Monday, October 13, 2008

Ware Vrede


Daar was eendag ‘n koning wat in sy ryk ‘n prys uitgeloof het vir die skilder wat die beste skildery kan maak wat vrede voorstel.
Baie skilders, beroemd en amateur het gepoog om die prys te wen.

Die koning het na al die skilderye gekyk, maar daar was net twee waarvan hy werklik gehou het en hy moes kies tussen die twee.

Die eerste was van ‘n pragtige kalm meer in die berge met die meer wat die detail en majesteit van die berge met die son op hulle perfek reflekteer. Bokant die meer en berge was ‘n pragtige blou hemelruim met hier en daar ‘n spierwit wolkie.
Almal wat die skildery gesien het was oortuig dat dit die beste voorstelling van vrede is van al die skilderye.

Die ander skildery het ook berge gehad, maar hulle was ru, kaal en somber. Bokant hulle was ‘n hemelruim wat gevul was met die aller vreeslikste onweerswolke wat gietende reën laat neerstort het op die ongenaakbare berg. Flitsende weerligstrale het die harde ongenaakbare landskap verlig.
Langs die kant van die berg was daar ‘n skuimende waterval wat teen die rotse aftuimel na benede.
Op die oog af was dit ‘n baie onrustige skildery en het geensins van vrede getuig nie.

Maar toe die koning die waterval van naderby bekyk sien hy agter die skuimende watermassa ‘n klein struikie wat in ‘n rotsskeur groei. In die struik het ‘n voëltjie vir haar ‘n nes gebou. Daar te midde van die donderende weer, gietende reën en kaaie waterval sit die voëltjie op haar nes …. perfekte vrede.

Die koning het die laaste skildery gekies as die wenner en toe sy vriende by hom wil weet, “maar waarom die onrustige een?”
Was sy antwoord:
“Want, vrede beteken nie om in ‘n plek te wees waar daar geen geraas, gevaar, moeilikheid of harde werk is nie. Vrede beteken om te midde van dit alles steeds kalm in jou hart te wees. Dit is die betekenis van ware vrede.”

(Joh 16:33) Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

No comments: