Tuesday, January 25, 2011

Oggend Oordenking


Almagtige Majesteit YaHWeH, soos wat ek oor die drempel stap van ’n nuwe dag gee ek myself, hart, siel, liggaam, alle sake en vriende oor in U sorg.
Waak oor, onderhou, lei, stuur, heilig en seën my.
Neig my hart na U weë.
Vorm my geheel in die beeltenis van Yahshua, soos die pottebakker die klei vorm. Mag my lippe soos ’n goed ingestelde harp wees om U glansrykheid te besing.

Laat my medemens my sien leef deur U Gees, onbeweegbaar deur die aardse dinge, vrygemaak van nietighede, met ’n hart wat vernuwe is deur U genade, geklee in die volle wapenrusting van YaHWeH, skyn soos ’n onuitdoofbare lig en dat heiligheid skyn in al my doen en late.

Laat geen boosheid in hierdie dag my gedagtes, woorde of hande besoedel nie.
Mag my aardse wandel wees met ’n lewe wat onbevlek en rein is, my verlange voortdurend na die hemelse is en my liefde opwaarts styg soos die vlamme van ’n vuur.
Laat my oë gevestig bly op die onsienlike dinge en oop vir die leegheid, breekbaarheid en valsheid van die wêreld en sy nietighede.

Mag ek alle dinge aansien in die spieëlbeeld van die ewigheid, wagtend op die koms van my Koning, met ore wat wag op die klank van die laaste basuin en ’n haas om te gaan na die nuwe hemel en aarde.

Gebied in hierdie dag al my gesprekke ooreenkomstig U wysheid en dat dit sal lei tot wedersydse liefde. Verbied dat ek iets sal doen vir eie gewin.
Mag ek elke woord spreek asof my laaste woord en elk tree gee asof my laaste tree.

Indien my lewe vandag sou eindig laat dit my beste dag wees.

No comments: