Monday, July 26, 2010

My Nuwe Kruik


Fanie Vaas loop vir Kallie Kruik raak op die markplein.
“Wat het met jou gebeur?” vra Fanie. “Verlede week toe ek jou nog gesien het, was jy ’n baie stukkende en gehawende kruik gewees en kyk hoe lyk jy nou! Jy is splinternuut en pragtig versier. Vertel my tog asseblief jou geheim?” Pleit Fanie by Kallie.

“’n Vriend van my het opgemerk hoe stukkend en gehawend ek is en gevra of ek nie nuut wil word nie? Ek het onmiddellik ja gesê, want ek het vir myself al baie lelik begin lyk. My vriend het my vertel van die Meester Pottebakker, wat enige kruik, vaas of pot nuut kan maak. Wel, ek kon nie anders as om dit te glo nie, want my vriend was maar self baie gehawend, vol krake en gate, inteendeel het hy nog baie erger as ek gelyk.
Maar nou, moet jy hom sien, die toonbeeld van skoonheid!” vertel Kallie baie opgewonde.

Kallie gaan voort, “My vriend het gesê, daar is ’n voorwaarde, ek alles sal moet doen wat die Meester Pottebakker my beveel, maar bowenal sal ek Hom totaal moet vertrou.”
Dit het vir my maklik genoeg geklink, terwyl ek my vriend aanpor dat ons moet gaan na die Meester Pottebakker se huis.”

“My vriend het nog probeer verduidelik dat daar ’n paar ander voorwaardes aan verbonde is, maar ek was te angstig om nog daarna te luister. Ek wou net by die Pottebakker uitkom, sodat ek ook nuut en mooi kan wees.”
“My vriend het my dadelik aan die hand geneem en gelei na die Meester Pottebakker se huis.”

Fanie Vaas het met elke nuwe brokkie inligting wat Kallie aan hom vertel het besef regtig hoe gehawend en stukkend hy werklik is. Hier diep in sy hart het hy die roering begin voel dat hy ook graag wil hê wat Kallie gekry het by die Meester Pottebakker.

“Maar Fanie, die ontmoeting met die Meester Pottebakker, was glad nie wat ek verwag het nie, laat ek jou vertel.” vertel Kallie verder.

“By die Meester Pottebakker se huis was ek verbaas om te sien dat daar heelwat kruike, vase en potte was wat gewag het om die Pottebakker te sien. Maar die meeste van hulle het na ’n klein rukkie nadat hulle die Pottebakker gesien en met Hom gepraat het, omgedraai en weggegaan. Ek kon dit nie verstaan nie. Al die kruike, vase en potte wat gewag het om die Pottebakker te sien was lelik en vol gebreke. Wie sou nie nuut gemaak wil word om soos ’n nuwe pottebakkers werk te wil lyk nie?”

“Na ’n rukkie was dit my beurt om in te gaan en die Meester Pottebakker te sien. My vriend het my daar gelos en gesê hy kan nie verder saamgaan nie, want die gesprek wat ek met die Pottebakker gaan hê is net tussen Hom en my.
Die Meester Pottebakker was wonderlik. Vanaf Hom het daar ’n wonderlike genade en liefde uitgestraal wat geeneen sal verstaan wat nog nie voor die Meester Pottebakker gestaan het nie.”

“Hy was so vriendelik en het my baie gou op my gemak laat voel. Na ’n paar sekondes se gesels het dit vir my gevoel of ek Hom al my hele lewe lank ken.”
“Die Meester Pottebakker het aan my gevra of ek weet wat dit alles behels om nuut gemaak te word. Ek het gesê, “Nie eintlik nie, want my vriend wou nog probeer verduidelik maar ek was te haastig om by U uit te kom. Ek het glad nie geluister na wat my vriend my nog wou vertel nie. Die begeerte om U te sien en nuut gemaak te word, was te oorweldigend om verder te luister.”

“Jy sal nou baie mooi moet luister wat Ek jou gaan vertel,” sê die Meester Pottebakker, “en dan sal jy moet besluit of jy My totaal gaan vertrou.”

Ek het so effe begin bekommerd raak want ek het nie geweet wat die Pottebakker alles van my gaan verwag nie.

Die Meester Pottebakker het in ’n ernstige stemtoon die proses van nuut maak aan my begin verduidelik.

“Kallie, jy moet besef dat Ek nie jou bestaande stukkende erdewerk kan gebruik om jou oor te doen nie. Enige nuwe klei wat Ek om jou sit om jou oor te maak sal nie hou nie, dit sal net afval en verbrokkel. Dit wat onder die nuwe klei is, sal steeds vol krake en gate wees. Die enigste manier is dat Ek jou stukkend breek en van nuuts af maak.”

Ek het baie groot geskrik, wat as dit nie werk nie? Dan is ek tot niet, net ’n hoop erde stukke. Skielik het ek begin verstaan hoekom so baie kruike, vase en potte omgedraai en weggeloop het.

Die Pottebakker het aangegaan. “Ek kan nie op jou ‘eie gebreekte ek’ bou nie. As ek jou nuut maak is dit op die beeld wat ek aan jou sal gee sodat jy ’n spieëlbeeld van my handewerk is, want jy moet van My getuig en nie van jouself nie. Jy sal hierna My etiket dra. Maar Ek dwing jou geensins nie, dit bly steeds jou keuse. Die enigste voorwaarde is dat jy My onvoorwaardelik moet vertrou en in My glo.”

Dit was ’n groot keuse om te maak, ek sal nie meer die ou Kallie wees nie, maar die Pottebakker het my verseker dat ek ’n nuwe Kallie sal wees.

In my hart het ek reeds geweet wat my keuse sou wees want ek kon nie verder aangaan met my barste en krake nie en Sy versekering het die kwellinge in my gemoed laat bedaar. Ek kon nie anders as om onvoorwaardelik in Hom te glo nie.

Ek sal Hom vertrou met my hele gebreekte self.

Maar die Meester Pottebakker het nie hier opgehou nie. “Kallie, jy moet besef dat die nuut maak proses bestaan uit ’n hele paar fase uit. Die eerste is sekerlik die moeilikste en dit is dat Ek jou breek en van voor af begin. Daarna neem ek nuwe klei en begin jou te vorm en maak op My pottebakker wiel soos Ek goed dink.
Jy sal nie besluit hoe jy wil lyk nie, dit sal alles My besluit wees, want Ek weet reeds wat is die beste vir jou.”

“Nadat Ek jou klaargemaak het, sal ek jou eenkant plaas om eers mooi wind droog te word. Dit kan ’n hele wyle neem. Ek besef dat nadat jy as nuwe kruikie gemaak is, sal jy graag wil rondloop en aan almal gaan vertel wat Ek aan jou gedoen het. Jy sal baie opgewonde wees oor jou nuwe ‘jy’.
Maar dan het die proses maar eers begin. Jy sal in die wind-droog toestand baie swak wees en die geringste stampie deur ander wat nie hou van ‘nuut gemaakte’ kruikies nie, kan jou maklik breek en beskadig.”

“In die toestand is jy ook nie regtig goed vir enige werk of take wat Ek aan jou mag opdra nie, jy kan nie eens water hou nie, want dit sal eenvoudig net deur syfer deur jou poreuse klei.”

“Ek het gedink dit was net ’n kwessie van maak ’n nuwe kruik en versier dit en dit is dit.” het ek benoud aan die Pottebakker gevra.

Fanie, wat steeds aandagtig luister na my hele vertelling is al omtrent bleek om sy
klei-vaas kiewe. Maar die vooruitsig om ook nuut te word hou hom gevange in die vertelling.

Kallie gaan voort met die vertelling van sy gesprek met die Pottebakker, “Met ’n hees stemmetjie het ek aan die Meester Pottebakker gevra, “Meester, wat lê daar nog alles voor, voordat ek ’n mooi pragtige kruikie kan wees soos my vriend wat my hiernatoe gebring het?”

Met ’n sagte en tere stem antwoord die Meester Pottebakker my. “Kallie, indien jy genoeg geduld aan die dag lê en jy is klaar wind-droog dan sal Ek jou in die vuuroond plaas waarin jy gebak sal word sodat jy lekker hard en sterk kan word. Daardeur word al jou klei stukkies aanmekaar verbind sodat hulle ’n eenheid vorm.”

“Ongelukkig is daar nie ’n ander manier waardeur jy sterk gemaak kan word nie behalwe om deur die vuur te gaan waarin ek jou sal plaas nie.
Om deur die vuur te gaan, sal vir jou ’n beproewing wees en dit is nie aangenaam nie, maar daardeur sal Ek kan sien of jy van die regte stoffasie is en of jy waardig is om deur my versier te word.
Ek sal nie toelaat dat die vuur langer brand as wat nodig is nie, maar onthou, Ek is die een wat jou gemaak het en Ek weet wat jy kan verduur. Ek sal nie toelaat dat daar ’n groter vuur teen jou kom as wat jy kan verduur nie.”

“Jy sal moet vashou en glo in My, maak nie saak hoe erg die vuur teen jou brand nie.”

Ek was baie benoud, want ek het nie geweet of ek die krag en die deursettingsvermoë sal hê om staande te bly wanneer ek in die vuuroond geplaas word nie. Maar in my gedagtes het dit rondgemaal, kan dit erger wees as die stukkend slaan deur die Pottebakker voordat Hy my kan vernuwe?

Sy vertroostende hand wat Hy op my plaas gee my nuwe moed en ek sê, “Dis reg Meester, maak U en vorm my na U wil en goeddunke, al moet ek deur die vuuroond gaan om sterkte en duursaamheid te verkry.”

“Ek is bevrees dit is nie al nie Kallie.” hoor Ek sy sagte stem fluister. “Daarna, sal ek jou verf met die mooiste en pragtigste kleure en patrone.”
“O, maar dis die gedeelte waarna ek vreeslik uitsien Meester, wat kan dan so erg daaraan wees om geverf en versier te word?”

“Nee, Kallie die verf en versier is die lekker en maklike gedeelte, maar jy sal weer in die vuuroond moet gaan om die verf hard te laat bak en dat dit so in jou intrek dat dit deel is van jou. Indien dit nie gebeur nie sal die verf vinnig verbleik en die besoedeling van die wêreld sal dit baie gou aantas en beskadig.”

“Weer in die vuuroond? Hoeveel keer sal ek nog in die vuur moet gaan Meester?”

“Tot ek dink jy is sterk en suiwer genoeg. Maar onthou wat ek jou belowe het. Ek sal jou nie meer laat brand as wat jy kan verduur nie.” kom Sy tere antwoord

“Wanneer jy daar uitkom sal jy hard en solied wees en geen vuur sal jou enige skade kan berokken nie, want jy is beproef en bevind dat jy waardig is om ’n maaksel van die Meester Pottebakker te wees.”

Fanie het lank gesit en kyk na die liefde en heerlikheid wat daar uitstraal uit Kallie se gesig terwyl hy vertel van sy ‘nuut’ making.

Fanie staan op en sê aan Kallie. “Kom my vriend, neem my na die Meester Pottebakker want ek wil ook nuut gemaak word en straal van Sy heerlikheid soos jy.”

Staan jy vandag nog en wonder of jy kans sien vir die werk van die Pottebakker?

Moenie talm nie want die tyd om nog na Hom te gaan raak baie min.

JES 64:8 : Maar nou, JaHWeH, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van U Hand.

JER 18:6 : Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van JisraEl? spreek JaHWeH. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in My Hand, o huis van JisraEl!

No comments: