Thursday, August 26, 2010

Geniet Jou Lewe Elke Oomblik


Eendag lank gelede was daar ’n visserman wat rustig ’n middagslapie onder die boom langs die strand geniet het. Skielik is daar ’n ryk sakeman wat daar verby gaan en hy stap na die visserman en vra aan hom hoekom werk hy nie. Die arm visserman antwoord dat hy genoeg vis vir die dag gevang het om te voorsien in sy en sy gesin se behoeftes.

By die aanhoor van die argument raak die ryk sakeman briesend en vra: “Hoekom vang jy nie meer visse nie in plaas daarvan om hier in die skaduwee te lê en jou tyd te mors?”

Die visserman vra: “Wat sal ek doen as ek meer visse vang?”

Sakeman: “Die visse wat jy meer vang, kan jy verkoop en meer geld verdien. Die geld kan jy gebruik om ’n groter boot te koop.”

Visserman: “Wat sal ek dan doen?”

Sakeman: “Jy kan dan in dieper waters gaan visvang, nog meer visse vang en sodoende nog baie meer geld verdien.”

Visserman: “Wat sal ek dan doen?”

Sakeman: “Jy kan meer bote koop en ’n klomp mense in diens neem wat vir jou werk en nog meer geld verdien?”

Visserman: “Wat sal ek dan doen?”

Sakeman: “Jy kan ’n ryk sakeman word soos ek.”

Visserman: “Wat sal ek dan doen?”

Sakeman: “Jy kan dan jou lewe in rus en vrede geniet.”

Visserman: “Wat dink jy is ek besig om nou te doen?”

Les: Jy hoef nie vir môre te wag om gelukkig te wees en jou lewe te geniet nie. Jy hoef inteendeel nie ryker of mooier of slimmer te wees om jou lewe te geniet nie.

’n Vername man het eens gesê: “My rykdom bestaan nie uit die omvang van my besittings nie maar uit die geringheid van my behoeftes.”

No comments: