Monday, January 31, 2011

Die Hartseer van ’n Sabbats Vreugde


Hierdie klink omtrent soos ’n teenstrydigheid maar miskien moet ons eers so bietjie gaan ondersoek instel om te sien of dit werklik ’n teenstrydigheid is.

In Markus sê Yahshua Messiah dat Hy die Sabbat spesiaal vir die adamiet gemaak het.

Markus 2:27 En Hy sê vir hulle: Die Sabbat is gemaak vir die adamiet, nie die adamiet vir die Sabbat nie.

In Genesis 1 sien ons dat Vader YaHWeH na elke skepping die woorde toevoeg;
Toe sien Elohim dat dit goed was.

In vers 31 verklaar Elohim as volg:
Toe sien Elohim dat alles wat HY gemaak het, baie suiwer was. En dit was aand en dit was môre, dit was die sesde dag.

In Genesis 2: 2en 3 Sê Elohim:
2 En Elohim het op die sewende dag Sy werk voltooi wat HY gemaak het, en op die sewende dag gesabbatteer van al SY werk wat HY gemaak het.
3 En Elohim het die sewende dag geseën en dit apart gestel; omdat Elohim daarop gesabbatteer het van al die werk wat HY geskep en gemaak het.


Dus kan ons sien dat Elohim na elke dag bevestig het dat dit goed was en aan die einde van die skeppings dae bevestig Hy weereens dat alles wat Hy gemaak het baie suiwer was.

Elohim het terug gekyk na die skeppings week, die werk van Sy hande, en bevestig dat dit suiwer en baie goed was. Vader was baie tevrede met dit wat Hy gedoen het die week.

Die Sabbat behoort ook vir ons ‘n dag van vreugde en heerlikheid te wees omdat die dag spesiaal vir ons gemaak is, ‘n dag waarop ons kan rus van die werke van ons hande en kan spandeer om ons Glansryke Koning te loof en te prys.

Maar dit is ook ‘n dag wat ons moet kan terug kyk op die week en moet kan sê,
“dit was suiwer en baie goed.”
Sodra ons, ons optrede en dade van die afgelope week bepeins en oordenk, dan is dit met pynlike herinnering wat ons moet dink aan ons sondes, ons gebreke, ons tekort kominge, ons hoogmoed, ons hardheid van hart, die haat en nyd wat daar in ons hart geheers het en die onsuiwere woorde wat oor ons lippe en in ons hart geuiter is.

Kan ons dan nog werklik sê, “dit was suiwer en baie goed.” ? ? ?

Temidde van die vreugde oor die Sabbat is daar die hartseer omdat ons nie kan sê ons weë die afgelope week was suiwer en baie goed nie.

Ons het nog so vêr pad om te gaan voordat ons sal kan sê, dit was suiwer en baie goed.

Laat ons voordurend tot ons Koning YaHWeH nader om ons elke dag die krag en genade te gee om te oorwin in Sy naam en dat ons sal streef om ook eendag te kan terugkyk en sê:

“dit was suiwer en baie goed.”

No comments: