Monday, March 29, 2010

Pasga Seën en Skuld


Gisteraand het ons weer die Pasga gevier soos Vader vir ons bepaal het in
Levitikus 23 met die ongesuurde brood en wyn.
Watter wonderlike ervaring is dit nie elke keer om te deel in die verlossings gawe wat Yahshua ons bied deur Sy bloed wat Hy vir ons gestort het aan die folterpaal nie. Die ongesuurde brood wat Sy gebreekte liggaam verteenwoordig wat vir ons geoffer is tot versoening van ons sondes.
Die verhaal van die verlossing vanuit Egipte en die beloofde seëninge wat wag vir die volk. (mits hulle gehoorsaam sou wees)

Maar helaas is dit die suurdeeg (sonde) wat ons ontneem om te deel in die heerlike beloftes van Vader. Die Pasga en die Week van Ongesuurde Brode word gekenmerk deur die onthouding van enige produk wat suurdeeg bevat.

Tydens die Pasga moet ons onsself ondersoek, ons moet soek na die suurdeeg in ons huis (ons moet soek na die sonde in ons lewe) en ons moet daarvan ontslae raak, ons moet dit bely en laat staan.

Maar wat doen die suurdeeg dan aan ons? Laat ons so vinnig kyk wat gebeur met suurdeeg wanneer dit in die deeg is. Dit laat die deeg rys vanweë die gas wat die suurdeeg vorm en die gas word as lug borrels in die deeg vasgevang.
So het die suurdeeg (sonde) dieselfde effek in ons lewens, dit maak ons opgeblase van eie waan, eie liefde en hoogmoedigheid.

Dit maak van ons iets wat nie bruikbaar is vir die Koninkryk van die Almagtige nie en omdat ons gevul is met die sonde is daar nie plek vir Vader in ons hart nie.

Suurdeeg kan nie uit die deeg verwyder word nie, die enigste oplossing is ’n nuwe deegmengsel en so moet ons vir Vader vra om ons nuut te maak. Ons is skoon gewas deur die bloed van die Lam wat vir ons geslag is.
Maar leef ons in die verlossing wat ons gebied is of is ons steeds vasgevang in die suurdeeg wat in ons lewens teenwoordig is?

By nadere en intense self ondersoek moet ek erken dat daar nog steeds heelwat suurdeeg teenwoordig is en dit lei tot ’n gevoel van enorme skuldigheid en hartseer oor dit wat ek Vader aandoen.

Hoe lank nog sal ons die stryd voer?

Hoe verlang ek tog nie na die volmaaktheid van my Verlosser nie.

Sommige dae is die wedloop wat ons hardloop baie moeiliker as ander dae maar tog wanneer ek my oë opslaan na die hemele dan weet ek dat Hy my die krag en genade gee om te oorwin.
Die soeke en die wegwerp van die suurdeeg is ’n lewenslange taak wat slegs voltooi sal wees die dag wanneer my gees terugkeer na my Vader. Dan sal dit voltooi wees.

Tot dan bid ek U Vader om aan my en my mede gelowiges die krag en genade te skenk om die stryd blymoedig te stry, nooit moed op te gee nie en vas te hou aan U beloftes.

2 comments:

Anonymous said...

Wat vir my interesant is, is dat na die Volk in Egipte die bloed van Yeshua aan hul deurposte gesmeer het[Die Lam se bloed] het hulle ALMAL met uitsondering van 2 in die woestyn uitgesterf omdat hulle nie die wette wat aan Moses gegee is wou volg nie.

Dit help geensins om te se ;ek het net jesus nodig nie.

Anonymous said...

Wat vir my interesant is, is dat na die Volk in Egipte die bloed van Yeshua aan hul deurposte gesmeer het[Die Lam se bloed] het hulle ALMAL met uitsondering van 2 in die woestyn uitgesterf omdat hulle nie die wette wat aan Moses gegee is wou volg nie.

Dit help geensins om te se ;ek het net jesus nodig nie.