Thursday, January 3, 2008

Die Eend en die Duiwel….

‘n Jong seun het by sy ouma en oupa gaan kuier vir die vakansie op hulle plaas. Oupa het vir hom ‘n kettie gegee om in die woud mee te skiet en te speel. Hy het gereeld in die woud gaan oefen op al wat ‘n teiken is maar hy kon nooit die teiken raak skiet nie.
So bietjie moedeloos met sy mislukking om ‘n teiken raak te skiet gaan hy maar huis toe vir aand ete.

Terwyl hy so terug loop huis toe sien hy ouma se troetel eend en sonder om te dink laat waai hy met die kettie en skiet die eend teen die kop morsdood.

Hy was so geskok (dat hy die eend raakgeskiet het terwyl hy nie eens ‘n teiken kan tref nie) en baie hartseer oor ouma se troetel eend.
Vrees bevange steek hy toe die dooie eend weg onder die hout hoop in die agterplaas net om te sien dat sy suster hom die hele tyd dopgehou het.

Sarie het alles gesien maar nie ‘n woord gesê nie. Na middag ete die volgende dag sê ouma vir Sarie, “Sarie laat ons gou die skottelgoed was.”
Maar Sarie sê, “Ouma, Jannie het vir my gesê dat hy graag in die kombuis wil help.” Voordat Jannie nog iets kon uitkry fluister Sarie vir Jannie, “Onthou die eend?”
So Jannie het maar help skottelgoed was.

Later die dag vra oupa of die kinders saam met hom wil gaan visvang maar ouma sê sy het vir Sarie nog om te help met die voorbereiding van aand ete.
Sarie het net geglimlag en gesê, “Dit is alles reg want Jannie het vir my gesê dat hy wil graag bly en vir ouma help.”
Sy fluister weer vir Jannie, “Onthou die eend?”
So het Sarie saam met oupa gaan visvang terwyl Jannie vir ouma gehelp het.

Na ‘n paar dae wat Jannie al sy take en Sarie sin moes verrig kon hy dit nie langer uithou nie. Hy het na ouma toe gegaan aan haar erken dat hy per ongeluk haar troetel eend dood geskiet het.

Ouma het afgebuk en hom ‘n drukkie gegee en aan hom gesê, “Skattebol, ek weet. Jy sien ek het by die kombuis venster gestaan en alles gesien maar omdat ouma lief is vir jou het ek jou reeds vergewe. Ek het net gewonder hoe lank gaan jy toelaat dat Sarie ‘n slaaf van jou maak.”

Gedagte vir die dag en elke dag hierna….

Wat ookal in jou verlede is, wat jy ookal gedoen het ..(lieg, verkul, vrees, woede, haat, slegte gewoontes, bitterheid, ens.)
Die duiwel bly dit die heeltyd voor jou kop gooi.
Wat dit ookal is jy moet weet dat God by die venster gestaan het en reeds alles gesien het.
Hy het jou hele lewe gesien.
Hy wil hê dat jy moet weet Hy is lief vir jou en dat jy vergewe is.
Hy wonder net hoe lank gaan jy toelaat dat die duiwel ‘n slaaf maak van jou.
Die wonderlikste ding van God is dat as jy Hom vra om jou te vergewe.
Vergewe Hy nie net nie maar vergeet ook.
Dit is deur God se barmhartigheid en genade dat ons gered word.

No comments: