Friday, October 17, 2008

Die Vrye Wil


Sekerlik die grootste verantwoordelikheid wat ons Ewige Almagtige Vader op die skouers van die adamiet kon plaas.

Die vermoë om self keuses te kon maak – ‘n vrye wil om te besluit.

Buiten die feit dat dit meebring dat ons verantwoordelik te werk moet gaan met die “mag” wat aan ons verleen is moet ons ook self die gevolge dra van ons besluite. Die gevolg van swak keuses wat ons maak kan dus nou nie voor iemand anders se deur geplaas word nie maar slegs voor ons eie.

Inherent bestaan die gevolg van keuses deur die vrye wil uit slegs twee kategorieë te wete goed of kwaad.
Baie sal daar wees wat hulself probeer verontskuldig deur te beweer dat hulle bedoeling nie die kwaad was nie maar eintlik goed. Hiermee kan hulle baie van hul mede broers en susters om die bos lei maar daar is Iemand wat veel dieper kan sien, Hy sien tot in die hart van die mens.

Die gevolge naamlik goed of kwaad kan ook anders omskryf word naamlik liefde of haat. Verkondig of spreek die gevolg van die vrye keuse van liefde tot God en die naaste of van haat teenoor God en die naaste?
Ongelukkig (of gelukkig) is daar geen grys areas tussenin nie dis óf vir óf teen God.

Enige van jou besluite wat nadelige gevolge vir jou naaste mag inhou of hom of haar op enige wyse mag te na kom is ‘n kwade besluit, ‘n besluit teen God. Selfs besluite om die naaste te straf wanneer hy / sy die wet en gebooie van God oortree het val onder besluite vir God, mits die bestraffing in liefde plaasvind en ten doel het om die naaste terug te bring op die regte pad van God.

Nou kom die wonder van die besluit om God lief te hê ter sprake. Watter wonder is dit nie dat God ons die keuse gegee het om hom lief te hê. Net so maklik kon Hy ons geskape het dat almal Hom onvoorwaardelik sou liefhê en dien. Maar sou dit kwalifiseer as liefde of eenvoudig net nog ‘n aksies soos om asem te haal omdat my liggaam die lug nodig het.

Nee, beslis nie. Die warmte van die liefde lê juis daarin dat dit vrywillig is, ‘n bewuste keuse. Daardeur gee ek nie net my hele hart nie maar ook my hele self.
Dit is juis die liefde wat ons lewend maak, dit skep ‘n waardering binne ons vir alles wat mooi, pragtig en rein is, van mooi melodieë, gedigte, die gesig van ‘n geliefde tot by die genade van ‘n Barmhartige Lewende God.

Moet vir geen oomblik die mag van die vrye wil onderskat nie want dit is een van die grootste magte wat aan die mens geskenk is.
Oorloë en slagtings het al plaasgevind ter wille van die vrye wil, om te kan kies hoe ek wil leef en wat ek wil doen.
Vandag word dit geklee in ander kleding soos demokratiese reg of vryheid van keuse maar steeds bly dit presies dieselfde ding.

Wees baie versigtig hoe jy die mag gebruik want soveel seën soos wat dit mag bring net so kan dit die persoon wat dit verkeerd aanwend berowe van sy siel.

(Spreuke 11:23) Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is ‘n strafgerig van toorn.

No comments: