so vas te hou dat hulle nie kon losbreek nie. Soos wat hul groter geword het was hulle so gekondisioneer dat hulle steeds glo hulle kan nie losbreek nie. Hulle glo die tou kan hulle steeds vashou en daarom probeer hulle nie eens meer om los te breek nie.”

Die man was verstom. Hierdie diere kan enige oomblik loskom van die bande wat hulle vashou, maar omdat hulle glo hulle kan nie, is hulle presies waar hulle nou is.

Soos die olifante, hoeveel van ons gaan deur die lewe en glo ons kan nie iets doen nie, slegs omdat ons eenkeer onsuksesvol was toe ons dit probeer het?
Soms het die toue vir ons ‘n verskoning geword sodat ons nie weer hoef te probeer nie en ons skuil agter die verskoning van die toue om onsself nie bloot te stel aan moontlike mislukking nie.

Les: Mislukking is deel van leer. Jy misluk nie omdat jy bestem is om te misluk nie, maar daar is lesse wat jy nodig het om te leer om aan te gaan in die lewe.

SUKSES IS DALK NET EEN MISLUKKING VER. MAAR JY SAL NIE WEET AS JY NIE PROBEER NIE.