Tuesday, October 7, 2008

Die Pottebakker en die Klei


Hoe geneig het ons nie geraak om net by die verhaal van die Pottebakker en die klei stil te staan nie. Ons konsentreer net op die een begrip of deel van die proses naamlik hoe die Pottebakker die klei vorm en maak in dit wat vir Hom behaaglik is.

Ons elkeen wil ‘n mooier potjie of vasie wees as die ander en ons is soms baie ongelukkig met die vorm waarin ons gemaak is. Ons kyk net vas teen ons uiterlike vorm sonder om na te dink oor die doel waarvoor ons gevorm word.

Almal kan tog sekerlik nie dieselfde pot, houer of vaas wees nie – die een hou blomme in wat vir ander verfris en inspireer, die ander hou kos om die honger siel te voed, die ander water om die dors van die reisiger te les.

Maar waar kom die klei vandaan, wat is die proses waardeur die klei moes gaan om geskik te wees vir die Pottebakker om te gebruik?

Die klei word uit die aarde gehaal waar dit besoedel is met stukkies gras, bossies, stokkies en klippies.
Die Pottebakker moet eers al die onsuiwerhede uit die klei haal voordat hy dit kan gebruik op die draaitafel.
Soms is die klei baie halsstarrig om die besoedel deeltjie af te staan en is dit nodig vir die pottebakker om ‘n stuk van die klei af te sny en weg te gooi sodat die res geskik is om mee te werk.

Die pottebakker kan sy pottebakkers ware slegs maak uit geskikte klei – enige ander grondstof soos grond of sand sal nie werk nie en daarom is dit nie vir alle grond beskore om op die pottebakkers tafel te beland en daar omvorm te word tot iets wat bruikbaar is nie.
Maar tog is daar ook klei wat nie gebruik kan word nie want dit is te hard en te droog vir die pottebakker en ongeag hoeveel water die pottebakker byvoeg dit sal net ‘n klein bietjie sagter word maar steeds nie bruikbaar wees nie.
Die klei kan in die klei bak gebêre word om sag te word en later gebruik te word.

Die bewerkbaarheid van die klei hang nie van die pottebakker af nie maar van die klei self. Die klei se eie samestelling maak dit bruikbaar of nie.

My liewe klei – hoe is dit gesteld met jou samestelling? Is jy al reg vir die Pottebakker se omvorming van ‘n hoop nuttelose klei tot ‘n bruikbare pottebakkers ware of weerstaan jy nog die vormende hande van die Pottebakker?

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

No comments: