Wednesday, August 11, 2010

Om Soos ’n Kind te Verstaan


Verlede week bel ’n vriend van my en begin my te vertel van die groepie mense wat hy ontmoet het. Die persone vier die Sabbat op verskillende dae. Klaarblyklik word die dae uitgewerk volgens seisoene en die maan kalender.

Dit beteken dat die Sabbat nie elke Saterdag is nie maar dat dit volgens die betrokke kalender of op ’n Maandag, of ’n Woensdag of enige ander dag van die week kan wees. Dit het ’n geleerde drie jaar geneem om die kalender uit te werk.

My vriend was bietjie ongemaklik met die manier van Sabbat viering en die groep mense het hom gereeld aangevat oor hoe ons die Sabbat onderhou naamlik van Vrydae sononder tot Saterdae sononder. Hulle voel dat hulle ingewikkelde kalender die korrekte een is.

Hy wou toe by my weet wat hy die mense kon antwoord. Miskien moet ek dalk eers verduidelik hoekom hy my gevra het. Ek het in 2007 ’n boekie vertaal en bygewerk wat handel oor die Bybels Feesdae. Dit sou seker baie maklik gewees het om vir hom die verse in die Bybel aan te haal wat alles handel oor die Sabbat en die Sabbat onderhouding.

Maar..

Vader het die keer ’n ander antwoord in my mond geplaas, wat myself eintlik verbaas het.
Die antwoord was. “Vrae vir een van die jong kinders van die groep, van so ongeveer twaalf jaar, wanneer die Sabbatte vir die volgende paar maande is en of hy dit self kan uitwerk.
Indien dit ’n geleerde drie jaar geneem het om dit uit te werk is dit redelik seker dat die jongman dit nie sal kan uitwerk nie.
Die Woord is bedoel dat self ’n jong kind dit kan verstaan. Vader vereis nie dat ’n persoon ’n graad of diploma moet hê om Sy Woord te verstaan nie. Sy Woord is bedoel vir Sy hele volk. Inteendeel, gebeur dit dat hoe slimmer die mense is hoe minder verstaan hulle Yahweh se Woord.”

Soos kinders – soos babas – begin ons in ons opvoeding aan die voete van ons Meester Yahshua. So leer Hy ons om die Almagtige te ken. Stukkie vir stukkie sodat ons nie verstik in die lering nie. Op die manier begin die letterlike Woord ook elke keer vir ons ’n al hoe dieper betekenis te kry.

Ons geloofslewe is ook baie soos ons aardse bestaan – ons word gebore, ons word gevoed, met sagte fyn kossies sodat ons nie verstik nie, sodat ons mooi groot en sterk kan word. In die begin lê ons soos babas wat net eet en slaap en later begin ons te kruip, te loop en te hardloop. Ons dieet verander ook na vaste spyse om ons groei en lewe in stand te hou.

Die probleem is dat baie van ons het gebly in die baba stadium met die fyn kossies en die slaap. Hoeveel verloor ons nie omdat ons nie wil opstaan en hardloop in die geloof nie?

Laat ons glo soos kinders en hardloop soos die jeug.

MATT 11:25 : IN daardie tyd het JaHWèshua gespreek en gesê: Ek loof U, VADER, JaHWeH van die Hemele en die Aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en geleerdes en dit aan kindertjies geopenbaar het.

MATT 18:3 : en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die Koninkryk van die Hemele ingaan nie!

No comments: