Monday, March 24, 2008

Die Bergpaadjie.


Ons het in die lewe slegs twee paadjies waarvan ons kan kies. Ons ken dit tradisioneel as die smal en die breë weg maar hoe goed ken ons die paaie, het ons nie al so afgestomp geraak dat ons nie meer kan onderskei nie en dink die enigste verskil is dat daar op die een net meer mense is as op die ander.

Hoe sou die breë weg deesdae lyk – nog soos in die prentjie in ouma se huis, daar teen die gang muur waar die twee weë uitgebeeld word. Waar daar gewys word waar die een ou die ander een doodslaan, die een man die ander een se goed steel, ons onthou almal die bekende tonele soos gister.
Nee verseker lyk dit nie meer dieselfde nie, want die mens het in vandag se tye baie meer verfynd en gesofistikeerd geraak selfs met hulle sondes.

Die breë pad is mooi en pragtig geplavei, lekker breed gemaak dat die mens saam met sy vriende gemaklik daarop kan wandel sonder om die ander verkeer te belemmer.
Daar is nie meer ‘n bekommernis oor jou medereisigers nie want hulle is almal beskaafd en die meeste van hulle is saam met jou in die kerk en staan langs jou wanneer julle koek verkoop om fondse in te samel vir die kerk skuld wat betaal moet word.
Daar is ‘n loue liefde teenwoordig in die mense, die liefde is volop op voorwaarde dat jy nie by my moet kom aanklop om hulp nie want dan sal jy vind dat die liefde slegs vir die eie ek is.
Maar hoe word sondes deesdae verbloem op die mooi geplaveide snelweg na die hel.

Hoekom dien jy nog afgode?
Maar ek aanbid geen afgode nie, ek gaan nie na ‘n tempel toe waar ek een of ander hout of klip beeld aanbid nie.
O, nou wat van die god Mammon wat jy dien met soveel toegewydheid dat jy jou vrou en kinders daarvoor verlaat of afgeskeep het? Nee maar jy verstaan nie, ons het mekaar net ontgroei en daar was nog nooit iets verkeerd met ambisie nie. My kinders is gelukkig want hulle het alles wat hul harte maar kan begeer.
Ja, vriend, behalwe ‘n vader!
Nou wat van jou god Bacchus wat deesdae so mooi verpak word in pragtige bottels, wie jy so liefkoos dat jy later nie meer kan regop staan nie? Jy verstaan weereens nie, ek moet my vriende onthaal om hulle besigheid te behou en ek moet ten minste vir my juniors en vriende wys ek kan alles beter doen en ek is ‘n man, ek kan dit handle.
Dis ‘n snaakse manier om jou manlikheid te bewys!
Hoekom dien jy die geluksgodin deur elke tweede aand by die dobbelhuis haar te gaan aanbid? Ek maak nie staat op die geluksgodin nie, ek gaan doen dit vir my ontspanning en vermaak!
Het jy al gedink aan die geluk wat jy sal ervaar as jy dieselfde tyd aan jou lewensmaat en kinders spandeer?

Hoekom gebruik jy God se naam ydellik?
Nee, ek gebruik nooit Sy naam ydellik in enige gesprek nie.
O, jy dink dit gaan net om Sy naam ydellik te gebruik soos in gesprekke, wat noem jy dit om ‘n valse eed af te lê of om ‘n belofte te maak en dit weer te verbreek? Hoekom hou jy praatjies saam met die goddelose terwyl hulle Vader se naam ydellik gebruik en jy sê niks nie? Jy maak of jy ‘n gelowige is terwille van aanvaarding, om ‘n beter pos te kry of bevorder te word, dit is dieselfde as om Sy naam ydellik te gebruik. Jy het Sy naam tot oneer gebruik en misbruik.

Hoekom gedenk jy nie die Sabbatdag nie?
Maar ek gaan kerk toe op ‘n Sondag.
Wat van al die sport wat jy lekker gaan sit en kyk na die erediens klaar is? Ek kan nie help as ons spanne op Sondae moet sport speel ter wille van internasionale aanvaarding nie.
Wat van die besigheid wat jy op die Sabbat bedryf? Ons moet almal oorleef.
Ten koste waarvan? Jou siel?
Wat van al die ander sabbatte soos bepaal in Levitikus? Maar dit is alles Ou Testament goed en is nie meer van toepassing nie.
So die tien gebooie geld ook nie meer vir jou nie? As jy vergeet het, hulle is ook in die Ou Testament.

Hoekom eer jy nie jou vader en jou moeder nie?
Maar ek is nie lelik met hulle nie en ek is lief vir hulle. En die keer toe Moeder jou nie wou help met ‘n ekstra geldjie nie omdat sy nie gehad het nie en jy haar suutjies ‘n mislike ou koeie genoem het agter haar rug?
Wat van die keer toe jy so met hulle baklei het oor hul siening en waardes ten opsigte van die Sabbat en Geloftedag? Toe jy hulle verkramp en uit die oude doos genoem het?

Hoekom het jy jou naaste doodgemaak?
Ek het in my hele lewe nog nie iemand doodgemaak nie! Wat van die man vir wie julle soveel skuld toegestaan het terwyl julle geweet het hy sou dit nooit kon terug betaal nie en wat later maar eerder selfmoord gepleeg het, want dit was die enigste uitweg wat hy gesien het? Wat het jy gedoen toe jy hoor van die nood van jou volksgenote en hul kinders, het jy gehelp om hulle te voed en te klee? Indien nie is jy net so skuldig aan hulle dood.
Wat van die woekerwins wat jy maak deur die belegginkie in die cash loans besigheid op die dorp? Hoeveel mense het jy nie daardeur vernietig nie?

Hoekom vermeng jy?
Maar ek meng nie met ander rasse nie. Dit gaan nie net oor die vermenging met ander rasse nie. Nou wat dink jy gebeur as jy al daardie sataniese films kyk of toelaat dat jou kinders dit kyk, wat van die vieslike boeke wat jy so skelmpies deurblaai of die Harry Potter boeke wat jy vir jou kinders koop? Jou suiwer gees wat afkomstig is van die Almagtige vermeng jy met dit wat van satan af kom.

Hoekom steel jy?
Ek het genoeg geld en het nie nodig om te steel nie. Wat van nou die dag toe die meisie by die kafee vir jou te veel kleingeld gegee het en jy dit vinnig in jou sak gedruk het toe jy sien dis te veel? Ek kan nie help as hulle sulke dom mense daar aanstel nie en ek kry hulle net terug vir die kere wat hulle my verkul het. Wat van die geld wat jy vir jou naaste geleen het teen astronomiese rente, jy weet dit wat ons woeker noem? Dis net steel met ‘n mooi naam.
Onthou jy die assuransie eis van verlede jaar toe jy baie meer ge-eis het as wat gesteel is? Wat noem jy dit?

Hoekom spreek jy valse getuienis teen jou naaste?
Ek het nog in geen hof ‘n leuen vertel oor my naaste nie? Wat van nou die ander dag toe jy met smaak vir jou vriende vertel het van die meisie wat ‘n slet is net omdat sy niks van jou wou weet nie. Of van daardie skinderstories (liegstories) oor ander mense, is jy nie besig om valse getuienis van hulle te lewer nie?
Wat van die keer toe jy vir jou boetie die skuld gegee het vir die bord wat gebreek het.

Hoekom begeer jy wat jou naaste s’n is?
Man ek het alles wat mens maar kan begeer in hierdie lewe, ek het niks nodig nie, inteendeel begeer die ander mense dit wat ek het. Die getroude vrou met wie jy so ‘n skelm verhouding het, is dit nie om jou naaste se vrou te begeer nie? Ja, maar hulle is in elk geval besig om uitmekaar te gaan. Maar tot op hede is sy nog steeds jou naaste se vrou?

Sou jy bietjie moeg raak gedurende jou staptog is daar vir heelwat afleiding langs die pad voorsiening gemaak. Maar die betaling wat verlang word is nie met geld nie maar jy betaal elke keer met ‘n stukkie van jou siel. Vir elke stukkie wat wegraak van jou siel met al die koop transaksies word die verlore stukkie vervang met ‘n donkerte afkomstig van die bose. Later is jy heeltemal leeg van die Goddelike Lig wat jy ontvang het en het net die bose in volheid wat in jou oorbly.

Die bergpaadjie het sy oorsprong uit die breë weg want ons almal is gebore in die breë weg tot op ‘n stadium wat Vader ons gelei het om af te klim van die pad en ‘n heeltemal ander koers in te slaan, die berg op.

Na jare se wandel op die geplaveide breë weg was die terrein van die bergpad maar baie rof gewees, los klippe wat oral rondlê en maak dat mens baie maklik val. Na so paar val slae dan lyk die plavei oppervlak van die breë weg darem baie aanloklik, veral as jy so afkyk na jou stukkende knieë en handpalms.

Die eerste gedeelte van die reis teen die bergpad op is baie steil met hindernisse wat elke paar tree dreig om mens te laat val en moed op te gee. Daar is heelwat wat die bergpaadjie begin en na ‘n paar keer se val is hulle moedeloos en moeg gesukkel en gly maar weer terug tot in die breë weg want dit is baie makliker.
Vir die res wat volhard is die pad geensins makliker nie want afgesien van die voortdurende los klippe is die pad baie glad en begroei met gras en doringtakke wat skraap en steek. Maar die verskil is dat wanneer hulle geval het of moedeloos raak kyk hulle op teen die berg en hulle sien die mooiste landskap wat vir hulle wink en sê kom verken my.

Die dorings wat so steek en skraap en die klippe wat ons pootjie roep elke keer luid uit wanneer hulle ons seermaak.

Die woorde wat hulle gereeld uiter gedurende die staptog is:
“Julle gelowiges is darem vreeslik boring”
“Jou vriende mis jou geweldig baie en hulle wil graag weer lekker tye saam met jou deurbring”
“Sien jy wat het jy nou daarvan, geen vriende meer”
“Dink jy nie die fliek gaan baie lekkerder wees as om te sit en jou Bybel te lees nie?”
“Is dit nie lekkerder om te slaap as om te bid nie?”
“Laat waai met daai vloekwoorde as jy kwaad is, dit sal jou spanne beter laat voel.”
“Sien jy die moeilikheid wat nou oor jou gekom het, dis God se skuld.”
“Jy sal nooit die pad kan volhou nie, kom eerder ondertoe en ontspan ‘n bietjie.”
“Jy sal nooit die drank duiwel kan wen nie.”
“God gee nie om as jy nie te heilig is nie, hy weet jy is net ‘n mens so moenie te veel worry nie.”
“Nee man daar is net ‘n God van liefde en Hy sal nooit enige iemand in die hel werp nie, Hy is nie ‘n God van wraak nie.”

Jy het die keuse om te luister na die gemors wat langs die pad vir jou vertel word of jy kan jou ore sluit vir dit en net konsentreer op die roepstem van Hom wat jou op die pad gelei het.
Die slegte nuus is dat die eerste stukkie van die paadjie baie rof is, maar vertrou op Hom, Hy sal vir jou die regte skoene voorsien vir die rowwe terrein.

Wanneer die rowwe gedeelte agter die rug is dan begin die heerlike reis van ontdekking en dit is asof jou wese nie genoeg kan inneem van die heerlikheid nie.
Dis soos wanneer mens ‘n bergpas bestyg daar anderkant George se omgewing – hier onderlangs is die omgewing en die plantegroei nie baie indrukwekkend nie, soms sommer plain kaal en klipperig. Maar soos wat jy al hoër opgaan in die pas begin die plantegroei weliger te raak, jy ruik daardie unieke reuk van plante en denne. Dis wonderlik hoe die reuk mens so kan verkwik en vernuwe laat voel.

Wanneer die rowwe terrein agter die rug is dan is die res van die pad besaai met die “WOW” faktor soos wat ons op die verkennings tog beweeg na Sy heerlikheid en genade.

Die klippe raak baie minder maar as jy nie kyk waar jy loop nie sal jy steeds oor die klippe en ander obstruksies kan struikel. Gelukkig hoe meer jy bid en God se Genade oor jou lewe afbid hoe minder raak die obstruksies.

Die eerste blom wat ons op die pad raakloop is die ELB – dit staan vir die “Ewige liefdes blom”. Die blommetjie is baie laag op die grond en die enigste manier om die lieflike aroma daarvan te ruik is om op jou knieë te gaan. In jou sal die behoefte onmiddellik ontstaan om elke oggend en aand op jou knieë te gaan en aan die blommetjie te ruik want die reuk het die vermoë om jou wese te open sodat jy met Vader Yahweh kan praat.

Die volgende blommetjie op die pad is die DOH blom – dit is “Die Ontvanklike Hart” blommetjies wat maak dat jou hart besny is en ontvanklik is om Vader se Woord te kan hoor en daarvolgens te leef. Dit stel ook die hart in staat om uit te spruit en vrug van genade en liefde voort te bring.

Die ander lieflike blom is die LSM blom wat welig langs die pad groei en jou kort-kort roep om aan hulle te kom ruik – dit staan vir die “Liefde Sonder Maat” blommetjies. Hulle maak pragtige ruikers wat mens graag uitdeel aan hulle wat mens op die pad teëkom, maar omdat die blomme so goed hou as hulle mooi versorg word kan mens van hulle ook stuur aan die mense op die breë weg. Die mense kan die ruiker weggooi of hulle kan so gelok word deur die heerlike geur daarvan dat hulle ook van die breë pad afklim en die weg soek na die bergpaadjie.

As mens van die ruikers stuur aan hulle op die ander pad is dit uiters noodsaaklik om die komplementêre kaartjie aan te heg wat as volg lees – “Ek deel met jou want God het met my gedeel. Die blomme kom uit die tuin van die Meester en hy soek elke dag vir jou. Vanaf die kranse roep Hy jou by jou naam. Hy wil hê dat jy in die blomtuin van Sy genade kom wandel. Ons wag vir jou. Liefde jou vriend.

Wandel jy reeds hoog op in die berg, indien wel geniet die blomtuin van Vader en laat die ruikers in oorvloed kom na hulle op die breë weg.
OF
Stoei jy nog met die klipperige deel van die bergpaadjie, vra Vader om jou die regte stapskoene te gee en Sy staf van genade om jou te help.
OF
Het jy ‘n ruiker ontvang en weet nog nie wat om daarmee te doen nie? Gaan jy antwoord op die uitnodiging aan jou?
Wat het jy om te verloor? Huidiglik jou siel.
Wat het jy om te wen? Die ewige lewe saam met Yahweh en die voorreg om te wandel in die lowerryke heerlikheid van Sy genade.

Die keuse is joune. Wat sal dit wees?

No comments: