Friday, September 17, 2010

Sterf ’n Duisend Dode


Hoe dikwels hoor ons nie die woorde wanneer iemand probeer verduidelik hoe skaam hulle was of hoe is hulle nie verneder nie of hulle was so bang dat dit gevoel het hulle sterf ’n duidend dode.

Soms gaan ons as mense baie ligtelik met woorde om sonder om oor die werklike betekenis daarvan te dink.

Waar sou so gesegde vandaan kom? Is daar iemand wat alreeds ’n duisend dode gesterf het en daarvan kon getuig hoe erg dit was? Is die dood werklik vir almal erg? Vir die gelowige is dit wins. Hoe kan dit dan as die uiterste van vernederend beskou word?

Maar daar is een wat onmiddellik in gedagte kom en dit is ons Verlosser Yahshua Messiah.

Het ons al regtig stil gaan staan en die hele gebeure rondom die kruisiging baie mooi bedink. Daar word vinnig aan die mense vertel – Yahshua het vir jou sondes gesterf en om Hom aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker verseker jou redding.
Ongelukkig lyk dit vir my is dit ook nie eens deesdae meer ’n voorvereiste nie. Want almal dien mos net ’n God van liefde. Die Elohim van hemel en aarde is ’n regverdige Elohim wat liefhet maar ook wraak neem oor die wat Hom haat.

Dit is noodsaaklik dat ons sal stilstaan en die offer wat Yahshua Messiah gebring het baie mooi oordink.
Ons dink dat Hy vir ons sondes gesterf het en dat dit nie so erg is nie, maar besef ons wat presies gebeur het?

Yahshua die regverdige, die Een wat sonder sonde was, is vasgespyker aan die folterpaal waar jou sondes deel van Hom geword het.
Hy, die Almagtige, het in dié tyd ’n moordenaar, ’n dief, ’n leuenaar, noem maar op geword.

Hy is gestraf asof Hy die sondes gedoen het, want dit is die enigste manier waarop daar volkome versoening gedoen kon word vir jou en my sonde.
Ek en jy se oortredinge het van Hom ’n leuenaar, ’n dief ’n moordenaar gemaak.

Hoe moes ons Redder nie gevoel het op daardie stadium toe Sy Glansrykheid verduister is deur die misdade en oortredinge van Sy kinders nie.

Daarom kan ons miskien tot ’n geringe mate net maar eers begin om te verstaan toe Yahshua die volgende woorde uitgeroep het in Sy angs en verlatenheid.

Matt 27:46 en omtrent die negende uur het JaHWèshua met ’n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, LAMMA AZABAGTANI ? Dit is: My El, My El, waarom het U My verlaat? [Psalm 22:1]

Mark 15: 34 En die negende uur het JaHWèshua met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Eli, Eli, LAMMA AZABAGTANI? wat, as dit [uit Aramees] vertaal word, beteken: My El, My El, waarom het U My verlaat? [Psalm 22:1]

Psalm22:1 MY El, My El, waarom het U My verlaat, My Verlossing is ver [van] die woorde van My gebrul?

Yahshua is die enigste wat kon sê dat Hy van YaHWeH verlate is. Sy Glansrykheid en Onbevlektheid is so besoedel deur ons sondes dat Hy vir daardie tyd afgesny was van Yahweh en totaal verlate was.

Gaan dink baie diep oor die offer wat ons Verlosser vir ons gebring het, en pleit die Heilige Gees om u verstand en hart te open om die bitter lyding van die gebeure te verstaan en te begryp.

No comments: