Thursday, July 1, 2010

Onthou waar jy vandaan Kom


Eendag lank gelede was daar ’n middeljarige man, Marius, hy was baie hardwerkend maar brandarm. Hy het in ’n lendelam hutjie gebly aan die buitewyke van die dorp.
Sy swaarkry was nie vanweë sy onvermoë om te werk of werk te kry nie, maar sodra hy ’n geldjie bymekaar het neem hy ’n ietsie vir homself om van te leef en die res deel hy met sy arm medeburgers wat nog swaarder as hy kry.

Afgesien van sy armoedige bestaan het almal in die dorpie hom gereken as ’n besonderse wyse man en indien jy ’n antwoord verlang op ’n vraag wat jou kwel kon jy maar na Marius gaan. Hy sal jou antwoord in groot wysheid.

Die koning van die land was die dag op reis deur sy koninkryk om te sien hoe dit gesteld is met sy onderdane. By die huisie van ’n arm weduwee, wat Marius besig was om kosteloos vir die weduwee te herstel, loop die koning hom raak terwyl hy onder ’n boom sit en sy karige middag maal nuttig. Een van die koning se raadgewers fluister in sy oor dat die man gereken word as ’n besonderse wyse man.

Die koning stap na Marius met die doel om hom ’n dood gewone vraag te vra en te hoor wat sy antwoord sal wees. Maar Marius was te besig om sy middag ete te geniet en te rus van die vermoeiende werk dat hy hom nie veel aan die koning gesteur het nie. Dit het die koning woedend gemaak en hy besluit om vir Marius ’n baie moeilike vraag te vrae ten einde hom vas te vra.
“Ek verstaan dat jy as baie wys geag word deur die inwoners, ek sal jou nou ’n vraag vrae en indien jou antwoord my tevrede stel sal ek ’n penning aan jou skenk.” sê die koning.

“U kan die penning maar hou, agbare koning, vra u vraag en ek sal u antwoord na my beste wete.” antwoord Marius. Die koning het sy vraag gevra en Marius het die koning ’n baie wyse antwoord gegee. Die koning het die penning voor hom neergegooi, wat Marius weer net so vir die arm weduwee gegee het.

Die koning was heimlike baie beïndruk deur Marius se wyse antwoord en wou nog meer vrae aan hom vra maar het besluit dat hy die volgende dag weer hierlangs sal kom en dan weer aan hom ’n vraag vra. Die keer sal hy aan hom ’n silwer munt aanbied vir sy antwoord.

Die volgende dag is die koning weer daar en tref Marius weer aan terwyl hy middagete geniet. Weereens bied hy Marius die munt aan, die keer ’n silwer munt, in ruil vir ’n vraag wat hy wil vra en weereens weier Marius die betaling. Die keer vra die koning ’n vraag wat betrekking het op die bestuur van sy onderdane. Marius het die vraag baie goed geantwoord. Tot so ’n mate dat die koning die antwoord laat opteken het deur sy sekretaris om dit so toe te pas in sy koninkryk. Die koning plaas die keer die silwermunt in sy hand en sê aan Marius, “Indien jy dit nie self wil gebruik nie, gebruik dit ten behoewe van die armes.” Die koning het intussen gehoor van al die welwillendheid wat Marius onder die armes doen.

Die koning het besluit dat hy hom die volgende dag weer ’n vraag sal vra, maar die keer oor die politieke sake van sy koninkryk. Die volgende dag is die koning weer daar en bied vir Marius die keer ’n goue munt aan in ruil vir die beantwoording van sy vraag. Dieselfde storie van hou maar die munt, ek sal jou verniet antwoord, speel homself weer af.

Maar die keer vra die koning aan Marius of hy nie asb. vir hom wil kom werk nie, want hy het dringend ’n baie wyse raadgewer nodig.

Marius willig in om die koning te help op voorwaarde dat hy eers die weduwee se huis klaarmaak en dan na die koning sal vertrek.

Na ’n week kom Marius by die paleis aan met sy kierie, verweerde jas en flenter ou hoed. Die koning het hom dadelik verwelkom en vinnig sy hofdienaars opdrag gegee om vir Marius nuwe klere te kry en die barbier laat kom om sy hare netjies te knip. Die hofdienaars wou sy ou klere verbrand maar Marius het geweier dat hulle dit van hom wegneem.

Marius het die koning getrou gedien en het hom van baie goeie raad voorsien. Ongelukkig was daar van die ander raadgewers wat baie jaloers was op Marius veral omdat die koning soveel vertroue in hom gestel het en die koning het besonder lief geraak vir Marius. Hulle wou graag aan die koning bewys dat Marius nie so getrou is nie en hulle het sy elke beweginkie dopgehou. Na vele dae kom hulle agter dat hy elke aand die woonkwartiere verlaat van die kasteel en afgaan na ’n kamertjie in die kelder van die kasteel en daar vertoef hy vir ’n wyle.

Die ander raadgewers het haastig na die koning gegaan en aan hom vertel dat Marius besig is met onderduimse planne en dat hulle vermoed dat hy van plan is om die koning te bedrieg en moontlik met die vyand heul. Die koning moet hulle die aand volg dan sal hulle vir hom wys waar Marius heen verdwyn sodra almal gaan slaap het.
Die aand, nadat Marius weer na die kelder vertrek toe gegaan het, kom die koning en sy ander raadgewers by die kelder vertrek aan.

Die koning probeer die deur oopmaak, maar die is van binne gesluit, hy klop aan die deur.

Marius vra, “Wie is daar?

Die koning antwoord, “Dit is ek, die koning, maak onmiddellik die deur oop sodat ek kan sien met wie jy in die geheim heul.”

Marius maak dadelik die deur oop en laat die koning en sy raadgewers inkom.

In die hoek van die vertrek hang sy ou jas en hoed oor ’n kapstok en sy ou kierie staan teen die muur.

Die koning vra, “Marius, waarmee is jy besig wanneer almal gaan slaap. Beplan jy om my te verraai?”

“Nee, koning, laat my toe om te verduidelik.” antwoord Marius.

“U sien, vandag ek in die kasteel gekom het, het u my geklee in die beste klere en ek het elke maaltyd aan U tafel geëet, die beste kosse wat daar te kry is. Ek voel so gerieflik in die heerlike bed waarin ek slaap. Ek voel so geëerd oor die respek wat u aan my betoon en die mag wat u aan my toevertrou.
Te midde van al die prag en praal is dit baie maklik om hoogmoedig te word.
Daarom kom ek elke aand na die kelder vertrek en trek weer my ou jas aan en sit my flenter hoed op vir ’n wyle sodat ek nooit sal vergeet waar ek vandaan kom en dat ek nooit sal vergeet van hulle wat ook my lot gedeel het nie. Dit hou my nederig sodat die hoogmoed van die lewe my nie sal oorheers nie.”

No comments: