Monday, January 28, 2008

Brand jou Hut dalk?

DIE enigste oorlewende van ‘n skeepsramp het op ‘n klein en verlate eiland uitgespoel.

Hy het ernstig gebid dat God hom moet red en elke dag het hy die horison dopgehou vir ‘n moontlike verbygaande skip, maar daar was niks.

Uitgeput het hy uiteindelik vir hom ‘n hut gebou. Kos was skaars. Hy het stadigaan bymekaar gemaak wat hy kon. Wie weet hoe lank hy daar sou moes bly.

Een dag toe hy weer na kos gaan soek het, het hy by sy terugkeer gesien dat sy hut aan die brand is. Hy kon die brand nie blus nie. Alles wat hy bymekaar gemaak het, is vernietig.

Nodeloos om te sê die man was moedeloos. “God, hoe kon U dit aan my doen,” het hy geskreeu.

Ure later het die dreunende motore van ‘n skip hom wakker gemaak. Die bemanning het hom kom red.

“Hoe het julle geweet ek was hier,” wou hy van die bemanning weet.

“O’ ons het jou rooksein gesien,” het hulle geantwoord.

Dis maklik om mismoedig te word. Maar as Christen is ons veronderstel om altyd bo die omstandighede te lewe en nooit onder die omstandighede nie. Ons moet God so goed leer ken dat ons sal besef dat wat ook al gebeur, God het ‘n plan daarmee, al word mens soos Josef ook onder in ‘n put gegooi.

God is aan die werk in ons lewens, selfs te midde van pyn en lyding.
Onthou, volgende keer wanneer jou hut tot op die grond afbrand, dan is dit dalk bloot ‘n rooksein wat roep na God se Genade.

Vir al die negatiewe dinge wat in ons lewens gebeur, het God ‘n positiewe antwoord.

Wanneer jy sê iets is onmoontlik, dan sê God : Alle dinge is moontlik (Lk. 18:27)
Wanner jy moeg is, bied God jou rus aan (Matt. 11:28-30)
Wanneer jy meen niemand het jou lief nie, sê God Hy is beslis lief vir jou. (Jh. 3:16).
Wanneer jy meen jy kan nie meer voortgaan nie, dan sê God Sy Genade is vir jou genoeg. (11 Kor. 12:9).
Wanneer jy meen jy weet nie meer herwaarts of derwaarts nie, dan sê Hy, hy sal vir jou die rigting aandui. (Spr. 3:5-6).
Wanneer jy sê jy kan dit nie doen nie, dan sê God jy kan wel. (Phil. 4:13).
Jy sê dis nie die moeite werd nie, maar God sê dit is. (Rom. 8:28).
Jy meen jy kan nie kop bo water hou nie, maar God sê Hy sal in al jou nood voorsien. (Phil. 4:19).
Jy is vol van vrees, maar God sê Hy het jou nie ‘n gees van vrees gegee nie. (11 Tim. 1:7).
Jy sê jy het nie geloof nie, maar God sê Hy het aan ons elkeen ‘n mate van geloof gegee. (Rom. 12:3).
Wanneer jy meen jy is nie skerp genoeg nie, sê God Hy het aan jou wysheid gegee. (1 Kor. 1:30).
Wanneer jy meen dat jy eensaam is, sê God Hy sal jou nooit verlaat nie. (Heb. 13:5).

Soms moet ‘n mens se hut (dalk ‘n afgod in jou lewe) afbrand, sodat jy weer die genade van God kan smaak.

No comments: