Wednesday, December 19, 2007

DIE “RYK MAN” EN DIE KONINKRYK

Laasnag was nou weer een van daardie nagte wat 'n spesifieke gedagte in jou kop is en dit maal en gaan te kere - so was dit die ryk man en die Koninkryk van God (spesifiek die gelykenis van die kameel en die oog van die naald).

Baie keer as mens dink aan ryk dan dink mens net aan geld en besitting maar in die geval was daar heelwat ander dinge wat die persoon "ryk" gemaak het en voorkom het dat hy die Vader se Ryk kon ingaan.

Die volgende prentjie het die heeltyd voor my afgespeel: Daar is ‘n stapper met 'n klomp bagasie op sy rug wat hy dra terwyl hy besig is om die berg te bestyg op sy staptog. Langs die pad is hier en daar ‘n bordjie wat die pad aanwys met die woorde’ “Volg die pad na die Land van die Koning” Op 'n sekere stadium het hy by 'n kom in die berg gekom. Voor hom was die volgende massiewe berg wat hy moes oor. Voor hom is daar 'n baie nou tonnel wat hy moet deurgaan om aan die anderkant uit te kom - die is die enigste manier - hy kan nie om of bo oor nie en aan die anderkant wil hy uitkom. By die tonnel staan daar 'n man wat vir hom vertel dat die is die enigste pad om aan die anderkant uit te kom en hy sal nie glo hoe wonderlik dit aan die anderkant is nie, maar om deur te gaan sal hy al die bagasie moet afpak en daar los want jy kan nie deurgaan met bagasie nie.

Aanvanklik wil die stapper niks weet van enige bagasie aflaai nie want hy kan dit dalk nodig kry aan die anderkant alhoewel die man by die tonnel se ingang hom verseker het dat hy nie die bagasie gaan nodig kry aan die anderkant nie.
Die stapper wil met alle geweld net deur maar elke keer haak die bagasie vas en hy kan nie in die tonnel nie. Die man langs die tonnel vra vir hom of hy hom kan help om van die bagasie af te haal - hy sê ja en laat toe dat net so een stuk bagasie op 'n slag afgehaal word en dan probeer hy weer, maar dit bly dieselfde storie van vashaak en te min spasie. So het dit aangehou totdat die stapper net die klere aan sy lyf gehad het toe kon hy in die tonnel pas om deur te gaan.

Die bagasie wat ons so met ons dra is ons "rykdom" en die rykdom is nie geld of besittings nie maar goed soos hoogmoed, liefdeloosheid, onbarmhartigheid, ens - in die hedendaagse wêreld word dit oral gepredik dat dit bates is wat noodsaaklik is vir die selfbehoud van die eie ek - dus word dit vir die persoon 'n bate - 'n rykdom. Die persoon wat by die tonnel staan is ons Redder Messias wat die bagasie vir ons verwyder - maar Hy het met groot geduld die stapper toegelaat om die bagasie stuk vir stuk af te haal en weer te pas totdat alles afgehaal is.
Die rigtingwyser bordjies is die ander gelowiges, hulle wys net, hulle praat nie, ‘n stille getuie van die pad wat gevolg moet word, die bordjies het geen nota by van haal jou bagasie af nie. Soms raak ons so voortvarend in ons strewe om mense te lei na Christus dat ons maklik die eer vir onself wil neem as ‘n persoon tot bekering kom. Bekering is die werk van die Heilige Gees en ons moet waak om nie op Sy terrein te oortree nie ons moet slegs die pad aanwys, Vader sal die res doen.

Dit het my net weereens laat besef hoe smal is die pad werklik wat lei na die Koninkryk van ons Vader en dat jy nie daar kan ingaan met wêreldse bagasie nie. Daar was ook nie baie stappers om deur te gaan nie.

Dit bly vir my eenvoudig net te wonderlik hoe Vader ons lesse kom leer deur Sy Heilige Gees en dit is vir my ook tekenend dat ons in die laaste dae is want Vader het gesê dat Hy ons deur Sy Heilige Gees self sal kom leer in die laaste dae.

Ek het die beeld wat ek ontvang het aan ‘n vriend vertel en na ‘n lang gesprek het hy die volgende aan my gesê wat baie treffend was: Hy het die meeste van sy bagasie afgepak voor die Meester maar net ingeval iets sou verkeerd loop het hy ‘n tou vasgemaak om sy lyf en aan sekere van die bagasie om dit deur die tonnel te wil sleep sodra hy aan die anderkant uitkom, maar die bagasie bly vashaak binne die tonnel en dit is duidelik dat die tonnel geen bagasie sal duld nie op watter manier jy dit ookal wil deursleep nie.

Die vraag is watter bagasie hou jou vandag terug? En is jy bereid dat Hy vir jou help om dit af te haal?

No comments: