Friday, March 7, 2008

Watse Kruikie is Jy


Hoe baie keer het ek en jy nie al gebid, “Vader U is die Pottebakker en ek die klei, vorm my en maak my volgens U wil. Maak van my ‘n kruik of potjie wat diensbaar is in U Koninkryk” of die liedjie gesing – “Doen slegs U wil Yah, U wil met my. U Pottebakker, met my,die klei, vorm my en maak net soos U wil. Op U slegs wag ek needrig en stil.”
Om dit te bid en te sing beteken tog ons moet op ‘n staduim gaan stilstaan, omdraai en kyk – watse kruikie of potjie het Vader van my gemaak en is ek diensbaar in Sy koninkryk?

Vader het dit nie bestem dat ons ons hele lewe as ‘n hoop klei op die draaitafel bly staan nie. Hy het van ons ‘n kruikie gemaak, ons moet net die moeite doen om uit te vind watter soort kruikie ek is.
As jy weet wat is die gawe wat jy in jou kruikie dra is dit baie makliker om uit te deel aan hulle wat daardie gawe nodig het, want hoe kan jy iets uitdeel as jy nie weet wat is in jou kruik nie.

Sommige van ons het groot kruike, ander middelslag kruike en sommige klein potjies, die een nie minder belangrik as die ander nie. Sommige gawes het net ‘n groot kruik nodig om in te pas en vir ander is ‘n klein potjie heeltemal voldoende.

Watse tipe kruik of potjies kan ons moontlik wees?

Die groot waterkruik waarin die water opgegaar word vir die moeë reisiger wat by jou verbykom en vir wie jy verfris met die heerlike water van die lewe wat Vader met jou gedeel het.

Die waterkruik wat die jong saailinge op die land moet voed met die lewegewende water wat in jou kruik geberg is.

Die kruik waarin die Saaier Sy saai bêre om dit te saai op die regte tyd in die saailand van die lewe.

Die kruike gevul met Kana wyn, wat eens water was, om die gaste by die bruilof te verbly.

Die kruik wat gevul is met Skrif rolle, soos die waarin die Dooie See rolle ontdek is, om ander te leer van die Woord van Vader.

Die kruik gevul met meel om brood mee te maak en die wat honger het te voed.

Kruik wat gevul is met geld en rykdomme van die lewe om daardeur ook die armes van jou volk en die weduwee en die wese te help versorg en hul nood te verlig.

Die kruik waarin die olie vir die lampe in gestoor word ten einde lig te voorsien vir die reisigers op die lewenspad.

Die kruik waarin olie vir die maak van die kos in gestoor word, want dit is ‘n noodsaaklike bestandeel vir die maak van die brode om die ander mee te voed.

Die potjie waarin die salfolie gehou word om die hoof te salf en wat dien as teken van seëning en blydskap en dien as beskerming teen die son en hitte.

Die potjie met die medisyne salf wat ons plaas op die wonde van ons medemens om hul te genees en te versterk.

So kan ons sekerlik aan vele kruike en potjies dink waarin die beste van die lewe gestoor word wat ons ontvang het uit die Hand van God en waarvan ons opdrag ontvang het om uit te deel aan ons medemens.

Buiten die probleem dat ons soms nie moeite doen om uit te vind watse kruikie ek is nie of om die hand in die kruikie te steek en uit te deel aan hulle met wie ons in aanraking kom nie is die ander gevare dat mense soms nie tevrede is met hul kruikie nie.
Op hul eie begin hulle om die kruikie te versier met ekstra handvatsels en allerhande patrone op te verf sodat hul kruikie mooier vertoon as die ander se kruikie.

Die kruikie vertoon later so mooi van buite dat hulle nie meer toelaat dat daar iets in die kruikie gegooi word nie omdat hulle te bang is dit beskadig die kruikie – dit word later ‘n vertoonstuk en nie meer ‘n werkstuk nie.

Het jy al die moeite gedoen om uit te vind watse kruikie of potjie jy is?
Het jy jou kruikie of potjie al so versier dat dit ‘n vertoonstuk geraak het en nie meer ‘n werkstuk nie?

1 comment:

Anonymous said...

Hallo.
Could you please let me know if there is an English version to: Pottebakker.
Doen slegs u wil Heer,
U wil met my, U pottebakker,
met my die klei..
Vorm my en maak my, net soos U wil,
op U slegs wag ek, needrig en stil.
Please would an English version exist? Thanks, Jean