Wednesday, February 17, 2010

Koeldrank Bottel se Geloof


Hierdie gebeurtenis het baie jare gelede gebeur, maar tog is die wonder daarvan so vars soos gister in my gedagtes.

Daardie jare, laat 70’s was ek nog ’n student met ’n staatsbeurs. Die beurs het die studie gelde betaal en ’n klein salarissie. Die salaris was in elk geval so min dat as ek dit vandag vir die kinders as sakgeld moet betaal sal ek omtrent ’n huis revolusie op hande hê.
Maar steeds kon ek doen wat gedoen moes word, woonstel huur betaal (die regte ou tipe bachelors woonstelle in Arcadia, Pretoria), water en elektrisiteit, bietjie petrol geld, verloofring afbetaal, meubel paaiement (sitkamer en slaapkamer stel) en so bietjie kruideniers ware.

Daar was nie geld gewees vir die tipiese kitskosse van vandag nie. As jy iets wil eet moet jy dit maak soos spaghetti en nie 2 minuut noodles nie. Die stapelvoedsel was in elk geval die meeste van die kere brood gewees.

Maar heel bo aan die begroting was my tiende gewees. Die het ek nooit versuim om te betaal nie en dis nou een ding wat ek van klein af geleer het. Maak nie saak hoe swaar dit die maand gaan nie, geen verskoning is aanvaarbaar om nie die tiende te betaal nie.

Nou moet ek omtrent ’n storie binne ’n ander storie vertel, maar ek glo julle sal verstaan.
Ek was nog ’n jong mannetjie, seker so graad 2, standerd 1 rond gewees. My pa het besluit dat hy van nou af elke maand sy tiende gaan betaal, kom wat wil, want dit was een van Vader se beloftes. Betaal jou tiende en beproef my daarin. Hy het dit nie vir ons as kinders pertinent meegedeel nie maar ek kon dit aflei tussen sy gesprekke met my ma.

Mense, was ons as gesin daarin beproef. Die duiwel was listig en wou nie toelaat dat die voorneme van my pa moes plaasvind nie. Die eerste maand met die voorneme om die tiende te betaal het die kar se enjin aan die brand geraak.
Mens vergeet soms baie dinge wat gebeur het toe jy klein was, maar daar is sommige dinge wat jy so goed onthou, selfs die kleinste detail van die insident.

So was dit met die brand van die kar se enjin. Ons het by mense gaan kuier of ons was op pad na hulle, skielik was dit net vlamme en rook. Daar was nie water of ’n brandblusser naby nie en die enigste was grond wat op die sypaadjie was (gelukkig was die sypaadjies daardie jare nog nie geplavei nie). Die is met hande en emmer aangedra en op die brandende enjin gegooi.
Nadat die adrenalien vlakke so bietjie gesak het, kon ek die moedeloosheid van my pa sien en aanvoel.

Die versoeking was groot om die tiende geld te gebruik om die kar reg te maak. So het dit vir ’n wyle aangehou met goed wat net breek of een of ander skade wat ons oorkom. Maar die besluit was gemaak en my ouers het vas daarin bly staan in hul besluit.

Hierdie insident het so groot indruk op my kinder gemoed gehad dat ek dit vir die res van my lewe sou onthou. Dit was seker een van die eerste en grootste geloof lesse wat ek by my pa geleer het en daarom was dit een van die voornemens wat ek vir myself gestel het. Die dag wanneer ek ’n salaris verdien sal ek my tiende getrou betaal want Vader het hierin ’n onderneming gegee dat ons Hom in die belofte kan beproef.

In elk geval, terug by die studente jare. Een maand was ’n besonderse moeilike maand gewees en die kos was op voordat die volgende salaris uitbetaal word. Ek kon seker my ouers gebel het en gevra het vir geld maar moontlik was ek te trots gewees om te vra en vasbeslote om te bewys dat ek op my eie kan regkom sonder hulp.

Die aand nadat ek klaar studeer het, was ek redelik honger gewees, maar daar was werklik nie veel ( mooi woord vir niks!) in die koskas of yskas om te eet nie.

Na ’n wyle se wik en weeg het ek besluit, maar Vader het aan my die belofte van die tiende gegee dat ek hom kan beproef in wat Hy gesê het.
Met ’n vasberadenheid wat myself verbaas het, het ek begin stap na die kafee, want ek het geweet iewers langs die pad sal Vader voorsien dat ek geld sal kry om ’n brood te koop. Die kafee was nie te vêr van die woonstel af nie, so een straatblok (moet byvoeg dat die stads straatblokke darem heelwat groter is as die dorp sin).

Op ’n stadium het ek so bietjie getwyfel, veral toe die kafee sommer baie naby was en nog niks gebeur het nie, maar ek het net bly vasklou aan Sy belofte en bly glo.
Die kafee was deel van ’n winkel sentrum gewees en was geleë by die hoof ingang van die kompleks (dis darem nou nie die komplekse soos ons hulle vandag ken nie).
Sekere so vyf tree van die kafee se ingang was daar 3 of 4 leë een liter koeldrank bottels gewees.

Ek kon my oë nie glo nie en daar was niemand in sig wat eienaarskap van die leë bottels eis nie. Gewoonlik staan leë koeldrank bottels nie sommer rond nie, want hulle word gou opgetel en ingeruil vir geld.
Ek onthou nog dat die paar bottels nogal mooi regop langs mekaar gestaan het, nie asof iemand hulle daar neergegooi het nie.

Ek het die bottels opgetel en die kafee ingestap en my brood gekoop. Almal wat my ken weet dat ek ’n redelike soet tand het en maar ’n swak weerstand het vir lekkergoed. Met die geld wat ek vir die bottels gekry het, het ek behalwe die brood nog ’n paar toffies kon koop. Die lekkergoed was omtrent ’n bonus gewees en was soos die cherry op die koek.

Nodeloos om te sê, maar die terugtog woonstel toe was om soos op wolke te loop. Ek was in ekstase ook Yahweh se groot genade en geeneen sou op daardie stadium die loflied in my hart kon stilmaak nie.

Ek het Vader beproef in Sy belofte en Hy het my nie teleurgestel nie.
Vandag staan my tiende bo aan my begrotings lysie, eers vir Vader en die res sal vanself uitwerk.

Na al die jare werk dit steeds uit, ons het nie gebrek nie maar is ook nie ryk nie. Miskien moet ek die “nie ryk nie” verander. Ons is ryk,...... baie ryk........, in die seëninge en genade van Vader, want Hy voorsien vir ons, meer as wat ons nodig het.

Vader, vandag wanneer ek wil kla en murmureer oor dit wat ek nie het nie, laat ek my seëninge tel en besef dat U in oorvloed voorsien. Dankie, dat U my nie ryk gemaak het sodat ek dalk hoogmoedig sou word en U verwerp nie en dankie dat U my nie brandarm gemaak het dat ek sou moes steel en so die naam van my Skepper sou versmaad nie.
Amen

1 comment:

Anonymous said...

Lekkerste lekker van 'n verhaal dié -- dankie vir die deel.

WAT 'n God dien ons tog!