Monday, September 13, 2010
Die Arm Man se Skoene
Die jong man, ’n student by die universiteit stap saam met die professor, wat daarvoor bekend was as, die student se vriend. Hy was bekend daarvoor dat hy net goed gedoen het waar hy kom.
Terwyl hulle twee in die wandel paadjie afstap, sien hulle ’n paar ou skoene netjies langs die paadjie gebêre. Die skoene was moontlik van ’n arm man wat in die naby geleë veld gewerk het. Die veld was baie modderig en die arm man het seker nie kans gesien om sy ou skoene te ruïneer deur met dit in die modder te werk nie. Dit was haas uitval tyd en hulle het verwag dat die arm man binnekort sou aankom om sy skoene te kry.
Die student draai na die professor en sê: “Kom ons trek die man ’n streep, ons steek sy skoene weg dan kruip ons in die bosse hier naby weg en kyk na sy reaksie as hy nie sy skoene kan kry nie.”
“My jong vriend,” antwoord die professor, “ons moet onsself nooit vermaak ten koste van die armes nie. Maar jy is ryk, jy kan aan jouself ’n baie groter plesier verskaf deur die armes. Sit ’n muntstuk in elke skoen en dan versteek ons onsself in die bosse en kyk hoe die ontdekking hom affekteer.”
Die student maak toe so en die twee gaan kruip in die naby geleë bosse weg en wag vir die arm man om te kom. Dit was ook nie lank nie voordat hulle die arm man deur die veld aangestap sien kom na die plek waar hy sy skoene gebêre het.
Hy gaan sit op die gras langs die wandelpad en maak sy voete met ’n lappie bietjie skoon voordat hy sy skoene aantrek. Terwyl hy sy een voet in sy skoen steek voel hy iets hards binne die skoen. Hy steek sy hand binne sy skoen om te voel wat dit is en ontdek die muntstuk in die skoen.
Verbasing is op sy gesig geskryf terwyl hy die munt in die rondte draai en seker maak dat dit regte geld is. Hy kyk in alle rigtings om te sien of daar enige omstanders is wat hom dalk ’n poets wou bak, maar niemand was in sig nie. Hy druk die munt in sy sak en gaan voort om die ander skoen aan te trek. Groot was sy verbasing toe hy in die ander skoen ook ’n munt ontdek.
Blydskap oorval die man en hy val op sy knieë terwyl hy ’n dankbaarheids gebed rig tot die Almagtige oor hoe dit hom sal help met sy siek en hulpelose vrou en sy kind wat swaar kry van die honger. Hy dank Vader vir die onbekende hand wat die groot uitkoms aan hom besorg het.
Die student is diep geraak deur die gebeure wat hy sopas waargeneem het en daar is trane in sy oë. “Nou,” sê die professor, “is jy nie nou meer bly jy het die munte in die skoene gesit as die oorspronklike beplande poets van jou nie?
Die jong student antwoord,” Jy het aan my ’n les geleer wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie. Ek verstaan en begryp nou eers wat die woorde beteken: “Dit is baie beter om te gee as om te neem....”
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
2 comments:
Shoe wat 'n ware les. Wat jy saai sal jy maai!!!
2012 en nog steeds so waar.
Post a Comment