Tuesday, November 23, 2010

Die Slang en die Paddas


In die dam het daar ’n klompie paddas gewoon. Hulle was baie vriendelik met mekaar asook met al die ander diere in die woud. Omdat hulle geen vyande gehad het nie kon hulle die heeldag rondplas en spring in die dam. Selfs die koning en koningin padda het ’n luilekker lewe gehad en kon die heeldag rondgelê en kwaak.

Eendag kom daar ’n ou en verswakte slang verby die dam geseil. Hy stop toe hy die klomp paddas in die dam sien baljaar en dans. Die slang dink by homself, “Goeiste, watter feesmaal kan ek nie hier geniet nie! Kyk net die groot aantal paddas wat hier is. Ek kan myself knuppeldik vreet aan die klomp. Maar ai, wat sal ek doen, ek is so oud en swak. Ek sal een of ander slim plan moet beraam om hulle te vang.”

Nadat hy sy plannetjie fyn uitgewerk het seil hy stilletjies na die dam en gaan lê doodstil onder een van die bome.

Twee jong prins paddas, wat baie spelerig was, sien die slang onder die boom lê en besluit om nader te gaan en te kyk wat is fout met die slang. Die twee paddas kom baie versigtig nader en raak aan die slang se lyf, sy lyf maak so effense beweginkie. Die twee prins paddas spring dadelik so paar treë weg, maar die slang bly doodstil lê.

Die een padda vra aan die ander, “Hoe is dit dat ons nog nooit die slang vantevore hier gesien het nie?” “Ek weet nie,” antwoord die ander een, “maar ek dink hy is dood, dié dat hy so stil lê.”

Terwyl hulle twee so bespiegel oor die herkoms van die slang en of hy dood is of wat, maak die slang sy oë oop en fluister saggies aan hulle, “Moet nie skrik nie. Ek is te oud om enige kwaad aan julle te doen. Ek is vervloek, daarom is ek onskadelik en is my lot om julle te dien. Spring op my en ek sal julle koninklike vervoer wees. Van vandag af sal ek julle dra waar julle ook al wil wees.”

Aanvanklik was die twee prins paddas maar baie skepties oor die slang se woorde maar hy het so onskadelik en opreg voor gekom dat hulle kort voor lank op die slang se rug spring en hy het hulle vir ’n heerlike rit geneem.

Intussen het die koning padda na hulle geroep, “Kinders, waar is julle? Dis tyd dat julle huis toe kom.”

Die twee prins paddas spring vinnig van die slang se rug af en hardloop huis toe terwyl die ou slang hyg om sy asem terug te kry nadat hy die twee paddas klaar vir hul pret rit geneem het.

Intussen het die twee prins paddas baie opgewonde na hul koningin ma gehardloop om die storie van die slang rit te vertel. Sy was so geskok toe sy die twee se wedervaringe met die slang hoor dat sy hulle onmiddellik beveel het om nie weer naby die slang te kom nie. Sy het die koning padda ingelig oor die kinders se ondervinding en hy het hulle dadelik beveel dat hulle hom die slang moet gaan wys.

Die prins paddas gaan na die slang en pleit by hom dat hy hulle weer vir ’n rit op sy rug sal neem sodat hulle pa kan sien hy is onskadelik. Sommer gou het die slang die koning padda ook vir ’n rit op sy rug geneem.
Terwyl die ander paddas die petalje gadeslaan waarsku hulle die koning padda, “Asseblief koning, moet dit nie doen nie. Die slang kan nooit ons vriend wees nie. Dit sal ons almal nog eendag doodmaak.”

Maar die koningin padda antwoord baie snedig, “Net omdat die slang julle nie op ’n rit wil neem nie en hy slegs bedoel is om die koninklike familie te dien, is julle jaloers.”

Nou het dit ’n daaglikse roetine geword vir die koninklike paddas om vir ’n rit te gaan om die dam op die slang se rug.

Eendag voel die slang baie swak, so swak dat hy nie die koning op sy rit om die dam kon neem nie. Die koning vra aan die slang, “Wat is fout met jou? Jy is vandag baie traag en swak.”

Die slang antwoord, “Ek het u en u gesin reeds die laaste maand gedien, as die koninklike vervoermiddel, maar ek het nog niks geëet nie. Ek voel nou baie swak.”

Die koning vra die slang, “Wat is dit wat jy graag sal wil eet?”

Die slang antwoord, “Daar is so baie paddas in u koninkryk. Ek sal graag een padda ’n dag wou eet om my honger te stil en weer my kragte op te bou.”

Vir ’n oomblik was die koning onkant gevang deur die vreemde versoek van die slang maar hy het besef dat hy so baie onderdane het wat in die dam rondspring dat een ’n dag geen verskil sal maak nie. Met dié, gee hy toe aan die slang se versoek. So het die slang begin om een padda op ’n dag te eet. Baie gou het die slang al sterker begin word en die getalle van die paddas in die dam baie minder.

Die slang het nou so gewoond geraak daaraan om een padda per dag te kry vir ete dat toe daar geen paddas meer in die dam was nie het hy eers die prins paddas geëet en toe die koning en die koningin paddas.

Die dam het geen paddas meer gehad nie en hulle gekwaak en spelery in die water het vir ewig stil geword.

Les:
Dit is so maklik om betrokke te raak in wat verkeerd is en dit begin soms met baie klein dingetjies wat op die oog af onskuldig voorkom maar hulle kan baie gou hand uitruk en jou hele lewe verwoes.

No comments: