Friday, December 7, 2007

MY SEUN

'n Welgestelde man en sy seun was baie lief daarvoor om skaars kunswerke te versamel. Hulle het van alles in hul versameling gehad, van Picasso tot Raphael. Hulle twee sou gereeld saam sit en die grootse kunswerke bewonder.

Toe die Viëtnam oorlog uitbreek, het die seun oorlog toe gegaan. Hy was baie dapper en het gesterf in die geveg terwyl hy besig was om 'n mede soldaat te red. Die vader is in kennis gestel van die afsterwe van sy seun en hy het vreeslik oor sy enigste seun getreur.

Ongeveer 'n maand later was daar 'n klop aan die deur. 'n Jong man het voor die deur gestaan met 'n groot pakkie in sy hand.
Hy sê, " Mnr, u ken my nie, maar ek is die soldaat vir wie u seun sy lewe gegee het. Hy het daardie dag sy lewe vir my gegee toe hy my na veiligheid gedra het en 'n koeël van die vyand hom reg in die hart tref, hy was opslag dood. Hy het baie oor u gepraat en u liefde vir die kuns." Die jong man hou die pakkie uit na die seun se pa. "Ek weet dit is nie baie nie. Ek is nie juis 'n groot kunstenaar nie, maar ek is oortuig dat u seun sou hê dat u die neem."

Die vader neem die pakkie en maak dit oop. Dit was 'n skildery van sy seun wat deur die jongman geskilder is. Hy staar in verwondering hoe die jongman sy seun se persoonlikheid so kon vasvang in die skildery. Die vader was so aangetrokke tot die oë van die skildery dat sy eie oë opgewel het van die trane. Hy bedank die jong man en bied aan om hom te betaal vir die skildery. "Nee meneer, ek kan nooit vergoed vir wat u seun vir my gedoen het nie, hierdie is 'n geskenk aan u."

Die vader het die skildery bokant sy vuurherd geplaas waar hy elke dag daarna kon kyk. Elke keer wat hy besoekers ontvang het neem hy hulle eers om die skildery van sy seun te sien voordat hy enige van die ander vername skilderye in sy versameling aan hulle vertoon.

Die man is 'n paar maande later oorlede en daar sou 'n groot veiling plaasvind van al sy kunswerke. Daar was baie vername mense teenwoordig by die veiling. Hulle was vreeslik opgewonde om sulke vername kunswerke te sien en die geleentheid te kry om op sulke werke te bie en moontlik een in die hande te kry vir hul eie versameling.

Op die afslaers platform is die skildery van die seun. Die afslaer kap met sy hout hamertjie op die podium. "Ons begin die veiling met die skildery van die seun. Wie maak 'n bod vir die skildery?"

Daar was 'n doodse stilte.

Toe roep 'n stem van agter uit die vertrek. "Ons wil die vername skilderye sien... Los die een eers."

Maar die afslaer hou voet by stuk. "Sal iemand 'n aanbod maak op die skildery. Wie sal die bod begin? $100, $200?"

'n Ander geïrriteerde stem. "Ons het nie gekom vir die skildery nie. Ons het gekom om die Van Goghs en die Rembrandts te sien. Gaan aan met die regte veiling!"

Maar steeds hou die afslaer vol. "Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?"

Uiteindelik, 'n stem vanuit die heel agterkant van die lokaal. Dit was die eertydse tuinier van die man en sy seun wat jare vir hulle gewerk het. "Ek sal $10 gee vir die skildery." Aangesien hy baie arm was, was dit al wat hy kon bekostig.

"Ons het $10, wie sit 'n bod in vIr $20?"

"Gee dit aan hom vir $10. Laat ons ander die meesterstukke sien."

"Die bod staan op $10, wil niemand $20 aanbied nie?"

Die mense het begin kwaad word want hulle soek nie die skildery van die seun nie. Hulle soek die meer waardige versamelstukke vir hul versamelings

Die afslaers slaan met sy hamertjie. "Vir die eerste maal, vir die tweede maal, VERKOOP vir $10!"

‘n Man in die tweede ry roep uit, "Laat ons nou met die regte versameling begin!"

Die afslaer plaas sy hamertjie eenkant neer. "Ek is jammer, maar die veiling is verby."

"Wat van die ander skilderye?"

"Ek is jammer. Toe ek aangestel is om die veiling te behartig, is ek ingelig van 'n geheime klousule in die testament. Ek was nie toegelaat om die klousule te openbaar tot nou toe nie. Slegs die skildery van die seun sou aangebied word vir die veiling. Wie ook al die skildery sou koop erf die hele landgoed ingesluit al die ander skilderye.
Die man wat die seun neem kry alles!"

God het Sy Seun 2000 jaar gelede gegee om aan die kruis te sterf. Baie soos die afslaer, is Sy boodskap vandag: "Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?"

Want, jy sien, wie ook al die Seun neem kry alles.

WANT SO LIEF HET GOD DIE WÊRELD GEHAD, DAT HY SY ENIGGEBORE SEUN GEGEE HET, SODAT ELKEEN WAT IN HOM GLO, NIE VERLORE MAG GAAN NIE, MAAR DIE EWIGE LEWE KAN HÊ.......DIT IS LIEFDE

1 comment:

Anonymous said...

baie mooi. dis iets wat mens saam jou kan dra.