Friday, September 3, 2010

Kallie Klippie


Kallie klippie het in ’n veld gelê wat besaai was met witterige, effe vierkantige, rotse. Kallie het baie minderwaardig gevoel teenoor die rotse wat darem heelwat groter as hy was. In rots terme was hy maar gereken as ’n klippie.

Die rotse het verneem dat die Koning gaan daar naby vir hom ’n nuwe paleis bou en dat hy vir sy bouers opdrag gegee het om mooi rotse in die veld te versamel waar Kallie hulle is. Die rotse was almal vreeslik opgewonde want daar was ’n baie groot moontlikheid dat hulle gebruik kan word in die mure van die Koning se nuwe paleis. Watter eer en voorreg sou dit nie wees nie, het elkeen by homself gedink.

Die nuus van die beplande bouery en die versameling van die rotse in hulle veld het Kallie nie juis vreeslik opgewonde gemaak nie, want wie sal nou ’n klein klippie soos Kallie wil gebruik in die mure van die sterke vesting? Tog het Kallie nie moed opgegee nie maar tog gehoop dat hy gebruik kan word, al is dit selfs maar net in een van die binne mure van die nuwe paleis. Dit is so ’n groot voorreg om as een van die boustene van die Koning se paleis gereken te word.

Elke dag het Kallie gesien hoe die bouers die groot, pragtige rotse hier om hom versamel. Hy was baie bedroef wanneer die bouers hier by hom verby loop en hom nie eens opmerk nie. Sommige van die bouers het hom selfs elke nou en dan eenkant toe geskop om by een van die groter rotse uit te kom.
Soos wat die dae en weke verby gegaan het, het Kallie meer mismoedig geword. Hy kon sien hoe die mure van die nuwe paleis verrys en hy herken baie van die pragtige rotse wat hier naby hom gelê het in die buite mure van die paleis.

Maar op ’n dag sien hy dat die bouery skielik stilstaan en dat die Koning om die mure van die paleis stap en aan die bouers kort - kort iets vertel en beduie. Die volgende oomblik sien Kallie al die bouers in die veld rondstap, op soek na iets.

Wat kan dit tog wees? wonder Kallie.

Elke nou en dan sien hy een van die bouers tel ’n kleinerige rots op, bekyk dit en sit dit maar weer neer. Sommige van hulle neem van die klein rotse na die Koning toe, wat dit bekyk en dan net sy kop skud. Die bouer stap dan maar weer terug en sit sy soektog voort.

Kallie sien een van die bouers na hom aangestap kom, hy kan voel hoe hier so effense opgewondenheid in sy binneste begin klop. Kan hulle hom dalk kom kies? Kan hy dalk die keer gelukkig wees?

Die bouer tel hom op, bekyk hom van alle kante, vee die bietjie klam grond van sy onderkant af en glimlag breed.

Terwyl die bouer hom dra na die Koning is daar te midde van die opgewondenheid ’n groot benoudheid oor hom. Sê nou maar net die Koning dink hy is nie reg vir die bouwerk nie. Dit sal hom baie hartseer maak.

Die bouer oorhandig vir Kallie aan die Koning. Die Koning bekyk Kallie van alle kante en sê tevrede vir die bouer, “Dit is net nie regte een wat ek gesoek het.”
“Roep gou al die ander bouers bymekaar dat ek aan hulle kan verduidelik die belangrikheid van klein klippies en rotse in die bouwerk.” sê die Koning aan die bouer.

Sommer gou is al die bouers versamel om die Koning. Hy begin aan hulle te verduidelik.
“Dit is belangrik dat mens die mooi en groot rotse bymekaarmaak as boustene. Hulle gee sterkte aan die struktuur en die paleis word baie vinniger gebou met die groot bou klippe. Die probleem ontstaan dat die groot rotse pas nie altyd perfek inmekaar nie en daar is openinge tussen die blokke wat nie met die sement opgevul kan word nie.

Vir die openinge is dit belangrik om klein klippies en rotse te kry om in te bou. hulle verleen sterkte aan die muur en speel net so belangrike rol as die groot rotse. Die klein klippies hou die groot rotse in hul plek en maak dat hulle mooi in lyn gebring is.
Sonder die klein klippies is die bouwerk slordig en swak.

Moet nooit die klein klippies en rotse in jul bouwerk vergeet nie.”

Die bouers het besef dat die klein klippies net so belangrik is as die groot rotse, want die een kan nie sonder die ander nie.
Die Koning het vir Kallie geneem en hom ingebou op die hoek tussen twee pragtige groot rotse. Die Koning het so effe terug gestaan en beduie toe aan die bouers. Kan julle sien hoe die klein klippie ’n perfekte band vorm met die groot rotse en maak dat die muur sterker is en netjies vertoon.

Reken jy jouself vandag as maar ’n klein klippie in die bouwerk van ons Meester Yahshua. Wees dan verseker dat selfs vir jou is daar ’n baie belangrike plekkie in Sy bouwerk. Selfs die groot rotse het die ondersteuning van die klein klippie nodig om beter te vertoon en sterker te wees.

Psa 118:22 Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.

No comments: