Thursday, January 6, 2011

Slegs my hart en my liefde.


O’ My God, daar is niks wat ek vir U kan doen, bied of bring.
O’ Waarom voel ek in my liefde vir U so hopeloos gering.
So graag wil ek saam met die engele om U staan in ʼn kring.
Ja, saam met skare hemelsfere so graag U ewige lof besing.
Ja, in heerlike saligheid uitbundig uitroep in my jubeling.
Hosanna-hosanna wil ek uitroep in my lied aan U gebring.

Ja, so wil ek jubel en sing terwyl ek dartel na U woning.
In die refrein van my melodie, my liefde betuig in fluistering.
Soos ʼn bruid naderstaan- my hand uitgehou vir die trouring.
Skaamteloos getuig, daar is net één, Elohim is my Liefling.
Tydens my aardse lewe, staan Hy my by- in my loutering.
Daarom wil ek so graag, so graag iets kosbaars vir U bring.
Maar, my God, daar is niks- wat ek vir U kan doen of bring.

Daarom voel ek in my liefde vir U so hopeloos uiters gering.
Terwyl die woord van my lied sterf in treurige boetedoening.
In my klaaglied ween ek en sê: kyk, O’ God, ek is te gering.
Ek is te sondig- om te kan staan in hemelskares se kring.
Terwyl ek berouvol my hande in gebed, voor U saamwring.
Maar my enigste besitting- my hart- sal ek nou na U bring.

Skaamteloos vra: by U wil ek woon, ja, in U ewige woning.
Ek weet U het my lief- U het Uself na die sondaars gebring.
Daarom sal my klaaglied- nou weer, in jubellied ontspring.
Engele roep ek toe: neem my saam om my hulde te bring.
Vrolik sal ek hosanna sing in my lied aan my God gebring.
O’ my God, daar is iets, ja iets, wat ek wel na U kan bring.
Dit is my hart en ook my liefde, wat U ewige lof toe sal sing.

Judith de Beer

No comments: