Wednesday, October 15, 2008

Sand en Rots


Twee vriende het neergestort in die woestyn met hul ligte vliegtuig. Die twee het ongedeerd daarvan afgekom maar die vliegtuig was ‘n wrak en daar was geen manier wat hulle hulp kon ontbied nie. Hul besluit toe die beste raad is om maar te stap en kyk of hulle uit die woestyn kan kom.
Terwyl hulle stap raak hulle twee in ‘n argument betrokke en die een klap sy vriend deur die gesig.

Die een wat geklap is was baie seergemaak en sonder om ‘n woord te sê, skryf hy in die sand:

“Vandag het my beste vriend my deur die gesig geklap.”

Hulle het aanhou stap tot hulle uiteindelik by ‘n oase in die woestyn uitkom. Nadat hulle klaar water gedrink het besluit hulle om in die water te spring en af te koel van die versengende hitte.
Die een wat geklap was deur sy vriend het eerste ingespring maar in die middel van die poel was dryfsand en hy was besig om weg te sink in die sand. Sy vriend het dadelik gehelp en hom gered van ‘n gewisse dood.

Nadat hy herstel het van nou ontkoming aan die dood, skryf hy op ‘n rots by die oase:

“Vandag het my beste vriend my lewe gered.”

Sy vriend vra hom,” Hoe werk dit? Nadat ek jou geklap het skryf jy in die sand en nou skryf jy in die rots, hoekom?”

Sy vriend antwoord, “Wanneer iemand ons seermaak of verontreg moet ons dit in die sand skryf waar die winde van vergiffenis daaroor kan waai en dit uitvee. Maar, wanneer iemand iets goeds vir ons doen moet ons dit in die rots skryf waar geen wind dit ooit kan uitwis nie.”

Leer om jou seerkry in die sand te skryf en kerf jou blydskap uit in die rots.

Moenie waarde heg aan wat jy in jou lewe het nie, maar waardeer wie jy in jou lewe het!

No comments: