Monday, March 15, 2010

Gelowige versus Ongelowige


Lank gelede was daar ’n man wat graag die verskil wou weet tussen die gelowiges en die ongelowiges want dit wat hy in die alledaagse lewe kon sien het vir hom geen aanduiding gee van die verskil nie.
Albei groepe het baie seëninge ontvang soos gereelde reëns, suksesvolle oeste, geen groot teëspoed nie.

Hy het ernstig gebid dat hy die verskil tussen die twee groepe kon verstaan.

Eendag terwyl hy in die veld wandel kom daar ’n engel na hom en deel hom mee dat hy gestuur is om aan hom te toon die verskil tussen die gelowiges en die ongelowiges.

Die engel het hom weggevoer en aan hom gesê dat hy hom eers gaan wys hoe is dit gesteld met die ongelowiges.
Hulle het in ’n groot vertrek gekom waar daar baie mense rondom ’n groot pot met bredie gesit het. Elkeen was uitgehonger en desperaat om van die bredie te eet.

Elkeen het ’n lepel gehad wat tot in die pot kon bykom maar die lepel se steel was langer as hul eie arm gewees en hulle kon die kos skep maar hulle kon nie die kos in hul mond kry nie..

Die leiding was verskriklik gewees.

Die engel neem die man en sê, “Kom, nou sal ek jou die gelowiges gaan wys.”

Hulle het ’n ander vertrek binnegegaan, soortgelyk aan die eerste vertrek, die mense om die pot bredie, die lang steel lepels. Maar almal was gelukkig en goed gevoed.

“Ek verstaan dit nie” sê die man. “Hoekom is die klomp hier so gelukkig en opgeruimd terwyl die ander in die eerste vertrek verhongerd en misrabel is terwyl alles dieselfde is?”

Die engel glimlag. “Ah, dis baie maklik,” sê hy. “Hier het hulle geleer om mekaar te voed met die lang steel lepels.”

No comments: