Wednesday, October 8, 2008

Die Heilige Feesdae


Nee, dis nie die Kersfees en paasfees waarvan ek praat nie maar die dae soos vir ons opgeteken is in Lev 23. Die Dag van Basuine, Dag van Versoening, Loofhutte Fees en die Groot Dag – die feeste wat ons in die tyd van die jaar onderhou.

Vir ‘n groot deel van die volk het die feeste verlore geraak omdat volgens moderne teologie is dit wat in die Ou Testament geskrywe is mos nie meer vandag van toepassing nie en dan word die argument gevoer dat God gesê het dat Hy die feeste haat.

Hoe sal Hy die feeste haat wat deur Homself verordineer is as hulle gevier word ooreenkomstig Sy insetting en die ware betekenis daarvan in herinnering geroep word? Ja, die feeste wat Hy sal haat is die feeste wat deur die wêreld ingestel is om kamstig Hom te vereer. Dit is ‘n leuen wat deur die wêreld aan die mens voorgehou word. Paasfees is die fees van Astarte en Kersfees is ‘n onheilige afgodsfees.

Die ironie is dat die meeste mense dit weet maar die wil ontbreek om hul los te wikkel van die feeste en ons hou maar aan om dit te vier en vas te hou aan die “geestelike” betekenis daarvan. Watter klug is dit tog nie voor die aangesig van die Almagtige nie.
Verdien ons Vader nie eerder totale respek en liefde as om in leuens Hom te vereer nie.

Ons leef nie meer in ‘n tyd van totale onkunde nie en die kennis word aan ons gebring deur die Skrif, deur die profete en deur die Heilige Gees self, maar ons het doof geraak vir die influisteringe van God en al hoor ons die lering wil ons dit nie aanvaar nie, want as ons daarop moet reageer sal dit van ons ‘n verstoteling van die wêreld maak – die snaakse een, die waansinnige, die sekte.

Met liefde sal ek al die benamings om my hals dra want die liefde van God dwing my om te breek met dit wat onwaar en leuenagtig is. Die ware boodskap van die feeste bevestig aan ons voortdurend Sy Almagtige Genade, Liefde en Verlossing aan Sy volk, Sy eiendom.
Elke fees is soos om te stap deur die blomtuin van God, oral is die genade werke van Sy hande te bespeur, die waaragtige liefde is in volle blom en die lieflike reuk van die blomtuin versag die hart en laat die hart bloei met die liefde vir ons Skepper.

Die wêreld haat die feeste want daar is geen kommersiële waarde vir hulle daarin nie want dit wat God verlang kan nie gekoop word nie naamlik ‘n opregte hart wat gevul is met die volkome liefde vir God en ons medemens.

Die laaste feeste van die jaar is gemik op die volk van God in teenstelling met die eerste feeste van die jaar wat gemik is op die indiwidu self.

Eerste fees is die Dag van Basuine: die dag waarop die basuine geblaas word om die volk bymekaar te maak en sodat hulle kan luister na die Wet en Insettinge van God. Daardeur word hulle geleer, maar hulle spieël ook hulself as volk aan die hand van die gebooie en daardeur word hul ongeregtighede ook aan hulle openbaar deur die Wet. Dit het weer ‘n herlewing en terugkeer tot God se Wet onder die volk teweeg gebring. In die land waarin die Boervolk homself vandag bevind het dit weer broodnodig geraak dat ons in die spieël van die Wet moet kyk om te sien hoe vol vuil en goddeloos het ons geword. Dan sal ons seker terugkeer na Sy Wet en insettinge en kan ware herlewing plaasvind.

Die tweede is die Dag van Versoening: waarop die fokus is op die versoening wat vir ons bewerkstellig is deur die versoenings offer van ons Verlosser Yahshua (Jesus). Die fokus is hier nie op die redding deur Sy bloed nie (dit is by die eerste feeste van die jaar) maar die versoening of betaling wat Hy gedoen het deur vir ons sondes te sterf in ons plek aan die vloekhout. Hy het ons sondes versoen voor God die Almagtige.

Die derde is die Loofhutte Fees: die fokus is op die woning wat God kom maak het onder Sy volk maw Sy teenwoordigheid by die mens. Die geboorte van Yahshua (Jesus) toe God (in vleeslike vorm) kom verbly hou het met Sy mense op aarde. Verder bevestig dit ook dat God Sy Ewige Koninkryk op aarde sal vestig wanneer Hyself by die mens sal woon in die nuwe Jerusalem. (die volmaakte – die Laaste dag)

Deur al die bogenoemde feeste is die lyn baie duidelik naamlik: volk versamel, spieël hulself aan die Wet, herlewing, die versoening vir ons ongeregtighede, die aanvaarding deur God deurdat Hy by Sy volk kom woon en dat alles volmaak sal wees wanneer Hy weer kom en die Ewige koningskap opneem.

Die feeste hou vir ons soveel beloftes van seën in en dit is wat hierdie volk in hierdie tye nodig het maar om by die seëninge uit te kom sal die volk eers moet terugkeer na Sy Skepper met ‘n volkome en opregte hart en ons sal ons moet afsonder om slegs God te dien want ons kan nie God en die wêreld dien nie.

No comments: