Friday, August 13, 2010

Die Pop en die Wit Roos


Ek was besig om inkopies te doen in die supermark toe ek sien hoe een van die kassiere aan ’n klein seuntjie sy geld teruggee. Die seun kon nie meer as vyf of ses jaar oud wees nie.
Die kassier het gesê, “Ek is jammer seun, maar jy het nie genoeg geld om die pop te koop nie.”
Toe draai die seun na die ou dame wat langs hom staan en vra, “Ouma, is jy seker ek het nie genoeg geld om vir die pop te betaal nie?”
Die ou dame antwoord, “Jy weet jy het nie genoeg geld om die pop te koop nie, my skat.”
Sy vra die seun om daar vir haar te wag vir ’n wyle want daar is nog ’n paar goedjies wat sy moes kry. Sy is haastig daar weg terwyl sy met haar hand oor haar wang vee.

Die jong seun het steeds die pop in sy hande vasgehou. Ek kon myself nie keer nie en stap na hom en vra vir wie wil hy so graag die pop gee. “Dis die pop wat my suster die meeste begeer het en sy wou dit graag vir haar verjaarsdag gehad het. Sy was seker sy sou dit die jaar met haar verjaarsdag kry.” Ek antwoord toe dat miskien sal mamma en pappa dit dalk nog vir haar gee die jaar met haar verjaarsdag.
Maar hy antwoord my met ’n groot hartseer in sy stem, ”Nee, pappa sal nie die pop vir haar kan gee daar waar sy nou is nie. Ek moet die pop vir my mamma gee sodat sy dit vir my sussie kan gee wanneer sy soontoe gaan.”

Sy ogies skiet vol trane terwyl hy my vertel. “My sussie is weg om saam met Yahshua te wees. Pappa sê dat mamma ook binnekort na Yahshua sal gaan, so ek het gedink dat sy die pop saam kan neem om vir my sussie te gee. Pappa kan my nie kom help met die pop nie, want hy is die hele tyd langs mamma se bed.” My hart het ineen gekrimp en amper gaan staan.
Die klein seuntjie kyk op na my en sê, “Ek het vir pappa gesê dat hy vir mamma moet sê dat sy nie nou dadelik moet gaan nie. Sy moet so bietjie wag totdat ek terugkom van die supermark af.”

Hy wys my toe ’n baie mooi foto van homself waar hy uitbundig lag. Hy vertel my toe, “Ek wil hê mamma moet die foto van my saamneem sodat sy my nooit sal vergeet nie.” “Ek is lief vir my mamma en ek wens dat dit nie nodig was dat sy moet gaan en my agterlaat nie, maar pappa sê dat sy moet gaan om saam met sussie te wees.” Hy kyk weer af na die pop in sy hande met hartseer oë vol trane.

Ek haal vinnig my beursie uit en sê vir die seun, “Kom ons kyk weer na jou geldjies, net ingeval jy dalk genoeg het vir die pop?” “OK” sê hy, “Ek hoop ek het genoeg.” Ek het van my geld bygelas sonder dat hy dit opmerk en ons begin te tel. Daar was genoeg vir die pop en ook nog bietjie kleingeld. Die klein seuntjie sê, “Dankie, YaHWeH dat U aan my genoeg geld gegee het!” Hy kyk toe na my en voeg by, “Ek het laas nag voordat ek gaan slaap vir Yahshua gevra om seker te maak dat ek genoeg geld sal hê om die pop te koop sodat mamma dit vir my sussie kan saamneem. Hy het na my geluister!” “Ek wou ook nog ’n ekstra geldjie gehad het om vir mamma ’n wit roos te koop maar ek het nie gewaag om te veel van YaHWeH te vra nie. Maar Hy het my genoeg gegee om die pop te koop en ’n wit roos vir mamma.” “My mamma is baie lief vir wit rose.”

’n Paar minute later het die ou dame terug gekeer en ek is daar weg met my inkopie mandjie. Ek het my inkopies klaargemaak in ’n heeltemal ander gemoedstoestand as dit waarmee ek begin het. Ek kon nie die jong seun uit my gedagtes kry nie. Toe onthou ek van die artikel in die plaaslike koerant, so twee dae gelede, wat melding gemaak het van die dronk bestuurder in sy vragmotor wat die motor getref het waarin ’n jong vrou en haar dogter was. Die klein dogtertjie is opslag dood en die moeder was in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Sy was gekoppel aan ’n hart- long masjien en was in ’n koma. Daar was nie veel hoop vir haar gewees nie.

Was dit dalk die familie van die jong seun?

Twee dae na my ontmoeting met die seun in die supermark, lees ek in die koerant dat die jong vroutjie oorlede is.
Ek kon myself nie keer toe ek ’n groot bos wit rose koop en na die kapel neem waar die roudiens vir die jong vroutjie sou plaasvind nie.
Sy het so vreedsaam gelyk terwyl sy die mooiste wit roos in haar hand het met die foto van die jong seun en die pop wat op haar bors geplaas is.

Ek is daar weg met trane wat kort-kort opwel en ’n gevoel dat my lewe vir ewig verander het. Die liefde wat die jong seun vir sy moeder en sussie gehad het, is tot vandag toe, ingeëts in my geheue.

Die waarde van ’n man of vrou is geleë in wat hy of sy gee en nie wat hul in staat is om te ontvang nie....

Onbekend

No comments: