Thursday, January 27, 2011

Oggend


Genadige YaHWeH, U genade het my gebring by die aanbreek van ’n nuwe dag. Vergeefs sal sy geskenk wees tensy ek groei in genade en kennis om ryp te word vir die geestelike oes. Laat my die dag U ken in U grootheid, U tot die uiterste toe bemin, U hartgrondig dien en U in volheid vereer.

Deur genade laat my wil U gehoorsaam wees, wetende dat die krag tot gehoorsaamheid nie in my is nie, maar dat U vrye liefde alleen my in staat stel om U te dien.

Hier is nou my leë hart, vul dit oorvloedig met U keurigste geskenke; hier is my blindheid om te verstaan, verdryf die wasigheid van onkunde.

O ewige wakende Herder, lei, wys en versorg my die dag; sonder U teregwysende staf fouteer en dwaal ek. Omhein my pad sodat ek nie afdwaal in sondige plesier en drink van sy giftige stroom nie; rig my voete dat ek nie verstrik raak in Satan se geheime strikke of val in sy verborge lokvalle nie.

Beskerm my van vyande wat my aanval, van euwels op my pad, van myself.
My teenstanders is deel van my natuur, hulle kleef aan my soos my eie vel; ek kan nie hul kontak ontglip nie. In my sit en my staan pynig hul my; hul probeer my voortdurend verlei met allerlei lokaas; my vyand is binne die vesting. Kom met U almagtige krag en werp hom uit, deurboor hom en verdryf uit my elke stukkie vleeslike begeerte in hierdie dag.

No comments: