Tuesday, January 18, 2011

Puritein Gebede


Die volgende paar weke wil ek graag Puritein Gebede plaas wat oorgeneem is uit die Vallei van Visie: ’n Versameling van Puritein Gebede en Verootmoedigings.

Die gebede is baie treffend en spreek tot die diepte van die siel en getuig van ’n uiterste verlange om in geregtigheid voor YaHWeH te wandel maar dui ook die mens se totale afhanklikheid aan van Vader se genade en vergiffenis.

Belydenis en Smeking

Heilige YaHWeH, ek het gesondig male sonder tal, is skuldig aan trotsheid en ongeloof, het gefaal om U wil te soek in U Woord, van nalatigheid om U te soek in my daaglikse bestaan.
My oortredinge en tekortkominge staar my in die gesig met ’n lys van aantuigings, maar ek loof U dat hul nie teen my sal staande bly nie omdat hul almal geplaas is op ons Verlosser Yahshua Messiah.
Gaan voort en onderdruk my verdorwenhede en bied my genade om bo hulle te leef. Laat nie toe dat die passies van die vlees of die wellustighede van die sinne my siel onderwerp nie, maar heers U oor my in vryheid en in krag.

Ek dank U dat baie van my gebede geweier is. Ek het verkeerdelik gevra en ontvang nie, ek het gebid uit sinnelike lus en is afgewys, ek het verlang na Egipte en is ’n wildernis gegee. Gaan aan met U geduldige werk, antwoord ‘nee’ op my verkeerdelike gebede en rus my toe om dit te aanvaar. Reinig my van elke vals begeerte, elke valse aspirasies, alles wat teenstrydig is met U wil. Ek dank U vir U wysheid en U liefde, vir al U dissiplinêre handelinge waaraan ek onderworpe is, dat U my somtyds in die oond plaas om my goud te verfyn en my loog te verwyder.

Geen toets is so moeilik te verduur soos die bewustheid van sonde nie. Indien U my die keuse sou bied om te lewe in plesier en my sonde te behou of om hulle weg te brand deur beproewing, skenk my geheiligde beproewing. Verlos my van elke kwade gewoonte, elke aanwassing van vorige sondes, enigiets wat die helderheid van U genade in my verdoof en enigiets wat my verhoed om my in U te verbly. Dan sal ek U seën, YaHWeH, die Geliefde Een, wat my help om staande te bly.

No comments: