Friday, March 11, 2011

My Blinkblaar-wag-’n-Bietjie Bos


’n Paar jaar gelede moes ek ten minste twee maal per maand tussen twee dorpe ry om vergaderings by te woon. Wanneer mens ’n pad so gereeld ry dan raak dit baie eentonig en mens spandeer meer tyd om te kyk wat in die veld aangaan as wat op die pad aangaan.
Ja, ek weet dis nie ’n baie goeie idee nie maar ek moet darem bysê dat die pad daardie jare maar baie stil was, as jy tien motors op die pad kry vir die vyf en vyftig kilometer afstand dan was dit baie gewees.

So entjie die veld in het ek ’n paar jongerige Kameeldoring boompies opgemerk, hulle was nie so dig opmekaar soos wat ek gewoond is in die Kameeldoring woud in die Kalahari nie.
Daar was een Kameeldoring boompies wat so effe eenkant gestaan het en my dadelik opgeval het omdat die boom ’n pragtige vorm gehad het, ’n lang reguit stam met sytakke wat reg rondom die stam uitloop in al die windrigtings. Soms kry mens van die bome wat glad nie ’n mooi vorm het nie en wat van klein boompie tyd af gebuig of verwring is deur ander takke, stompe en klippe.

In elk geval, oor ’n tydperk van sowat vier maande het ek gesien dat daar eers een Blinkblaar-wag-’n-bietjie-bos langs die doringboompie opkom, na ongeveer ’n verder vier maande was daar nog omtrent ’n addisionele drie ander blinkblaar-wag-’n bietjie-bosse gewees. Die bosse moes seker al ’n rukkie daar langs die doringboompie gegroei het want ek het hulle eers opgemerk toe hulle bokant die lang gras begin uitsteek.

Vir die volgende maande het dit gelyk of die doringboompie en die blinkblaar-wag-’n-bietjie-bosse ewe goed groei maar ek kon merk dat die Blinkblaar-wag-’n-bietjie bosse so bietjie vinniger groei as die doringboompie.

Op daardie stadium was ek reeds vreeslik gefassineer deur die doringboompie en die blinkblaar-wag-’n-bietjie-bosse om hom, tot so ’n mate dat wanneer ek nader kom aan die plek waar hulle gegroei het, het ek so bietjie stadiger gery om te sien wat met die bome aangaan.
Na ’n jaar was dit duidelik dat die doringboompie glad nie meer in so ’n mooi toestand is nie en dis asof die blinkblaar-wag-’n-bietjie-bosse die doringboom omsingel het en hom begin strengel het. Stadig maar seker die lewe uit die doringboompie begin tap het.

My vergaderings na die naburige dorp het drasties begin afneem vanweë verskeie redes en ek het toe slegs so eenkeer elke ses maande ’n vergadering gaan bywoon. Met die eerste vergadering wat ek weer gaan bywoon het, kon ek nie wag om by die plek te kom waar die doringboom en die bosse gegroei het nie. Groot was my verbasing toe ek daar aankom en sien dat die doringboompie heeltemal dood is. Al wat groen was, is die blinkblaar-wag-’n-bietjie-bosse.

Met die volgende vergadering was nog net die blinkblaar-wag-’n-bietjie-bosse oor, die doringboom het nie meer gestaan nie, ek neem aan dit moes omgeval het of die boer het die boom kom wegneem vir brandhout.

Deur hierdie hele twee jaar episode was dit asof daar elke keer vir my ’n boodskap opgesluit was in die gebeure rondom die bome en wat besig was om te gebeur.
Die eerste keer dat ek die Kameeldoringboom opgemerk het, het ek gedink dat die boompie soos ’n kind van YaHWeH was, hy staan eenkant, afgesonder van ander bome en het pragtig vertoon en goed gegroei. Met die opkoms van die blinkblaar-wag-’n-bietjie-bosse het ek onmiddellik besef dit is soos sondes wat groei rondom die pragtige Kameeldoringboom.

Die res van die les het ek eers ten volle begryp toe die Kameeldoringboom nie meer daar was nie. Ons is soos Kameeldoringbome van die Skepper, maar dit gebeur dat die sonde baie stadig maar seker hier rondom ons begin groei en ons later so omsingel dat dit lyk of ons een geheel is. Maar die ‘onkruid’ is besig om ons te beroof van die ‘lewe’. Die aanslag is voortdurend, sonder ophou en die enigste uitweg is wanneer die ‘Boer’ sou kom en die blinkblaar-wag-’n-bietjie bosse sou kom uitkap rondom ons.

Soms sien ons net die sondes wat skielik op ons afkom en ons oorweldig maar ons merk nie die sondes op wat so stil-stil in ons lewens insluip en saam met ons groei nie. Ons moet ons oë oopmaak en self ondersoek instel om te kyk wat in ons eie lewens aangaan. Ons moet waak dat ons tradisies en gewoontes ons nie blind gemaak het vir die blinkblaar-wag-’n-bietjie-bosse wat besig is om ons te omsingel nie.
Laat ons vandag die groot Landbouer aanroep wat hy die blinkblaar-wag-bietjie-bosse om ons kom uitroei sodat ons kan groei in Hom.

1 comment:

Anonymous said...

Goeiedag,

Ek benodig 'n mooi foto van 'n Kameeldoringboom vir 'n vriend se digbundel. Kan u ons dalk help? Die foto se resolusie moet groot wees. U kan 'n e-pos stuur aan charmainp@gmail.com. Dit sal hoog op prys gestel word.
Dank by voorbaat.
Charmain Potgieter