Wednesday, December 12, 2007

Middagete saam met God

‘n Klein seuntjie wou graag vir God ontmoet. Hy het geweet dit sal ‘n lang reis wees na God se blyplek en daarom het hy in sy tassie ‘n groot pak aartappelskyfies en ses koeldranke ingepak voordat hy die reis aangepak het.

Nadat hy so drie straatblokke van die huis af weg is ontmoet hy ‘n ou dame in die parkie. Sy was besig om net te staar na die duiwe. Die seuntjie het langs haar gaan plaasneem op die bankie en sy tassie oopgemaak. Hy wou net ‘n sluk van sy koeldrank vat toe hy sien maar die ou dame lyk bra honger. Hy offer toe vir haar van sy aartappelskyfies. Sy het dit baie dankbaar aanvaar en vir hom geglimlag.

Haar glimlag was so mooi vir die seun dat hy dit graag weer sou wou sien en toe offer hy vir haar een van sy koeldranke. Weereens glimlag sy vir hom. Die seun was verheug oor haar glimlag. So het hulle die hele middag gesit, skyfies geëet, koeldrank gedrink en geglimlag maar sonder om ‘n woord vir mekaar te sê.

Toe dit begin skemer raak besef die seun dat hy baie moeg is en staan op om terug te keer na sy huis, na ‘n paar tree draai en om en hardloop vinnig na die ou dame en gee haar ‘n drukkie. Sy gee vir hom haar grootste glimlag ooit.

Die seun se ma was verras met die uitdrukking van blydskap op haar seun se gesig toe hy die huis binnekom. Sy vra toe vir hom, “Wat het jy vandag gedoen wat jou so gelukkig laat lyk?” Hy antwoord, “Ek het middagete saam met God gehad.” Maar voordat sy ma kon reageer, voeg hy by, “ Weet ma wat? Sy het die mooiste glimlag wat ek nog ooit gesien het.”

Intussen het die ou dame , oorstelp van blydskap, ook by haar huis aangekom. Haar seun was verras oor die uitdrukking van vrede wat op sy ma se gesig te bespeur was. Hy vra, “Moeder, wat het jy vandag gedoen wat jou so bly gemaak het?” Sy antwoord, “Ek het aartappelskyfies geëet en koeldrank gedrink saam met God in die parkie.”
Maar voordat hy kon reageer voeg sy by, “Jy weet, hy is baie jonger as wat ek verwag het.”

Te veel kere onderskat ons die krag van ‘n aanraking, ‘n glimlag, ‘n gawe woordjie, ‘n oor wat luister, ‘n opregte kompliment of die kleinste gebaar van omgee wat alles die potensiaal het om ‘n lewe om te keer.
Mense kom in ons lewe vir ‘n rede, ‘n seisoen of ‘n leeftyd! Koester hulle almal met dieselfde entoesiasme!

Geniet ‘n middagete saam met God…..

No comments: